Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Invloed van Vrystaatse Kunstefees kring wyer uit
Ricardo Peach, direkteur van die Vrystaat Kunstefees.

Die Vrystaatse Kunstefees poog om hom as een van die belangrikste internasionale kunstefeeste op die Afrika-vasteland te vestig. Johan Myburg berig oor die fees se kunsprojekte.

Jaarliks, wanneer die winter sy byt stewig in Bloemfontein ingekry het, is dit tyd vir die Vrystaatse Kunstefees: met teaterproduksies en die hele spektrum visuele kunste en literatuurgesprekke en wat nie al nie, en bowenal ’n feesatmosfeer, veral op die kampus van die Vrystaat Universiteit.

Dit is die gestalte wat die Vrystaatfees vir baie mense het. Die omvattende program wat jaarliks saamgestel word, ís uiteraard die openbare “gesig” van die fees waardeur gehore vermaak word, en terselfdertyd genoop word om te besin oor die soort wêreld waarin ons woon.

Dit is die uitruil van gedagtes op verhoë en in galerye en in gesprekslokale wat binne die konteks van voortreflike kuns aan die fees die motto besorg het: “Een fees. Baie stories.”

’n Optrede gedurende ’n vorige Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein.

Dié paar wintersdae in Bloemfontein is egter nie die somtotaal van die Vrystaatse Kunstefees se bydrae tot die uitruil van idees omtrent kuns, kultuur en die gemeenskap nie. Daar is die afgelope vyf jaar gewerk aan ’n magdom projekte om gestalte te gee aan die fees se strategie om wyer as die feesweek ’n beduidende rol te speel deur middel van kreatiewe intervensie, en deur plaaslike sowel as buitelandse kunstenaars te gebruik. In die bereiking van dié ideaal smee die fees ook bande met Engelse en Sotho-taalgroepe.

Die projekte of inisiatiewe het ten doel om die trefkrag van die kreatiewe sektor in die Vrystaat aan te moedig en Bloemfontein as een van die kreatiewe sentrums op die vasteland te vestig.

“Die Vrystaatse Kunstefees, in wese ’n Afrikaanse fees, is besig om hom as een van die belangrikste internasionale kunstefeeste op die Afrika-vasteland te vestig,” sê Ricardo Peach, direkteur van die fees.

Wêreldwyd het die afgebakende kunste-dissiplines van toneel, skilder- en beeldhoukuns, letterkunde, rolprentkuns en argitektuur (om maar die geyktes te noem) die afgelope paar dekades vervaag en al meer begin skuif om interdissiplinêre kunspraktyke tot stand te bring wat alles kan insluit – van eietydse kultuur tot nanotegnologie, van ervaring aan die vel tot konseptuele kuns, van nuwe maniere om sin te maak van ? veranderende wêreld tot ’n nuwe lewe blaas in ou, gevestigde praktyke.

Kuns skakel met gemeenskappe

Die program vir innovering in kunsvormontwikkeling (Piko) waarmee die Vrystaatse Kunstefees in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat (UV) vorendag gekom het, en toe gefinansier is deur die Andrew W Mellon-stigting in New York, wil juis met dié internasionale neigings rekening hou en veral maniere vind waarop die kunste kan skakel met gemeenskappe én tot die voordeel van gemeenskappe kan wees. Piko het in 2014 tot stand gekom, die jaar waarin ’n VN-verslag aangedui het dat Afrika se aandeel tot die wêreldwye ekonomie uit die kreatiewe sektor op 1% te staan kom.

Met dié gegewe in gedagte het Piko hom begin toelê op interdissiplinêre kunstenaarsresidensieprogramme, interdissiplinêre kunstelaboratoriums, indringende gesprek oor dissiplines heen, en Suid-Afrika se eerste Eerste Nasies-program.

In samewerking met die Australiese Kunsteraad en die ervaring binne die Australiese Aborigine-konteks is die oogmerk om met dié Eerste Nasies-program respek en waardering te kweek vir “Kumm” wat beteken verhaal, geskiedenis, mite of enigiets noembaar in die !Xam-Boesman-taal.

