Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Meer as 40 buitelanders deel van Vrystaat Kunstefees
A.I.R., vanjaar se vlagskipproduksie op die Vrystaat Kunstefees, is geskep deur die Australiese kunstenaar Julia Drouhin (voor regs).

’n Inspirerende poel van plaaslike, nasionale en internasionale kreatiewe praktisyns trek volgende week vir die 18de Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein saam.

Dié internasionale bydrae word weerspieël deur die meer as 40 buitelandse skrywers, digters en kultuurwerkers wat uit Australië, Europa, Kanada, Brittanje, die VSA, Singapoer en verskeie Afrikalande hierheen kom.

Ricardo Peach, die feesdirekteur, sê die Vrystaat Kunstefees is in wese ’n Afrikaanstalige fees, maar is ook besig om hom as een van die belangrikste internasionale kunstefeeste in Afrika te vestig.

Dit blyk onder meer uit die eerste Pan-African Creative Exchange (Pace) hier. Die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) is die stigterborg van die drie dag lange aanbieding van interdissiplinêre kuns uit Afrika. Goretti Kyomuhendo van Uganda en direkteur van die African Writers Trust is die hoofspreker.

Nog ’n eerste op die fees is ’n spitsberaad aangebied deur Vrystaat Kuns en Gesondheid wat groter samewerking tussen dié twee terreine wil bevorder. Die aanbieder is David Doyle, uitvoerende hoof van Disability in the Arts, Disadvantages in the Arts (DADAA) in Wes-Australië.

Die afgelope drie jaar was die fees se vlagskipproduksies (Die wit perd, Dis my stad en Onesies) ’n groot aantrekkingskrag en vanjaar se A.I.R. (Altitude Immersive Radio) beloof om net so ’n treffer te wees.

A.I.R. is ’n digbundel wat vertolk word en ’n gemeenskapskunswerk. In die proses sal radio-uitsendings ’n transmissiewolk skep wat met ’n piekniek op Hoffmanplein afsluit. Straatplakkate basuin reeds uit dat ’n groep “Lost Lover”-deelnemers dele uit die digbundel sal opvoer in kostuums wat soos ’n oorgroot ontvangstoestel lyk. Op dié manier verteenwoordig hulle die digkuns én die luggolwe.

Enigeen is welkom om A.I.R. op 11 Julie van 10:30 tot 12:00 op Hoffmanplein by te woon en op 14 Julie van 10:30 tot 12:00 in die ATKV-boeke-oase op die UV-kampus. Die produksie is deel van die Program vir Innovasie en Kunstevorm-ontwikkeling (Piko) en word gesteun deur die Andrew W. Mellon Foundation en SITUATE Art in Festivals van Tasmanië.

Een van die grootste suksesverhale van die Vrystaat Kunstefees is die Vrynge, wat vanjaar uit sy nate bars. Vrynge is die tuiste van opkomende kunstenaars asook gevestigde kunstenaars wat werke in wording aanbied.

’n Wêrelddebuut hier is die voorlees van Orphans – The Spaghetti House Three deur die Britse dramaturg Hassan Mahamdallie.

Toere na kunsateljees onder die titel Vrost, nuwe kortflieks (Vlieks), ’n vertoon van kostuumdrag (What the Tuck) en musiek- en toneelproduksies is ook op die Vrynge-program.

Die Vrystaatse Literatuurfees, wat hom as een van die belangrikste internasionale literêre geleenthede in die land gevestig het, handel vanjaar oor die aktuele onderwerp van migrasie en kulturele beweeglikheid.

Een van die hoogtepunte in hierdie verband is die optrede van Dimitri Verhulst van België, die skrywer van Problemski Hotel, wat spruit uit die tyd toe hy as asielsoeker in ’n kamp deurgebring het.

Peach sê Verhulst se aanbieding word sterk aanbeveel.

Openbare kunsprojekte (Pap) en Vrywees bied plekspesifieke produksies in die middestad en op die UV-kampus aan, terwyl die jaarlikse Filmfees weer ’n keur van topflieks vertoon, waaronder twee van die Sweedse rolprentmaker Ingmar Bergman se beste prente ter viering van sy geboorte 100 jaar gelede.

Laaste maar nie die minste nie, is die aanbod van opwindende debuutproduksies, asook teater, musiek, visuele kuns, lewende en eksperimentele kuns, kunsvlyt en kos, waarvan verskeie in samewerking met internasionale vennote aangebied word.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Vrystaat Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.