Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
KKNK: Lees Krit vanjaar op Netwerk24

As jy nie vanjaar in die vlees die Klein Karoo Nasionale Fees (KKNK) gaan meemaak nie, beteken dit nie jy kan nie in die gees saam feesvier nie.

Netwerk24-lesers kan vanjaar vir die eerste keer die KKNK se feeskoerant ook aanlyn lees.

Die eerste feeskoerant verskyn Donderdag en sal reeds vroegoggend op Netwerk24 beskikbaar wees.

Kry al jou feesnuus op Netwerk24 – alles van onderhoude met jou gunstelingsangers tot resensies van baanbrekertoneelstukke.

Netwerk24-feeskafee

Indien jy wel op Oudtshoorn is, moenie vergeet om die Netwerk24-feeskafee te besoek nie.

Elke oggend van die fees, 29 Maart tot 4 April, lei die bekende joernalis Ivor Price Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks oor brandpunte in Suid-Afrika. Dié gesprekke sluit ’n wye spektrum van opwindende denkers en gemeenskaps- en politieke leiers in. Kom praat saam oor sosiale, politieke en hartskwessies.

Toegang is gratis en die gesprek duur 60 minute.

Die temas wat bespreek gaan word, is:

  • Donderdag om 09:00

Jong leiers oor die toekoms in SA.

Met: Faiez Jacobs (Wes-Kaapse ANC-lid), John Steenhuisen (DA-hoofsweep), Noncedo Madubedube (Equal Education) en hoërskoolleerders van Oudtshoorn sal deelneem.

Die jeug het groot verwagtinge van die land se politici, maar het selde die geleentheid om saam met hulle te besin oor onderwyskwessies. Van die land se voorste jong stemme kry die kans om politici met vrae te peper, en saam ’n toekomsresep te bou – ’n resep wat die jeug vir ’n beter toekoms sal voorberei. Hulle praat ook prontuit oor uitdagings soos werkloosheid.

  • Vrydag om 09:00

Tema: Ek, God en die Kerk.

Met: Danie du Toit (doktorsgraadstudent en hoofsanger van Spoegwolf), Ivor Swartz (voormalige jeuggevangene en deesdae jeugpredikant), dr. Braam Hanekom (voormalige moderator van die NG Kerk) en ds. André Boezak (VGK Oudtshoorn).

Met die uitsondering van mega- en sommige charismatiese kerke loop kerke leeg. Suid-Afrikaners draai toenemend hul rug op die kerk, maar smag tog na ’n spirituele ervaring. Ons gesels prontuit oor die toekoms van die kerk, die kerk wat sy stem teen staatskaping verhef asook hul rol in die skep van ’n meer gelyke samelewing.

  • Saterdag om 09:00

Die Ramaphosa-era.

Met: Christo van der Rheede (Agri SA) en Phillip de Wet (Business Insider)

Die “nuwe begin” met pres. Cyril Ramaphosa aan die stuur lyk belowend en die land het hoop. Oudpres. Jacob Zuma het egter groot skade aangerig – ook wat maatskaplike samehorigheid betref. Hoe moet Ramaphosa ’n erg verdeelde land vorentoe neem? En hoe gemaak met brandpunte soos grondonteiening?

  • Sondag om 09:00

Waar sal ons water vandaan kom?

Met: Prof. Hannes Rautenbach (SA Weerdiens) en Johan van den Berg (klimatoloog) sal hul insig bied.

Klimaatsverandering het Suid-Afrika se weerpatrone die laaste paar jaar op sy kop gedraai. Die Wes-Kaap beleef ’n ernstige droogte en gaan gebuk onder streng waterbeperkings. Alles dui daarop dat aardverwarming die grootste impak op die armes in die land sal hê. Kenners waarsku dit is ’n probleem aan albei kante van die grens, tussen maatskaplike opheffing en ekologiese gevolge, tussen die samelewing en die natuur, en is nou verwant aan politieke, ekonomiese en omgewingskwessies.

  • Maandag om 09:00

Maak jy vyande vir Afrikaans?

Met: Dr. Danny Titus (ATKV), dr. Theuns Eloff (FW de Klerk-stigting) en Danie van Wyk (Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust).

Daar word steeds wyd gedebatteer oor die toekoms van Afrikaans, met allerhande uitsprake van onder andere Julius Malema, EFF-leier, wat glo daar is geen toekoms vir Afrikaans nie. Die trant van dié gesprekke is dikwels verdelend eerder as versoenend, en maak nie juis vriende vir die taal nie. Hoe beskerm ons Afrikaans, terwyl ons ook die taal se ekonomiese koopkrag en invloed gebruik om ander inheemse tale en moedertaalonderrig te bevorder?

  • Dinsdag om 09:00

Die vierde nywerheidsrevolusie.

Met: Dr. Morné Mostert (Instituut vir Toekomsnavorsing) en prof. Roelof Botha (ekonomiese raadgewer van PwC) as deelnemers aan die gesprek.

Die wêreldekonomie is in ’n oorgangsfase met die vierde nywerheidsrevolusie om die draai. ’n Nuwe tegnologiese revolusie gaan die wêreld waarin ons leef en werk wesenlik verander. Die groot vraag is: Is jy en jou onderneming deel van die revolusie, of gaan jy agtergelaat word en soos ’n dinosourus uitsterf?

  • Woensdag om 09:00

Hoe kry ons volpunte vir onderwys?

Met: Die deelnemers aan die gesprek is Kurt Minnaar (Dreamer Education), Leagan Phillips-Laws en skoolhoofde van Oudtshoorn

Suid-Afrika het ongetwyfeld een van die wêreld se swakste onderwysstelsels. Baie van die probleme word voor apartheid se deur gelê. ’n Gebrek aan vernuwende denke, eerder as geld, blyk die probleem te wees, want die land bestee ’n enorme deel van sy bruto binnelandse produk aan onderwys – trouens, meer as enige ander Afrika-land.

En onthou om op Netwerk24 in te teken!

Netwerk24 bied vanjaar tydens die KKNK ’n spesiale aanbod. As jy op die fees vir R99 per maand inteken, kry jy op die koop toe ’n geskenksak met drie resepteboeke, ’n Weg! Agterpaaie-DVD asook ’n R100-geskenkbewys om in die Netwerk24-feeskafee te bestee.

Die feeskafee is op die hoek van Baron van Reede- en Voortrekkerstraat, langs die CP Nel-museum.

In die loop van die week is daar ook heelwat vermaak in dié tent. Klik hier vir die volledige program.

Meer oor:  Netwerk24  |  Oudtshoorn  |  Kknk  |  Krit  |  Intekenare  |  Feeste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.