’n Optrede gedurende ’n vorige Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein.

Eksperimentele programme

Daarby fokus Piko op kruis-kulturele en eksperimentele kunsteprogramme wat ’n kreatiewe bydrae sou kon lewer met ’n vars blik op die Suid-Afrikaanse gemeenskap.

nTerrein waar ’n mens die kunste nie somaar sou verwag nie, is die gesondheidsektor. Met die totstandkoming van die Piko se Vrystaat- kunste en gesondheidsprogram is die oogmerk om die kunste, of dit nou skilder of dans, of toneel of advertensies is, in te span met die fokus op bewusmaking van die belang van gesondheid.

Een van die projekte wat verlede jaar aangepak is, is reeds in sy tweede fase: “Gedigte teen Stigma II”. Ses aspirant-skrywers het onder leiding van Thuthukani Ndlovu as fasiliteerder gedigte en prosa geskryf wat voorgelees kon word, oor enige gesondheidskwessie wat as stigmatiserend gesien kan word.

Toegang vir almal

Hoewel die feesterrein sentraal geleë is in Bloemfontein, het nie alle gemeenskappe geredelik toegang tot die fees nie. Om kuns na openbare ruimtes te neem is Pap, ’n openbare kunste-projek en Vry-wees in die lewe geroep.

Pap is afgestem op kruiskulturele blootstelling, die ontginning van plekke waar stedelike verval ingetree het en om straks herlewing in dié gebiede te stimuleer. Dit is gerekende kunstenaars, plaaslik sowel as internasionaal, wat vir dié projekte ingespan word, soos byvoorbeeld die Kaapse performance-kunstenaar, beeldhouer en rolprentmaker Francois Knoetze.

Benewens kunsprojekte wat grootliks gemik is op gemeenskaps- en ook gehoorontwikkeling vir toekomstige deelname kry kunstenaars die geleentheid om uit te blink. En die vrugte te smaak van heelwat van die Piko-inisiatiewe.

Sethembile Msezane, die Kaapstadse kunstenaar wat in 2015 aandag getrek het met haar performance-stuk Chupungu: The Day Rhodes Fell op die kampus van die Universiteit van Kaapstad – n werk waarin sy ure lank in die son gestaan het, arms gestrek as beliggaming van die gees van die Zimbabwe-voël – is een van dié kunstenaars.

In 2014 was Msezane een van die eerste deelnemers van die eerste OPENLab, ’n nasionale kunste-residensie wat gemik is op omgewingspesifieke werk binne interdissiplinêre kunspraktyk. Saam met die Vrystaatse Kunstefees en UV steun die Andrew W Mellon-stigting en MAP (Modern Art Projects), wat in Richmond ’n tuiste het, nou dié projek.

Voortvloeiend uit haar deelname aan die 2014 OPENLab het Msezane uitnodiging gekry om deel te neem aan ’n soortgelyke Australiese inisiatief en om op te tree in Melbourne waar sy benoem is vir die Live-Art-prys op die Anti-Festival in Finland.

Volhoubaarheid van fees

Die volhoubaarheid van die Vrystaatse Kunstefees hang grootliks van dié projekte en inisiatiewe af.

Ja, kan ’n mens aanvoer: dit is ter wille van oorlewing van die fees. Maar dan is dit ook ter wille van oorlewing van die mens se gees, en ter wille van die voortgang van kreatiwiteit en innoverende denke en eindelik van verbreding van horisonne.

In plaas daarvan om net die beproefde kunstefeesmodel te handhaaf stel die Vrystaatse Kunstefees sy visier op die wêreld daar buite, op die manier waarop mense se lewens beïnvloed kan word.

Met die doel om op die ou end ’n Afrikaanse fees te wees met produksies wat in enige taal sin én ’n verskil sal maak.

Die Vrystaatse Kunstefees word van 1 tot 7 Julie in Bloemfontein aangebied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.