Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Kaapstadse stadskom blom met kuns, dans en teater
Kitty Phetla, vanjaar se Standard Bank Jong Kunstenaar vir dans, tree in die hoofprogram op saam met die pianis Nduduzo Makhathini op 18 en 19 November om 17:30.

Dansers wat vertikaal teen ’n gebou in Langstraat, Kaapstad, dans, ’n seldsame optrede van die gevierde Suid-Afrikaanse balletdanser Kitty Phetla in die Moederstad en die jongste produksie van die Sweeds-Italiaanse kunstenaar Teresa Vittucci, is deel van die opwindende Infecting the City-fees wat van 18 tot 24 November in verskeie lokale in die stadskom aangebied word.

Die fees vier vanjaar sy 12de verjaarsdag en 50 werke is op die program.

Die fees word aangebied deur die Institute for Creative Arts van die Universiteit van Kaapstad en word ondersteun deur die universiteit, die Afrikasentrum en die Mellon-stigting.

“Vir ’n paar dae sedert 2007 verander die Infecting the City-fees ons gewone dae in die stad op buitengewone wyse. Parke, promenades, voetgangersones, strate en systraatjies, die taxistaanplek en die stasie is die gasheer vir musiek, kuns, dans en uitvoerings,” het Jay Pather, feesbestuurder gesê.

“Ons hoop die werke, plaaslik en internasionaal, sal gehore nuwe energie gee en meevoer en mag dit gehore, stadsbewoners, en voetgangers bekoor.”

Ses verskillende programme wat die publiek oor sewe dae kan beleef, wag op Kapenaars. Dit sluit drie programme in die dag en drie in die aand in. Die roetes wat gehore van een produksie na ’n ander lei word duidelik aangedui. Daar is ook ’n program van kunsinstallasies wat die besoekers self kan ontdek.

Kanya Viljoen se installasiewerk ‘Die skrif is aan die muur’, word in ’n badkamer op die Universiteit van Kaapstad se Hiddingh-kampus ingerig.

Enkele hoogtepunte op die program:

*Phetla, vanjaar se Standard Bank Jong Kunstenaar vir dans, tree in die hoofprogram saam met die pianis Nduduzo Makhathini op 18 en 19 November om 17:30 op. Hul werk, Going Back to the Truth of Space, verken tradisionele Afrika-rituele se praktyke en die genesing wat dit bring. Dit word gepas in die Walvisput in die Suid-Afrikaanse museum in die Kompanjiestuin opgevoer.

*Die kunstenaar Nicolene Burger ondersoek die plek wat tradisionele standbeelde in die samelewing inneem met haar Take Flight-installasies. Dit word op 21 November by die standbeelde van Cecil John Rhodes voor die Kompanjiestuin en Jan Hofmeyr op Kerkplein aangebring. Dit bestaan uit houttrappe wat so geplaas is dat die kunstenaar en die publiek in gesprek kan tree met die beelde. Dit nooi mense uit om opnuut te besin oor die rol van monumente en die belangrikheid van dit waarvoor dit staan.

*Die mens se aanlyn identiteit word deur die Sweeds-Italiaanse kunstenaar Teresa Vittucci ondersoek. Haar opvoering All Eyes On bestudeer die grense van dit wat privaat is en so hoort en dit wat openbaar en vir almal toeganklik is. Die stuk het ’n streng ouderdomsbeperking van 18.

Die kunstenaar Nicolene Burger ondersoek die plek wat tradisionele standbeelde in die samelewing inneem met haar ‘Take Flight’-installasies. Dit word op 21 November by die standbeelde van Cecil John Rhodes voor die Kompanjiestuin en Jan Hofmeyr op Kerkplein aangebring.

*Die Franse vertikale dansgeselskap Retouramont keer terug na die stad met ’n nuwe werk, Diagnole Ascendante, wat teen ’n gebou in Langstraat uitgevoer gaan word. Die dansgroep daag swaartekrag uit met hul toertjies en is vir hul veiligheid aan toue gekoppel.

*Die Hollandse hiphop-danser Henry O’tawiah se multidissiplinêre werk Boom Zonder Wortels, wat pas by die Afrovibes-fees vir uitvoerende kuns in Nederland te sien was, is ook op die openingsprogram op 18 en 19 November.

*Kanya Viljoen, wie se Afrikaanse teatertekste die laaste paar jaar aandag trek, se jongste installasiewerk, Die skrif is aan die muur, word in ’n badkamer op die Universiteit van Kaapstad se Hiddingh-kampus ingerig. Sy nooi mense om hul diepste gedagtes of gewaarwordinge teen die muur aan te bring.

*Amy Jephta se teaterwerk All Who Pass, wat met Quanita Adams as regisseur by die Nasionale Kunstefees in Makhanda opgevoer is, is deur die kunstenaar Sanjin Muftic verwerk as ’n oudio-begeleide stadstoer, All Who Listen. Gehore sal met behulp van ’n app deur dele van die stad begelei word na aanleiding van tonele uit All Who Pass. Dit handel oor die gedwonge verskuiwing van Distrik Ses.

*Die program sluit onder meer ook splinternuwe werke van die dansgeselskappe Indoni Dance Academy en Jazzart Dance Theatre in.

  • Die volledige program is beskikbaar by www.infectingthecity.com.
Meer oor:  Feeste  |  Musiek  |  Dans  |  Teresa Vittucci  |  Kitty Phetla  |  Teater  |  Infecting The City
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.