Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Kom besoek Netwerk24 by die KKNK

As jy vanjaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn ’n draai maak, moenie vergeet om ook by die Netwerk24-feeskafee in te loer nie.

Wat is alles in dié kafee?

Kom loer na die pragtige handgemaakte produkte wat geliefde handelsmerke soos SARIE, Weg!, Huisgenoot, Tuis, Platteland, Kuier, Landbouweekblad, Die Burger en Son in die tent verkoop.

Geniet ook ’n lekker koppie boeretroos met ’n stukkie souttert of ’n boereworsrolletjie met tuisgemaakte tamatiesmoor.

Waar is die kafee?

Die Netwerk24-feeskafee is die groot wit tent op die hoek van Baron van Reede- en Voortrekkerstraat in Oudtshoorn, langs die CP Nel-museum.

En onthou om vir Netwerk24 in te teken!

Netwerk24 bied vanjaar by die KKNK ’n spesiale aanbod.

As jy by die fees vir R99 per maand inteken, kry jy op die koop toe ’n geskenksak met drie resepteboeke, ’n Weg! Agterpaaie-DVD asook ’n R100-geskenkbewys om in die Netwerk24-feeskafee te bestee.

Die program in die feeskafee

Deur die loop van die week is daar ook heelwat vermaak in dié tent.

1. DIE BURGER PRAAT SAAM-GESPREKSREEKS

Elke oggend van die fees (29 Maart tot 4 April) lei die bekende joernalis, Ivor Price, Die Burger Praat Saam-gespreksreeks oor brandpunte in Suid-Afrika. Dié gesprekke sluit ’n wye spektrum van opwindende denkers, gemeenskaps- en politieke leiers in. Kom praat saam oor sosiale, politieke en hartskwessies.

Toegang is gratis en die gesprek duur 60 minute.

Die temas wat bespreek gaan word, is:

  • Donderdag, 29 Maart om 09:00

Tema: Jong leiers oor toekoms in SA

Met Faiez Jacobs (Wes-Kaapse ANC), John Steenhuisen (DA-hoofsweep), Noncedo Madubedube (Equal Education) en hoërskoolleerders van Oudtshoorn.

Die jeug het groot verwagtings van die land se politici, maar kan selde saam met hulle oor onderwyskwessies besin. Van die land se voorste jong stemme kry die kans om politici met vrae te peper, en saam ’n toekomsresep te bou – ’n resep wat die jeug vir ’n beter toekoms sal voorberei. Hulle praat ook prontuit oor kwessies soos werkloosheid.

  • Vrydag, 30 Maart om 09:00

Tema: Ek, God en die kerk

Met Danie du Toit (hoofsanger van Spoegwolf en doktorale student), Ivor Swartz (voormalige jeuggevangene en deesdae jeugpredikant), dr. Braam Hanekom (voormalige moderator van die NG-kerk) en ds. André Boezak (VGK Oudtshoorn).

Buiten mega- en sommige charismatiese kerke loop tradisionele kerke omtrent leeg. Suid-Afrikaners draai toenemend hul rûe op die kerk, maar smag tog na ’n spirituele ervaring. Ons gesels prontuit oor die toekoms van die kerk, die kerk wat sy stem teen staatskaping verhef asook hul rol in die skep van ’n gelyker samelewing.

  • Saterdag, 31 Maart om 09:00

Tema: Die Ramaphosa-era

Met Christo van der Rheede (Agri SA) en Phillip de Wet (Business Insider)

Die “nuwe begin” met pres. Cyril Ramaphosa aan die stuur lyk belowend en die land is hoopvol. Oudpres. Jacob Zuma het egter groot skade aangerig – ook wat sosiale samehorigheid betref. Hoe moet Ramaphosa ’n erg verdeelde land vorentoe neem? En hoe gemaak met brandpunte soos grondonteiening?

  • Sondag, 1 April om 09:00

Tema: Waar sal ons water vandaan kom?

