Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
KKNK spog met skitterdramas en feestelike musiek
Emo Adams

Sewe dramas, agt komedies en 12 musiekproduksies maak vanjaar hul buiging op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Die oudste Afrikaanse kunstefees in Suid-Afrika word die 23ste keer aangebied en, soos altyd, weer in Oudtshoorn. Die feesdatums is van 8 tot 15 April.

Teatergangers kan hul feesvere regskud vir optredes deur topakteurs en uitstekende regisseurs wat die leiding agter die skerms neem. Marthinus Basson, Nico Scheepers, Dawid Minnaar, Tinarie van Wyk Loots, Brendon Daniels, Lara Bye en Elize Cawood is maar ’n klein handjie vol van die groep.

Dramas

Asem is ’n debuutdrama waarmee hulde aan die skrywer Reza de Wet gebring word wat op 27 Januarie 2017 vyf jaar gelede oorlede is. Dié vertaling van De Wet se Breathing In is met Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam en Edwin van der Walt in die rolverdeling en Marthinus Basson as regisseur. Asem speel af in die laaste dae van die Suid-Afrikaanse oorlog en gaan oor die liefde wat digterlik en kragtig in ’n tyd van vernietiging verweef word.

Buite land, die jongste drama uit die pen van die bekroonde teatermaker en skrywer Neil Coppen, vertel van die verstrengelde lewens en drome van twee Suid-Afrikaanse mans wat die bande van die verlede probeer afskud om ’n bestaan te maak. Jacques Bessenger is in die hoofrol en Elize Cawood vertolk sy ma. Ook op die verhoog is Kopano Maroga, Mpume Mthombeni en Marvin-Lee Beukes.

Brendon Daniels, Anna-Mart van der Merwe en Wilhelm van der Walt in die drama Liewer.

Anna-Mart van der Merwe is te sien in Liewer, wat deur Patrick Marber se Closer geïnspireer is. Die Hertzog-pryswenner Tertius Kapp is die skrywer, Jaco Bouwer die regisseur en Brendon Daniels, Wilhelm van der Walt en Tarryn Wyngaard die akteurs. Liewer delf dieper as die clichés van die liefde.

Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran deur Éric-Emmanuel Schmitt, wat ook die bekroonde Oskar en die pienk tannie geskryf het, is ’n solostuk met Dawid Minnaar. Hierin vind Momo, ’n gekwelde Joodse seun, ’n onwaarskynlike vriend in ’n eensame Moslem-winkeleienaar, monsieur Ibrahim, by wie hy lewenslesse op reis deur Europa kry. Naòmi Morgan het dit uit Frans vertaal en Philip Rademeyer is die regisseur.

Ander debuutdramas sluit in Die reuk van appels, ’n verwerking van Mark Behr se opspraakwekkende roman onder regie van Lara Bye en Gideon Lombard in die hoofrol.

Lizz Meiring vertolk ’n oujongnooibloemiste in Geheime taal en Sandra Prinsloo sal in Moedertaal te sien wees met teks en regie deur die bekroonde Nico Scheepers.

Komedies

Tinarie van Wyk Loots

Die room van gevestigde akteurs en jong talent word byeengebring in Die koninkryk van die diere, ’n pittige satire wat die meedoënlose stryd van menslike oorlewing in die teater takel. Dawid Minnaar en Tinarie van Wyk Loots speel hierin, asook Joanie Combrink, Stian Bam, Wessel Pretorius en Ludwig Binge. Marthinus Basson is die ontwerper en hou die regieleisels.

Elize Cawood en Wilson Dunster

Die akteursegpaar Elize Cawood en Wilson Dunster speel man en vrou in Gebore uit die huwelik en Wessel Pretorius en David Viviers is te sien in Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistoftrilogie.

Solokomedies is Ag, kom ek val sommer met die Holm in die huis deur Marion Holm, O my goeie volk met Esther von Waltsleben, Pasaanoffokof met Pieter-Dirk Uys en Strooijonker deur die jong De Klerk Oelofse.

My man se skelmpie se skelmpie se vrou is nog een van Lefra se vertaalde Britse treffers, die keer Not Now Darling, met onder andere Cobus Venter en Ana van Achterbergh.

Eric Nobbs se Giel Swiegers en ander Karoo-duiwels is ’n samestelling van Karoo-verhale uit die boek In die mond van die wolf deur die bekroonde Paul C. Venter. Venter gebruik Giel Swiegers, aartsbedrieër en tweegatjakkals van die kykNET-dramareekse Vlug na Egipte en Terug na Egipte, as die verteller.

Musiek

Karen Zoid en die Gereformeerde Blues Band trek ’n kontemporêre baadjie aan vir die monumentale Eet Kreef-album.

Coenie de Villiers en sy musikante voer in Karoo Suite liedjies van sy nuwe album uit, ’n produksie waarby die skrywer Deon Meyer betrek is. Hy het die lirieke help skryf en sy asemrowende fotografie dra tot dié viering van die Karoo by.

In ’n nostalgiese reisgetiteld Karoo Swing tof Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe ikoniese Afrikaanse musiek op.

Die eerste Afrikaanse hip-hop-musiekspel, Amper famous, vertel die storie van ’n jong man wat groot drome in ’n klein dorpie droom. David Kramer regisseer en die akteur is V.I.T.O.

Ander musiekproduksies sluit in Amanda Strydom in So onner deur die maan, Andriëtte Norman in Goeie genade dis ’n dekade, Danie Niehaus en Pietman Geldenhuys met Die ding van ’n liedjie, Jak de Priester se 15 jaar met klavier en kitaar, Loki Rothman en Albert Frost in Die akoestiese kitaar, Elisha Zeeman se kabaret Mond verby, optredes deur Steffie le Roux en Les Javan in Zolani Mahola Rok en rol.

Raadpleeg die feesprogram by kknk.co.za vir meer inligting. Kaartjies is by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home beskikbaar. Bespreek verblyf aanlyn of bel 044 203 8600.

Dawid Minnaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.