Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Mozart in alle gedaantes op Kunstefees
Die Charl du Plessis-trio is van links Werner Spies (kontrabas), Du Plessis (klavier) en Hugo Radyn (tromme).

“Amper soos Freddie Mercury en Montserrat Caballé wat Barcelona op die opening van die Olimpiese Spele in 1988 gesing het, so gaan Eine kleine Jazzmusiek wees. Natuurlik met baie knippies sout.”

Dit is hoe die pianis Charl du Plessis die Mozart-produksie beskryf wat hy na die Vrystaat Kunstefees (11 tot 16 Julie in Bloemfontein) bring.

Sý Montserrat, oftewel opera­sopraan, is Magdalene Minnaar en die rol van die ontslape Mercury sal deur Musanete Sa­kupwanya gevul word.

Minnaar, wat klassiek opgelei is, en Musanete, ’n jazzmeester, sal arias en duette uit Mozart-operas sing.

Du Plessis, wat bekend is vir sy besonderse verwerkings van klassieke musiek, sê hy het nie ál die vokale nommers verwerk nie, van die arias bly soos Mozart dit geskryf het.

“My idee is ’n Mozart-program met ongewone klassieke weergawes van arias, duette en klavier- en orkesmusiek met jazz-verwerkings tussenin. Dit bied variasie en stel die klassieke fynproewer én die meer avontuurlustige luisteraar tevrede.”

Die Odeion-strykkwartet speel saam om gewig aan die klassieke werke te gee terwyl die Charl du Plessis-trio, met Werner Spies (kontrabas) en Hugo Radyn (tromme), die leiding in die jazz-weergawes sal neem.

Du Plessis sê hy sien geweldig uit na sy eerste optrede met die Odeion-kwartet waarvoor hy hoë agting het. As hy sy sin kon kry, sou hulle al twee jaar gelede saam opgetree het, maar albei se vol skedules het dit onmoontlik gemaak.

Magdalene Minnaar

Du Plessis het dieselfde program reeds met reuse-sukses op die Klein Karoo Klassique en in die Oude Libertas-buitelugteater op Stellenbosch uitgevoer.

Met die bekende Koningin van die Nag-ariauit Die Towerfluit waarvoor Minnaar se koloratuurstem perfek is, is dit te wagte. En ook met die immergewilde Pa Pa Pa Pa Papageno en La ci darem la mano uit Don Giovanni.

Non piu andrai uit Die huwelik van Figaro het Du Plessis ’n jazz-aanslag gegee waaraan Musanete reg sal laat geskied.

Dié sanger het voorheen al Bloemfontein-gehore met sy romerige stem gaande gehad.

Die titel Eine kleine Jazzmusiek is afgelei van Mozart se bekende Eine kleine Nachtmusik vir stryk-ensemble.

Musanete Sakupwanya

’n Beweging van dié werk met ’n heerlike jazz-kinkel is deel van die instrumentale aanbod, soos ook Elvira Madigan, die volksnaam vir die stadige beweging uit die Klavierconcerto nr. 21.

’n Greep uit Simfonie nr. 40 en Lacrimosa uit die Requiem sal ook in die opwindende program gehoor word.

Du Plessis sê “Mozart in alle gedaantes” word in die uitvoering voorgesit – “oorspronklik, bietjie verwerk tot heeltemal opge-jazz”.

Die Odeion-kwartet sal kans gegee word om ’n (onverwerkte) deel uit Mozart se Strykkwartet nr. 16 in E mol majeur te speel waarmee die ensemble in Januarie vanjaar die Johannesburg Internasionale Mozartfees geopen het.

Du Plessis en Minnaar sal op die fees ook gehoor word in Pieter en die Wolf, Prokofiëf se orkeswerk vir kinders, waaroor gister in Volksblad berig is.

  • Du Plessis is die pianis en Minnaar die verteller. Hulle tree saam met die Vrystaatse Simfonieorkes op.Eine kleine Jazzmusiek: 14 Julie om 20:00, 16 Julie om 20:30 in die Sand du Plessis-teater­. R130, 85 minute. Besprekings is by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.