Met Prof. Hannes Rautenbach (SA Weerdiens) en Johan van den Berg (klimatoloog)

Klimaatsverandering het Suid-Afrika se weerpatrone die laaste paar jaar omgekrap. Die Wes-Kaap beleef ’n erge droogte en gaan onder streng waterbeperkings gebuk. Alles dui daarop dat aardverwarming die grootste uitwerking op die armes in die land sal hê. Kenners waarsku dit is ’n probleem aan albei kante van die grens, tussen maatskaplike opheffing en ekologiese gevolge, tussen die samelewing en die natuur, en is nou verwant aan politieke, ekonomiese en omgewingskwessies.

  • Maandag, 2 April om 09:00

Tema: Maak jy vyande vir Afrikaans?

Met Dr. Danny Titus (ATKV), dr. Theuns Eloff (FW de Klerk-stigting) en Danie van Wyk (Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust)

Daar word steeds wyd gedebatteer oor die toekoms van Afrikaans, met allerhande uitsprake van onder andere Julius Malema, EFF-leier, wat glo daar is geen toekoms vir Afrikaans nie. Die trant van dié gesprekke is dikwels verdelend eerder as versoenend, en maak nie juis vriende vir die taal nie. Hoe beskerm ons Afrikaans, terwyl ons ook die taal se ekonomiese koopkrag en invloed gebruik om ander inheemse tale en moedertaalonderrig te bevorder?

  • Dinsdag, 3 April om 09:00

Tema: Vierde nywerheidsrevolusie

Met Dr. Morné Mostert (Instituut vir Toekomsnavorsing) en prof. Roelof Botha (ekonomiese raadgewer van PwC)

Die wêreldekonomie is in ’n oorgangsfase met die vierde nywerheidsrevolusie om die draai. ’n Nuwe tegnologiese revolusie gaan die wêreld waarin ons leef en werk wesenlik verander. Die groot vraag is: Is jy en jou onderneming deel van die revolusie, of gaan jy agtergelaat word en soos ’n dinosourus uitsterf?

  • Woensdag, 4 April om 09:00

Tema: Hoe kry ons volpunte vir onderwys?

Met Kurt Minnaar (Dreamer Education), Leagan Phillips-Laws en skoolhoofde van Oudtshoorn

Suid-Afrika het ongetwyfeld een van die wêreld se swakste onderwysstelsels. Apartheid word vir baie van die probleme geblameer, hoewel ons onderwysdepartement duidelik nog sukkel om hul voete te vind. ’n Gebrek aan vernuwende denke, eerder as geld, blyk die probleem te wees, want die land spandeer ’n enorme deel van sy bruto binnelandse produk aan onderwys – trouens, meer as enige ander Afrikaland.

2. KABARET

2 April om 21:00 en 3 April om 21:00

Met Carla Smith, Conradie van Heerden, Devonecia Swartz, Hendrik Niewoudt, Kristin Pienaar, Lara de Bruijn en Reuben Murphy. Regie: Mercy Kannemeyer.

Woon jy nog in die nuwe Suid-Afrika? Wel, dis super ou nuus. Die nuwe Republiek van die nuwe nuwe Suid-Afrika is waaroor die volk nou gons. Almal wil soontoe gaan. Maar daar kan ongelukkig net een wenner wees. Kom vind uit wie die mees getransformeerde gesin is en gryp dan sommer vir jóú ’n inskrywingsvorm by die deur.

Afrikaans en Engels

Geen o. 14 T V

R50 vir 50 minute

Moontlik gemaak deur NATi, Vrystaat Kunstefees Kunstetrust en US Woordfees.

3. KOMEDIANTE

Schalk Bezuidenhout

Vrydag, 30 Maart om 21:00 met Shimmy Isaacs, Schalk Bezuidenhout en Hannes Brümmer.

