Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Ná 2 Fiëstas wil Hindley aanhou beweeg, aanhou speel
Nie een nie, maar sommer twee Fiëstapryse vir Robert Hindley. Foto: Nardus Engelbrecht

Hy was reeds in die wolke toe hy hoor hy is benoem vir die gesogte kykNET Fiësta-pryse vir sy rol as ’n geestelik geknakte jongman in die toneelstuk Valsrivier. Op gister se glansaand het die 22-jarige Robert Hindley toe sommer twee beeldjies gaan haal vir beste opkomende kunstenaar én beste akteur. Hy het per epos met Laetitia Pople gesels.

Wat het deur jou kop gegaan toe jy hoor jy wen in twee kategorieë?

“Ek was uit die veld geslaan. Ek kon dit nie regtig glo toe hulle my naam vir die tweede keer lees as wenner nie. Wat moet ’n mens in daai oomblik dink? Ek kon skaars behoorlik praat. Ek was só dankbaar en ek is steeds.

Vertel waar dit als begin het – jou liefde vir teater en toneelspel? Wat was die vonk?

Ek dink my ouers het van my kinderdae af ’n performer in my raakgesien. My pa en veral my ma het al my manewales geduldig deurgesit, my aan goeie teater blootgestel, en het my uiteindelik by ’n wonderlike drama afrigter (Celia van den Berg) ingeskryf. Van daar af het ek geweet dis my “ding” en het ek aangehou om dit wat ek kan doen te verfyn... met baie hulp en aanmoediging.

Robert Hindley in die rol van Paul Botha in “Valsrivier” met Tinnarie Van Wyk Loots wat die rol van sy suster vertolk.Foto: Jaco Marais

Waar het jy grootgeword en wat kon jy doen om werk te maak van jou droom?

Ek het in Pretoria grootgeword en het daar gebly tot en met my matriekjaar. Ek was gelukkig genoeg om drama as vak op hoërskool te neem en is deur ongelooflike mentors aangemoedig om deel te neem aan die Nasionale Toneelspelkompetisie. Ná drie jaar se probeer is ek daar raakgesien deur die WOW-inisiatief wat my help studeer het op Stellenbosch.

Vertel van jou studies op Stellenbosch. Wat put jy daaruit?

Ek het laasjaar my honneursgraad in toegepaste teater voltooi en ek sal altyd dankbaar wees ek het dit gedoen. Omdat ek grotendeels op clowning gefokus het, was dit uitdagend en stimulerend om tegelyk ’n akademiese hoed én ’n kreatiewe hoed te dra. Dit was ongelooflik verrykend en het my perspektief oor die potensiaal van die teatermedium beduidend verbreed.

Waar het jy die rol van Paul Botha in Valsrivier gaan haal?

Die mooiste en hartseerste ding van daai rol is dat Paul se chaotiese leefstyl en aksies ’n manifestasie van sy sensitiwiteit was en, soos almal van ons, het hy swaar gedra aan bagasie wat nie eens aan hom behoort het nie. Ek dink hy het, weens sy rou sensitiwiteit en aanvoeling, ’n keuse gehad: lewe in ander mense (of kragte) se chaos, of lewe in chaos waaroor hy beheer het, al is dit selfvernietigend. Ek moes in my kort leeftyd ook sulke besluite neem en kon my só baie met die karakter vereenselwig. Rolspel is eintlik ’n aanhoudende gesprek met jouself in sekere omstandighede.

Hoe het jy in voeling met daardie tydvak gekom?

Ek het soveel perspektiewe, ervarings en stories as moontlik ingeneem van hoe dit was om in daardie tyd (die jare 1980) te lewe, te dink en te voel. Ek wou ’n idee kry van wat belangrik was vir wie. So my strategie was om te luister, sonder oordeel.

Robert Hindley Foto: Verskaf

Dit is jou eerste groot rol. Voel jy dit (die pryse) stel die lat hoog vir jou as ’n jong akteur?

Dis effe oorweldigend en ek dink ’n mens kan maklik swik onder verwagtinge wat jy op jouself plaas. Ek is nog altyd my eie grootste kritikus, en sal waarskynlik altyd wees, maak nie saak hoe ‘suksesvol’ of ‘onsuksesvol’ my werk is nie. En so glo ek darem dat die sukses niks anders as momentum is nie, en dat ek altyd kan staat maak op raad en advies van dié met latte hoër as myne.

Hoe wil jy graag sien dat jou loopbaan verder ontwikkel? Skryf jy ook?

Ek wil aanhou beweeg, aanhou speel. Ek voel baie tuis in die dramatiese konteks en sal altyd daarin wil werk, of dit nou as performer of praktisyn is. Ek geniet dit ook om te skryf en vind baie aanklank daarby om groepe te fasiliteer onder die sambreel van toegepaste teater.

Covid-19 het die kunste en kunstenaars baie hard geslaan - vertel wat jy doen om gemotiveerd te bly en aan te hou met dit waarin jy glo?

Ek probeer myself herinner dat wat ons as kunstenaars doen, soms juis gebeur in tye van onsekerheid, van frustrasie en van swaarkry. Ons werk daarmee en weef dit in patrone wat vir ander verstaanbaar is. Dit is só belangrik. En ons is al deur baie erger. Ek vind inspirasie in hoe mense kan opstaan nadat hulle platgeslaan is. In die konteks van Covid-19 probeer ek myself só gedra.

Hoe ontspan jy?

Ek hou daarvan om met my masker al langs die strand te stap, om heeltemal te veel tyd met my meisie, Kyla, deur te bring en so elke nou en dan te gaan draf as die gees my lei. Ek speel ook deesdae baie skaak aanlyn.

Valsrivier is die toneelverwerking van Dominique Botha se debuutroman. Dit is verlede jaar by die Toyota US Woordfees opgevoer onder spelleiding van Janice Honeyman. Daar is ’n moontlikheid dat dit later vanjaar by die Vrystaat Kunstefees opgevoer gaan word.

Meer oor:  Fiëstas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.