Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Groot knou vir kunstenaars, meeste is vryskut
Saartjie Botha

Soms kan die show net nie voortgaan nie. Die Suid-Afrikaanse kunstegemeenskap steier weens die afstel eers van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, maar ook die sluit van gewone teaters landwyd nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand ’n ramptoestand weens Covid-19 aangekondig het.

“Die kunste is reeds ’n van-die-hand-na-die-mond-bedryf en as mens daarop let dat die meeste kunstenaars vryskut is, dan besef ’n mens die omvang hiervan,” sê Saartjie Botha, hoof van die Toyota US Woordfees, kort nadat die nuus bekend gemaak is dat die KKNK afgestel is.

“Dit is verpletterende nuus. Daar is regtig geen vet in die kunste- en feesbedryf nie. Daar is nie geld nie, mense dink feeste het ’n begroting, daar is nie, dit moet jaarliks van nuuts af deur borgskappe geskep word.”

“Al wat ons kan doen, is om die jaar anders te benader, om op die kunstenaars te fokus en te help byvoorbeeld om kos en huur te betaal, daar waar koste reeds aangegaan en nou verlore is. Dit gaan nou oor die bereidwilligheid om te help en daar is netwerke aan die ontstaan,” sê Botha.

Schalk Bezuidenhout en die vervaardiger Erns Grundling.

In ’n verklaring Maandagoggend waarin aangekondig word dat die Fugard-teater in Kaapstad weens die virus sluit, het Lamees Albertus, hoof van die teater, ’n beroep op die publiek gedoen om die koste van hul kaartjie te skenk aan die akteurs en nie vir ’n terugbetaling te vra nie.

“Hierdie virus kan die kunste doodmaak. Die oorlewing van tallose kunstenaars is nou op die spel.” Die teater is soos ander Kaapse teaters gesluit nadat die president Sondagaand enige byeenkoms met meer as 100 mense verbied het.

Die Baxterteater is tot einde April gesluit en vra ook dat mense asseblief die kaartjiepryse moet skenk om kunstenaars te help.

Twee produksies waarby hy betrokke is vir die KKNK en moontlik drie vir die Suidoosterfees gaan in die slag bly, sê Frazer Barry van Tribal Echo-faam, die musikant wat saam met sy wederhelf, Deniel Barry, hul eie onderneming bedryf.

“Dit is naastenby drie maande se salaris. Dit is ’n wekroep vir ons kunstenaars, dat ons ons geldsake reg moet bestuur. Nou het ons ook die geleentheid om werk behoorlik klaar te maak en ons kreatiwiteit uit te leef. Ons is mos nie Hollywood nie. As dit langer as drie maande duur, gaan dit sukkel, dan sal ek moet visvang.”

Frazer Barry

Hy meen ook daar moet daarna gekyk word dat produksies ’n langer leeftyd en ook meer platforms het.

Kunstenaars is vindingryk en vol inisiatief, soos nou reeds weer bewys is, meen Botha. “Daar is reeds idees wat rondgaan om aan te hou kuns skep, maar dit anders aan te bied byvoorbeeld radiouitsendings van konserte en om werk op sosiale platforms uit te reik.” Oorsee speel orkeste ook voor leë sale en stroom die konserte.

Die vervaardiger Erns Grundling, wat onder meer Schalkie en Cassie hou konsert na die Karoofees toe sou neem, beaam dit. “In hierdie onseker en angstige tye het die publiek sekerlik steeds ’n behoefte aan lag en humor. Ons probeer met vindingryke oplossings vorendag te kom, soos om hopelik binnekort ’n aanlyn vertoning aan te bied, wat mense in die veiligheid van hul eie huise kan kyk.”

Mense vergeet ook van die sekondêre bedrywe wat rondom feeste werk en ook geraak word, sê Botha. “Ek dink nou aan die tegniese ondersteuningsdienste, die verhuringsmaatskappye van byvoorbeeld tente en toilette.”

Ander omgewings word net soos die kunste geraak, “almal se knieë is nerfaf, dit is ’n hinkepink jaar wat vir ons voorlê”.

Waar sy program tot 2 Mei stampvol was, en hy nie sy draaie kon kry nie, is sy program binne ’n dag dolleeg, so sê Johan van der Merwe van Theatrerocket, wat onder meer die drama Valsrivier vervaardig wat by die pas afgelope Woordfees uitverkoop was. Die produksie Kamphoer, waarvoor daar reeds R200 000 se kaartjies vir die opkomende KKNK verkoop is, is gekanselleer asook hul twee produksies wat deel sou wees van die fees se Uitkampteater. Daarvolgens speel die akteurs vir die inkomste by die deur.

“ ’n Mens kan nie in sak en as sit nie, jy gaan gek word. Ons kom reeds saam om aan kleiner nuwe projekte te werk, dan gaan ons kyk of ons ons een-tot-een-teater (die bekroonde Deurnis) iewers kan opvoer, want dit behels mos net een akteur wat vir een gehoorlid speel.”

Hy vertel hoe akteurs reeds hul dienste aangebied het om as kinderoppassers te werk vir werkende ouers, nadat skole en kleuterskole sluit weens die uitbreking van Covid-19.

Die aktrise en sanger Bianca Flanders het ook reeds op Facebook haar dienste as tuisversorger aangebied.

“Ons het met skole geskakel oor ons produksie vir die ATKV se Tienertoneelkompetisie en gaan in klein groepies met leerlinge begin werk,” het Van der Merwe gesê.

Die sluiting van gewone teaters ná die president se aankondiging was ’n verdere, dog verwagte slag. “Ons produksie Koekeloer, vir die Staatsteater in Pretoria, is nou ook van die baan. Akteurs soos Juanita de Villiers en Drikus Volschenk, wat in sepies speel, het spesiale verlof gevra om daarin op te tree en ander akteurs het werk van die hand gewys om daarin te wees.” Dit geld nou Maart en April. “Als is in die weegskaal, niemand weet tog hoe lank die pandemie gaan duur nie.”

Die Suidoosterfees, Vryfees in die Vrystaat, die Nasionale Kunstefees op Makhanda en Innibos in Mbombela kan dalk ook later vanjaar in die gedrang kom, meen hy. “Niemand weet hoe lank dit gaan duur nie, dit maak beplanning so moeilik. Die wens is dat dit so gou moontlik verbygaan,” sê Van der Merwe.

Meer oor:  Kunste  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.