Saterdag, 31 Maart om 21:00 met Schalk Bezuidenhout, Melt Sieberhagen en Shimmy Isaacs.

Sondag, 1 April om 21:00 met Hannes Brümmer, Melt Sieberhagen, Loyiso Madinga en Schalk Bezuidenhout.

Kom sluit jou dag af met skaterlag by Netwerk24 se Feeskafee in die geselskap van ’n paar van Suid-Afrika se topkomediante – jou tuiste vir komedie by die KKNK. Elke aand tree drie komediante op en deel hul eiesoortige en vlymskerp waarnemings oor die lewe, die land waarin ons leef en alles tussenin. Verwag vlymskerp humor en improvisasie – enigiets is moontlik. Ná elke vertoning is dit tyd vir musiek en kuier tot laat.

Afrikaans en Engels. Geen o. 14 T.

R130 (R140 by die deur) vir 60 min.

4. LAATNAG

Kontemporêre musiek daagliks om 22:00 in die Netwerk24-Feeskafee.

Aan die einde van elke feesdag is dit tyd vir musiek en kuier tot laatnag. Geniet die gesellige atmosfeer en sluit die dag op ’n hoë noot af.

Veeltalig. Geen o. 18

R50 vir 120 min.

5. BOEKGESPREKKE

Daniel Hugo, bekende digter en vertaler en Eben Pienaar van NB Uitgewers, het ’n propvol boekeprogram saamgestel. Feesgangers kan daagliks gesprekke met skrywers in verskeie genres oor hul nuutste publikasies by die ATKV-Boeke-oase bywoon. Kom luister na die kreatiewe denkers en kom meer te wete van hul prosesse.

Die gesprekke is 60 minute lank en toegang is gratis.

  • Donderdag, 29 Maart om 10:30

Jeugliteratuur in vertaling

Met Kobus Geldenhuys, prof. Maritha Snyman en Daniel Hugo (gesprekleier)

Waar het Harry Potter en Kuifie geleer om Afrikaans te praat? Kobus Geldenhuys en prof. Maritha Snyman vertel vir Daniel Hugo van die plesiere en uitdagings wat die vertaal van jeugboeke bied.

  • Donderdag, 29 Maart om 14:00

Die lang man sonder skaduwee

Met Antoinette Pienaar, Johannes Willemse en Daniel Hugo (gesprekleier)

Antoinette Pienaar werk reeds sewentien jaar saam met oom Johannes Willemse, legendariese Griekwa-medisyneman. Haar jongste boek bevat liriese beskrywings van die lewe in die Karoo en unieke inligting oor alternatiewe genesing.

  • Vrydag, 30 Maart om 10:30
Rudie van Rensburg, skrywer van Pirana. Foto: Brenda Veldtman

Misdaadskrywers

Met Chris Marnewick, Rudie van Rensburg, Irna van Zyl en Johannes de Villiers (gesprekleier)

Daar is ’n opbloei van misdaadverhale wêreldwyd asook in Suid-Afrika. Chris Marnewick (Redelike twyfel), Rudie van Rensburg (Ys) en Irna van Zyl (Gifbeker) gesels oor hierdie interessante verskynsel met Johannes de Villiers.

  • Vrydag, 30 Maart om 12:00

Die De Zalze-moorde

Met Julian Jansen en Ivor Price (gesprekleier)

Kan dwelms, jaloesie en geld ’n normale twintigjarige daartoe dryf om byna sy hele gesin met ’n byl uit te wis? Ivor Price praat met Julian Jansen oor die opspraakwekkende bylmoorde op die Van Breda’s van Stellenbosch.

  • Vrydag, 30 Maart om 14:00

Kalmte in die malle gejaag

Met Johannes de Villiers en Daniel Hugo (gesprekleier)

Wat beteken dit om bewustelik of “mindful” te leef? Johannes de Villiers het die antwoord gevind en praat met Daniel Hugo daaroor.

