Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
‘Kunstenaars wat nog skep, grootste teken van hoop’
Monica Newton, uitvoerende hoof van die nasionale kunstefees op Makhanda. Foto: Robyn Davie

Die nasionale kunstefees in Makhanda (Grahamstad) stoom vanjaar te midde van uitdagende tye weens die wêreldwye pandemie voort.

Die feesbestuur het pas aangekondig hy gaan ’n “veelvlakkige kunservaring aanbied” vir gehore wat uitgehonger is vir die kunste.

Mense kan hulle dus gereed maak vir ’n hibriede weergawe van Afrika se grootste kunstefees, wat vanjaar sy 48ste bestaansjaar vier. Daar gaan vir ’n groot deel van Junie en die hele Julie feesgevier word.

Van 8 tot 18 Julie word ’n kleiner fees op die feesdorp in die Oos-Kaap aangebied. Daarby is daar ook ’n aanlyn feeservaring vir die hele Julie én ’n reeks lusmaker-vertonings nog voordat die fees begin, wat vir die eerste keer in vier stede onder die vaandel van Standard Bank Presents aangebied word.

’n Toneel uit Mike van Graan se stuk ‘Little Red Ridinghood and the Big Bad Metaphors’ wat in 2019 by die fees opgevoer is. Foto: Mark Wessels

Die grootste deel van die kunstebedryf is al meer as 400 dae ingeperk. Van die teaters en konsertsale is nog steeds nie op volle kapasiteit oop nie en ander is gesluit.

Monica Newton, die uitvoerende hoof van die nasionale kunstefees op Makhanda, sê dit is goeie nuus dat die fees voortgaan, maar dit gaan nie maklik wees nie.

Sy en haar span is al maande lank aan die werskaf om dié fees moontlik te maak. “Daar is nie ’n skakelaar wat die kunste weer gaan aanskakel nie. Daar is ook die besef dat Covid-19 hier is om te bly of nie vinnig gaan verdwyn nie. Ons moet omsien na die kunste as brose ekosisteem.”

‘The Rebirth of Iqahwe: The Awakening of a New Man’ met Oupa Sibeko is verlede jaar, toe die fees in sy geheel aanlyn was, aangebied.

Sy meen ook dit is noodsaaklik dat die dorp Makhanda en die Oos-Kaap weer geld verdien uit die fees.

“Die fees bied ’n jaarlikse inkomste vir die dorp. Verlede jaar was daar niks omdat ons uitsluitlik virtueel was.” Volgens ’n studie deur die departement ekonomie aan die Rhodes-Universiteit, dra die fees jaarliks nagenoeg R90 miljoen by tot die koffers van die dorp en die provinsie. Dit sluit werkgeleenthede en toerisme in.

Die bestuur wil “die kunste na gehore bring, waar hulle is in ’n tyd waar ons steeds baie versigtig moet wees om die verspreiding van die koronavirus hok te slaan”.

Feesgehore op die dorp kan uitsien na ’n aanbod van werke van verlede jaar se Standard Bank Jong Kunstenaars, ’n sterk randfees-program, ’n uitvoering van ’n koorkonsert, asook talle ervarings in die buitelug. Die gewilde Standard Bank-jazzfees word deels op die dorp en aanlyn aangebied.

Die samekoms van die kunstenaars op die feesdorp is ’n belangrike katalisator om weer lewe te blaas in die bedryf, meen Newton.

“Ons stel ’n kleiner, intiemer fees saam vir Makhanda. Ons moet versigtig werk met die Covid-maatreëls, maar ons glo dit gaan moontlik wees om die pols van die kunste weer opnuut te voel en kunstenaars op verhoë te sien optree.

“Ons vul die Guy Butler-teater, wat 900 mense kan huisves, met 250 mense; ons kleiner venues is werklik klein. As ons hulle dan net halfpad volmaak, praat ons van werklik intieme ervarings.

“Ons is ook baie bewus daarvan dat ons gehore se besteebare inkomste ernstig ingekort is weens Covid.”

Verlede jaar het 83 000 mense van verskillende plekke ter wêreld ingeskakel om die aanlyn weergawe van die fees te beleef. Dit is ’n rekord vir die plaaslike kunstebedryf.

“Aanlyn ervarings is hier om te bly, en ons is opgewonde om dit verder te ontwikkel in ons aanbod vanjaar,” sê Newton in ’n verklaring.

Die feesbestuur het besluit om produksies in ander stede aan te bied omdat dit dalk nie moontlik is vir mense om so ver te reis nie. Daarby is reis- en verblyfkoste vir baie kunstenaars te duur. Tans is Johannesburg, Kaapstad en Durban beslis op die reisplan en binnekort ook Oos-Londen.

“Standard Bank Presents sal mense ’n smakie gee van die nasionale kunstefees, ’n venster op wat ons kunstenaars doen en dink. Soos ons aanpas by die voortdurend veranderde Covid-werklikheid, moet ons nuwe goed aanpak en probeer en nuwe maniere uitdink om die kunste na die gehore te bring,” sê Newton.

In hul werke wat voorgelê is vir die fees, fokus die kunstenaars veral “op hul verwondering in die lewe en hulle wys hoe hulle rondgeklap en seergemaak is deur die masjinerie van die staat.

“Ek vind die werke baie persoonliker. Daar is egter ook baie komiese werke. Ek sou sê die werk reflekteer ’n kunstegemeenskap wat deur ’n ontsettende transformasie is. Die feit dat ons kunstenaars steeds werk skep, is die grootste teken van hoop wat daar is.”

Sy hoop om reeds van die werke, wat weens die Nasionale Kunsteraad se wanbestuur van R300 miljoen se noodfinansiering aan die gemeenskap, nie voltooi kon word nie, by die fees na die planke te bring.

“Dit is die grootste teleurstelling. Dit is sulke besonderse werke, ons wil steeds ál die werke help voltooi en vervaardig.”

Voorstelle vir die werke kan onder die hofie “Here, my dear” op die fees se webblad besigtig word. Ná ’n hofgeding is die kunsteraad gelas om sowat R3 miljoen van die beloofde R8 miljoen aan die nasionale kunstefees uit te betaal.

Sy aanvaar die fees gaan hoofsaaklik besoek word deur mense wat daguitstappies beoog of net vir ’n naweek of enkele dae na die feesdorp kan gaan. Maar – ongeag waar hulle hul in die land bevind.

Die fees word ondersteun deur benewens Standard Bank, die Oos-Kaapse regering, die Sarah Baartman-munisipaliteit, Distell en Business and Arts South Africa.

• Die volledige program van die nasionale kunstefees word op 7 Junie bekend gemaak.

• Die Standard Bank Presents, ’n vertoonvenster van die fees, word in verskeie stede van 17 Junie tot 4 Julie aangebied.

• Die nasionale kunstefees word daarna van 8 tot 18 Julie op Makhanda aangebied.

• Die aanlyn nasionale kunstefees kan die hele Juliemaand by https://nationalartsfestival.co.za gevolg word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.