Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Heidelberg kry eersdaags musiek- en woordfees

Niël Rademan het sy eie kunstefees begin. Dit staan bekend as Hessequa Harmonie en word van 25 tot 30 September in Heidelberg gehou.

Die streek waarin die dorp is, val saam met Albertinia, Gouritz, Jongensfontein, Riversdal, Slangrivier, Stilbaai en Witsand onder die Hessequa-munisipaliteit.

Rademan was vier jaar lank en tot onlangs die feesdirekteur van die Suidoosterfees. Hy bied reeds geruime tyd self en met ander kunstenaars produksies aan in die Dasjesdrift-teater buite Heidelberg.

Elna van der Merwe

“Ek is baie lank al bewus van die potensiaal wat Heidelberg het vir ’n fees van hierdie aard. Die idee is dat toeganklike klassieke musiek en woordkuns wat by mekaar aansluit, gehuisves sal word,” sê hy.

Vir die eerste fees het hy ’n formidabele groep kunstenaars gekry.

Die pianis Jan Hugo en sy vrou, Clara (sopraan), kom spesiaal van Frankryk af om op te tree. Ook op die program is die pianis Elna van der Merwe, Piet de Beer (violis), Stanislav Angelov (trekklavier), Schalk Joubert (baskitaar), Elsabé Daneel (woordkuns), Wilken Calitz (viool), Peter Martens (tjello), Suzanne Martens (viool), Wim Vorster (woordkuns) en die Suid-Afrikaanse soprane met Amanda Osorio, Janel Speelman, Jolene McCleland, Lauren Dasappa en Leah Gunter.

Peter Martens

“Ek wil soveel moontlik plaaslike medewerkers op alle vlakke by die fees betrek,” sê Rademan.

“Daarom is ek baie bly dat ons die plaaslike groep Melodika het vir optrede.”

Die groep bestaan uit Annatjie Uys (harp), Rachel Steyn (tjello), Christelle Gildenhuys (dwarsfluit) en Me­rinda Uys (klavier en tjello).

Hy is veral opgewonde oor die uitvoering van Rachmaninoff se derde klavierkonsert, wat Hugo en Van der Merwe op twee klaviere gaan uitvoer.

Elsabé Daneel

Die lokale wat gebruik gaan word, is die stadsaal, die Heidelberg- openbare biblioteek – wat op 25 September 25 jaar oud is – die Heidelberg-hotel en die historiese Kongregasionalistiese Kerk-gebou.

Daar is in dieselfde tyd ook verskeie feesvierings rondom die biblioteek se verjaardag (onder leiding van Jannette du Plessis).

Die fees gaan voortaan jaarliks gehou word. Rademan hoop om in die toekoms nog ’n dramakomponent en jeugteater in te sluit. Klassieke musiek sal egter altyd die hoofelement van die fees wees.

Rademan kom oorspronklik van Heidelberg en volgens hom was hy altyd vol bewondering vir die bekendes in die literatuur en die kunste wat in die omgewing gewoon of daar kom vakansie hou het, onder wie Ingrid Jonker, Uys Krige, Breyten Breytenbach, Marienne Uys en Ernst Eloff.

“Ek sien die fees as bykomend tot ander feeste wat reeds gehou word. Die streek waar dit gehou gaan word, het tans nie so iets nie en hier is soveel mense wat graag deel wil wees van ons kultuurlandskap.

“Hessequa beteken ‘mense van die bome’ en dit dui ook sommer op hoe diep gewortel hulle in hierdie deel van die land is.”

Vir meer inligting oor die program en om te bespreek, asook vir inligting oor verblyf, skakel met Heidelberg se toerismekantoor by booki ngs@heidelberginfo.co.za of met Ria Dell by 071 091 3510.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.