Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Makhanda kry ‘passiespel’ met ’n verskil
David Viviers en Emma Kotze in The Gospel According to Jan Coetzee. Foto: Liese Kuhn

’n Andersoortige passiespel oor ’n Afrikaanse plaasseun wat glo hy is deur God geroep om die Afrikaner tot verlossing te lei, open eersdaags op die nasionale kunstefees in Makhanda.

Dit is geskryf deur die bekroonde teaterskepper Wessel Pretorius, bekend om gevierde produksies soos Ont, KlaraMaas se hart is gebreek en Al julle volke.

In sy satiriese stuk, The Gospel According to Jan Coetzee, ontmoet die teaterganger vier van Coetzee se sogenaamde dissipels en die vrou op wie hy verlief geraak het.

Wessel beskryf dit as ’n portret oor ’n man wat sy geloof verloor asook die bou van nuwe identiteite in tye van groot sosiale veranderinge. Hy het die verhaallyn losweg op die Bybelboek, Lukas, gegrond.

“Dit handel oor die lewe van ’n Afrikaanse profeet wat in die aanloop tot apartheid ’n beweging stig. Ek sou aanvanklik my 2015-stuk, Al julle volke, vertaal het, maar ek het so begin karring daaraan dat ek uiteindelik die hele stuk oorgeskryf het.”

Die idee van ’n passiespel oor ’n moderne figuur het Pretorius geprikkel. “Ook die eietydse vraagstuk rondom Afrikaneridentiteit en waar my generasie hulle bevind en hoe ons vorentoe kyk. Dit is veiliger vir my as kunstenaar om oor die Afrikaner te bepeins omdat ek een in murg en been is.” Hy benadruk dat sy generasie hulle nie meer met die verlede kan assosieer nie en het vervreemd geraak met Afrikanerkultuur in die breë. “ ’n Mens sien dit op sosiale media, ons weet ook nie hoe ons pad vorentoe lyk nie. Gospel gaan oor daardie soeke na identiteit. Leiers, ikone en opgemaakte profete is maklike maniere om ’n groep te nasionaliseer en die fyn lyn tussen nasionale trots en nasionalisme is iets wat my geweldig pla op die oomblik. So wie is ek as Afrikaner in 2019 en waarheen is ek op pad? Ek is mal oor my taal en groot dele van my kultuur is onvervangbaar en ek wil dit vier, maar dit kom met so baie baggage. Ons gebruik ’n metafoor (gesetel in die verlede) om dié situasie te probeer kleinkry.”

Die dramaturg Wessel Pretorius, Emma Kotze en David Viviers in The Gospel According to Jan Coetzee.Foto: Liese Kuhn

Soos gebruiklik speel Pretorius met die minimum rekwisiete en dekor; baie word aan die gehoor se verbeelding oorgelaat. Die drie akteurs speel ook verskeie karakters.

“Ek is die verteller, dit is meestal storie vertel, elkeen kry ’n kans om Jan Coetzee te vertolk, Emma Kotze speel die twee Maria-figure (Magdalena en Maagd) en David Viviers is Judas.”

Die laaste derde van die stuk het hy saam met die spelers ontgin. “Die werkswinkel-opset is nogals moeilik vir my aangesien ek ’n A-tipe persoonlikheid het waar dit teater aangaan!” sê Pretorius.

Hy was voorheen op die nasionale kunstefees op Makhanda met die Engelse weergawe van Ont, Undone. Dié keer is hy ook daar as vervaardiger.

“ ’n Mens voel baie veilig daar danksy die ondersteuning van die wye verskeidenheid kunstenaars vir mekaar se werk en die gevestigde teaterkultuur onder die feesgangers. Ek was destyds met Undone geskok oor hoeveel briljante teatermakers daar in Suid-Afrika is, waarvan ek, omdat ek op Afrikaanse feeste boer, nog nooit gehoor het nie.”

Die span wil graag die stuk vir ’n speelvak Kaapstad toe bring. “Ek voel altyd ’n mens moet eers seker maak

iets werk voordat jy te ver vooruit beplan. Die stuk is reeds deurtrek met Afrikaans, so dit behoort nie te moeilik te wees om dit te vertaal nie vir die kunstefeeste nie.”

The Gospel According to Jan Coetzee vorm deel van die opwindende Edge-teateraanbod op die randfees. Dit word in die Princess Alice-saal op Makhanda (Grahamstad) aangebied van 3 tot 7 Julie. Kaartjies vir die nasionale kunstefees is beskikbaar by www.nationalartsfestival.co.za.

Meer oor:  Makhanda  |  Nasionale Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.