  • Vrydag, 30 Maart om 15:30

Boerekos met ’n twist
Kosdemonstrasie deur Annelien Pienaar

In Boerekos met ’n twist herontmoet jy jou ma, ouma en oumagrootjie se voedsame, vertroostende huiskos, maar met ’n kwyllekker kinkel. Elkeen van dié 140 familieresepte vir enigiets van soppe, souse, groente-, vleis- en nageregte tot gebak en spenstreffers is deeglik getoets en sit die “resep-met-’n-les”-konsep voort wat Annelien Pienaar se gelyknamige blog en Facebookblad so ’n ongekende sosialemediasukses maak.

  • Saterdag, 31 Maart om 10:30

El Negro en ek

Met Frank Westerman en Daniel Hugo (gesprekleier)

In Spanje het daar ’n eeu lank ’n opgestopte man uit Suid-Afrika in ’n Spaanse museum gestaan. Hoe het hy daar beland en wat vertel dit ons van die 19de-eeuse wetenskaplike beskouings van mens en dier? Frank Westerman se uiters boeiende boek is deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal. Westerman kom spesiaal uit Nederland om met Hugo te gesels.

  • Saterdag, 31 Maart om 12:00

Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede)

Met André le Roux

Wat is dit met vrouens en alewig inkopies doen? En hoekom wil mans nooit dokter toe gaan nie? SARIE en André le Roux lag saam oor die hemelsbreë verskille tussen mans en vroue.

  • Saterdag, 31 Maart om 14:00

Dwarsklap: skakerings van swart in die nuwe Suid-Afrika

Met Piet Matipa en Daniel Hugo (gesprekleier)

Piet Matipa is jonk, swart, gay en Afrikaans. In hierdie boek laat hy die donkerte van Suid-Afrika in ligte skakerings flonker. Hy gesels met Daniel Hugo.

  • Saterdag, 31 Maart om 15:30
Rian van Heerden Foto: Dino Codevilla

Rian – 16 dinge wat ek nie moes sê nie

Met Rian van Heerden en Martelize Brink (gesprekleier)

Martelize Brink gesels met die dikwels omstrede Rian van Heerden oor die dinge wat ander mense meen hy eerder nie moes gesê het nie . . .

  • Sondag, 1 April om 10:30

Joernaliste en die president

Met Adriaan Basson en Ivor Price (gesprekleier)

Kan joernaliste ’n korrupte regering op sy pad van verwoesting stuit? Adriaan Basson praat oor sy en Pieter du Toit se boek Enemy of the people met Ivor Price.

  • Sondag, 1 April om 12:00

Hykie Berg – My storie van hoop

Met Hykie Berg en Johan van Lill (gesprekleier)

Op die kruin van sy suksesloopbaan verloor Hykie alles en draai by die dood om. Johan van Lill gesels met die bekende akteur en Survivor-wenner oor sy jare lange stryd met dwelms.

  • Sondag, 1 April om 12:00

Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste

Met André le Roux en Daniel Hugo (gesprekleier)

Jy’t vandag verby minstens een psigopaat geloop. En vanaand wag daar dalk ’n narsis of sadis vir jou by die huis. André le Roux in gesprek met Daniel Hugo oor sy deeglik nagevorsde en fassinerende boek.

  • Sondag, 1 April om 15:30 

Martelize Brink. Foto: Michael Hammond

Martelize kook! Jy’s genooi
Kosdemonstrasie deur Martelize Brink

Die versameling resepte strek van brode, happies, seekos en watertandhoofdisse met vleis, wild en hoender, tot by die maaltye wat sy graag na ’n lang werkdag in haar warm kombuis geniet.

  • Maandag, 2 April om 10:30

Waarom en hoe toonset ek ’n gedig?

Met Hendrik Hofmeyr, Laurinda Hofmeyr en Daniel Hugo (gesprekleier)

Twee Hofmeyrs het naam gemaak as toonsetters van Afrikaanse verse. Hendrik Hofmeyr en Laurinda Hofmeyr in gesprek met Daniel Hugo.

