Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Harmonie in Covid-tyd op fees in Heidelberg

Terwyl alles en almal in die kunste dinge verklein, doen Niël Rademan dinge vanjaar groter. Die Hessequa Harmoniefees in Heidelberg (Kaap), wat hy vier jaar gelede met net ses aanbiedings begin het, gaan vanjaar vyf dae duur en 23 aanbiedings is op die program.

Sandra Prinsloo in ‘Oskar en die pienk tannie’. Foto’s: Verskaf

Van klassieke musiek en ’n solostuk met Sandra Prinsloo tot ’n jenewer-aand en ’n piekniekkonsert met Jak de Priester sal die dorp van 21 tot 25 September op sy kop keer.

Gevra hoe hy dit regkry om in hierdie onseker tyd so ’n indrukwekkende program op te stel, sê hy: “As die kunstebestuurder en kunstenaars iets vir die publiek wíl bied, sny ons die koek (geld) net in dun snytjies en dan hou ons partytjie.”

Volgens hom is die publiek uitgehonger vir lewende op- en uitvoerings en die volle Covid-19-kwota van 50 teatergangers vir elke konsert het verlede jaar opgedaag.

Hy voeg by dat “die kunstenaars besonder tegemoetkomend en ekstra mededeelsaam met hul vaardighede is”.

“Hulle het erkenning en applous nodig en ons bied dit. Al is die beloning net ’n dun snytjie van die geldkoek is dit beter as geen optredes.”

Dis dalk onregverdig om Rademan vir hoogtepunte op vanjaar se fees te vra, maar hy sonder tog Prente op ’n uitstalling uit. Die pianis Nina Schumann sal dié grootse werk van Moessorgski uitvoer, waarvoor Wilken Calitz ’n teks geskryf het en die akteur en Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk as verteller sal optree.

Die pianis Elna van der Merwe sal verskeie musici bystaan en as solis saam met ’n blaasorkes optree.
Hannes van Wyk, die verteller in ‘Prente op ’n uitstalling’.

Rademan is ook opgewonde oor Elna van der Merwe (klavier), wat Gershwin se Rhapsody in Blue saam met die Universiteit Stellenbosch se simfoniese blaasorkes gaan speel. Dis haar eerste optrede in baie jare saam met ’n orkes.

Dit is twee van vyf uitvoerings in die Rupert- klassieke musiekreeks, waarin ook Edward Elgar se Cello Concerto met Peter Martens en Max Bruch se Violinekonzert nr. 1 met Petrus de Beer gehoor kan word. Van der Merwe staan albei soliste op die klavier by.

Diegene wat Prinsloo nog nie in die hartroerende Oskar en die pienk tannie deur die Franse skrywer Érik-Emmanuel Schmitt gesien het nie, moet die kans aangryp. Prinsloo lewer hierin ’n onvergeetlike kragtoer.

Op die boekefront sal Elsabé Daneel die skrywers Dana Snyman en Irma Joubert aan die gesels kry, terwyl Kabous Meiring, aanbieder van die TV-program Megaboere, met Ivor Price en Kobus Lourens oor hul boek, Vir die liefde van die land, sal gesels.

Die tema vir die kunstentoonstelling in die geskiedkundige Fouriehuis, met Anne-Ghrett Erasmus as kurator, is #Mooi en sal werke van onder andere Varenka Paschke, Ronel Human en Marinda du Toit insluit.

Vanjaar is daar ook leefstylaanbiedings, wat ’n kombinasie van jenewer en kos behels, asook kaas en wyn, pizza en bier, en ’n “bubbles-en-braai-aand”.

  • Die volledige program is by www.hessequaharmonie.co.za te kry. Bespreek op CN&CO Events se webwerf en hou in gedagte dat Covid-19-maatreëls net ’n beperkte getal kaartjies per vertoning toelaat.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.