Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Hessequa Harmonie gaan voort

Die organiseerders van Hessequa Harmonie in Heidelberg in die Wes-Kaap het besluit om volstoom met vanjaar se fees voort te gaan.

June van Merch Foto: Antonia Steyn

Volgens Niël Rademan, wat die fees in 2018 gestig het, wou hulle van meet af aan probeer om nie die fees weens die Covid-19-pandemie en die staat van inperking af te stel nie omdat hulle die afgelope drie jaar berge versit het om ’n “ritme en gehoor” op die dorp op te bou.

“Plattelandse gehore is honger vir tasbare opvoerings en uitvoerings, al is dit piepklein aanbiedinge,” sê hy.

“Ons mense het hoop en liefde en iets moois nodig. Dié jaar fokus die fees daarop om die lewe vir mense onder die omstandighede mooi en mooier te maak, al is dit vir ’n uur of wat.”

Hy sê die fees gaan nie digitaal aangebied word nie omdat mense ’n behoefte het “aan behoort, aan uitkom, om te gesels en iets moois saam met mekaar te beleef, al is dit in klein groepe onder veilige, wettige omstandighede”.

“Die fees sal onder die voorgestelde maatreëls van die regering aangebied word, soos die regte afstand tussen mense in die betrokke venues, ontsmet van kroon tot toon.”

Die fees sal onder die voorgestelde maatreëls van die regering aangebied word, soos die regte afstand tussen mense in die betrokke venues, ontsmet van kroon tot toon.
Niël Rademan

Hy sê kunstenaars, personeel en konsertgangers se koors sal voor elke vertoning gemeet word, almal wat ’n venue binnekom sal hul besonderhede moet neerskryf en maskers sal verpligtend vir almal behalwe die kunstenaar op die verhoog wees.

“Dit is nie ’n totale pre-Covid-fees nie, maar wel ’n maskerade in die kleine – met slegs vonkelwater en ys wat in glase sal rinkel.”

Die fees begin op 15 September met die kunsuitstalling Mense van die bome. Die uiteenlopende versameling, onder kuratorskap van Anne-Ghrett Erasmus, gaan skilderye, keramiek en ’n beeld of twee deur onder andere Eben van der Merwe, Anthony Harris en Gerhard Swart insluit. Dit sal tot 25 September besigtig kan word.

Liesl Stolz

Op 16 September begin Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, die dag se verrigtinge met die gesprek “Landbou in die toekoms: Familieboerderye”.

Daarna volg twee vertonings van die toneelstuk Die dinge van ’n kind met Cintaine Schutte in die hoofrol, asook twee musiekkonserte: In Allerliefste Breyten Breytenbach gaan Ilzebet O voorlesings doen terwyl Rademan en Wilken Calitz musiek maak, en in Wals met Wene gaan klassieke musiek danksy Janel Speelman (sopraan), Liesl Stolz (fluit), Corneil Muller en Rademan (baritons), Petrus de Beer (viool) en Elna van der Merwe (klavier) in die kollig wees.

Hoogtepunte op 17 September sluit Boeke brekfis met Elsabé Daneel, Riana Scheepers en Muller (tjello en sang) in, asook die musiekteaterkonsert Poskaarte na Parys met Jacobi de Villiers (alt) en Van der Merwe.

Prof. Nina Schumann sluit die dag met Sergei Rachmaninoff se uitdagende “Tweede klavierkonsert” af. Van der Merwe gaan haar op ’n tweede vleuelklavier begelei.

Van der Merwe sal weer op 18 September saam met Linette van der Merwe (mezzosopraan) en Chris Mostert (tenoor) in Broadway brekfis te sien wees.

Twee van Schumann se studente sal ook uithaal en wys in Prof. Nina’s Protégés, voordat Rademan, Muller en Lucas Heinen (klavier en trekklavier) ligte musiek in Heimwee uitvoer.

Janel Speelman
Petrus de Beer

In Boeke koeke op 19 September gaan Daneel vir Calitz en Theo Kemp pols oor die moderne Afrikaanse skryfkuns – en wie en wat lesers moet lees.

Daarna mag feesgangers nie die vertoning Bientang: “Die laaste strandlopervrou van die Suid-Kaap” misloop nie. June van Merch gaan teks deur Scheepers voorlees. Die vertoning sluit ’n nuutgeskepte regstreekse klankbaan in, asook skaduspel wat deur Lindi-Heila Smit ontwerp is.

Talle van die kunstenaars wat tydens die fees opgetree het, sal die fees dan amptelik in Afsluitingspiekniek op ’n hoë noot afsluit.

  • Kaartjies vir die aanbiedinge kos tussen R130 en R250. Dit kan kontant by Die Rooi Pot of Delish in Heidelberg gekoop word. Bespreek ook aanlyn by www.cnandcoevents.com. Besoek www.hessequaharmonie.co.za vir meer inligting of stuur ’n e-pos aan Rademan na niel.rademan@gmail.com.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.