Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Literatuurfees: Vriende gesels oor Karel Schoeman

Vertellings oor die lewe van die skrywer Karel Schoeman, wat vanjaar 80 jaar oud sou wees, gaan een van die hoogtepunte wees van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) se literatuurfees wat saam met die Kunstefees in Bloemfontein plaasvind.

Leana Lategan, hoofvakkundige van Naln, sê daar is van Sondag tot Donderdag ’n stewige program saam met die Kunstefees.

Karel SchoemanFoto: Netwerk24

Die aand oor Schoeman se laaste reis word Dinsdag 18:00 by Naln aangebied waar Jackie Steyn, ’n vriendin, ander vertrouelinge van Schoeman byeenbring om te praat oor die lewe van die skrywer in die laaste jare wat hulle hom geken het.

Lategan sê Schoeman, ’n gebore Vrystater (van Trompsburg) het internasionaal bekendheid verwerf en sy romans is in verskeie wêreldtale vertaal.

Sy verblyf in onder meer Ierland en Nederland, en verskeie Europese reise wat hy tot taamlik kort voor sy dood nog onderneem het, het bygedra om van hom ’n byna mitiese skrywerspersoonlikheid te maak.

Die laaste paar jaar voor 1 Mei 2017 het hy in die Bloemfonteinse aftreeoord Noorderbloem gewoon.

Leana LateganFoto: Netwerk24

Sy interessante vriendskappe was soms die onderwerp van bespiegelinge en oënskynlik was daar ’n vertelling en persoonlike dokumentasie vir bykans elke vriendskap. Nie almal was gunstig nie.

Sy onvermoeide werkywer en skryfvermoë was legendaries. Hy was en sal steeds menige student se navorsingsbelangstelling bly.

“Maar is mense bereid om sonder meer die sluier te lig oor hul vriendskap met hom – en hoe het hulle die verbintenisse op persoonlike vlak ervaar?” vra Lategan.

“Aangesien ons die lewe van die skrywer vanjaar, waarin dit sy 80ste verjaardag op 26 Oktober sou wees, wil vier, en ook op ’n meer persoonlike wyse aan hom sou wou dink, is vertrouelinge genader om te praat oor hom en herinneringe te deel. Die publiek word ook betrek en word genooi om gunsteling-aanhalings uit sy werk, of gedagtes daaroor, met mekaar en die gehoor te deel.”

Jackie SteynFoto: Netwerk24

Verjaardae moet gevier word en soveel te meer dié van skrywers wat ’n blywende en vormende invloed op hul lesers gehad het, sê sy.

“Die bykans ikoniese bydrae wat Schoeman tot Afrikaans gelewer het, is nie te betwis nie. Die dood en die sterf-proses is belangrike en wederkerende temas in sy uitgebreide literêre oeuvre.

Die gesprek gaan ’n uur duur en die prys is R25 (glas wyn ingesluit).

* Die Naln is op die hoek van Pres. Brand- en Miriam Makebastraat in Bloemfontein. Daar is parkeerplek langs die Naln-gebou uit Miriam Makebastraat.

* Kaartjies is by Computicket beskikbaar. Corneli van den Berg sê kaartjies kan ook by die deur gekoop word, maar kaartjies vir die Taaltoer met prof. Jaap Steyn Sondagmiddag om 14:00 is net via Computicket teen R150 te kry.

* Vir meer besonderhede bel Annelien Diedericks, museum-geesteswetenskaplike by Naln by tel. 076 741 0628.

Meer oor:  Vrystaat Kunstefees  |  Karel Schoeman  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.