  • Maandag, 2 April om 12:00

30-minute-resepte, wenke en wyshede 
Kosdemonstrasie deur Herman Lensing

Hierdie boek bou op dié tema met die smullekker kos waarvoor Herman bekend is, en met verskeie dinge wat hy in sy 30 jaar geleer het. Daar is 30-minute-resepte, 30 dinge wat jy van wyn moet weet, en kombuiswenke wat jou lewe sal verander – en ook 30 goeie gewoontes, dinge wat sy ma hom nooit vertel het nie, maniere om gesond te bly en meer.

  • Maandag, 2 April om 14:00

Ingrid Jonker die onsterflike

Met Petrovna Metelerkamp en Daniel Hugo (gesprekleier)

Daar is al baie bespiegel oor Ingrid Jonker se lewe en tragiese dood. ’n Hele paar raaisels word opgelos in die eerste omvattende biografie van hierdie ikoniese figuur in die Suid-Afrikaanse letterkunde. Biograaf Petrovna Metelerkamp in gesprek met Daniel Hugo.

  • Maandag, 2 April om 15:30

Ek & jy – verhoudings wat werk

Met Lisa Swart en Louis Awerbuck

In Ek & jy – verhoudings wat werk kyk die outeurs Lisa Swart en Louis Awerbuck nugter na verhoudings in hedendaagse tye: die ontstaan, verwagtinge, onderskeid tussen korttermyn- en langtermynverhoudings, voorwaardes vir suksesvolle verhoudings, konflikhantering en die rol van temperament. ’n Handleiding vir nuwe en bestaande verhoudings asook kollegas.

  • Dinsdag, 3 April om 10:30

Drama en gemeenskap

Met Pieter Fourie, Amee Lekas en Marthinus Basson (gesprekleier)

Bekroonde dramaturg Pieter Fourie en beginner Amee Lekas in gesprek met Marthinus Basson oor die invloed wat teater op ’n verskeurde samelewing kan hê.

  • Dinsdag, 3 April om 14:00

Aantekeninge teen die skemeruur

Met Clinton V. du Plessis en Daniel Hugo (gesprekleier)

Clinton V. du Plessis het hom nog altyd doelbewus buite die hoofstroom van die Afrikaanse letterkunde gehou. Dié alleenloper-digter waag dit nou vir die eerste keer om die kollig te betree. Hy gesels met Daniel Hugo oor sy nuwe digbundel.

  • Dinsdag, 3 April om 15:30

Jacques Pauw

The President’s Keepers

Met Jacques Pauw en Ivor Price

Ondersoekende joernalis Jacques Pauw ontbloot in hierdie topverkoperboek die donkerste geheim in die hart van pres. Jacob Zuma se regering. Hy gesels met Ivor Price oor diegene wat Zuma mag gee én uit die tronk hou.

  • Woensdag, 4 April om 10:30

Veteraan van die woord

Met Pieter Fourie en Daniel Hugo (gesprekleier)

Pieter Fourie het die literêre wêreld verlede jaar verras met sy debuut as digter op 77-jarige ouderdom. Hy praat met Daniel Hugo oor sy tweede, ewe opwindende bundel Bidsnoer wat pas verskyn het.

  • Woensdag, 4 April om 14:00

Vaarwel en koebaai

Met Pieter Fourie, Jolyn Phillips, Clinton V. du Plessis en Daniel Hugo

Ons sluit die skrywersprogram op ’n hoë noot af met ’n ensemble digters. Voorlesings uit hulle nuwe werk deur Pieter Fourie, Jolyn Phillips, Clinton V. du Plessis en Daniel Hugo.

Meer oor:  Ivor Price  |  Oudtshoorn  |  Kknk  |  Kunstefees  |  Krit  |  Feeste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.