Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Nuwe fees vir klassieke musiek blom in Bloem
Die eerste Vrystaat Klank en Klassique (VKK) vind van 1 tot 3 Mei plaas.

’n Nuwe musiekfees wat die kollig geheel en al op klassieke musiek plaas, gaan binnekort in die Rosestad blom.

Die eerste Vrystaat Klank en Klassique (VKK) vind van 1 tot 3 Mei in Bloemfontein plaas en sal as ’n uitbreiding van die Vrystaat-Kunstefees aangebied word.

Volgens Elretha Britz, stigter en kurator van die VKK, was dit “tyd om klassieke musiek ’n eie nis te gee” sodat kunsmusiekkonserte nie soos op die Vrystaat-Kunstefees met ander konserte bots nie.

“Musici en gehore het gekla oor die oorvleueling van konserte (op die Vrystaat-Kunstefees), wat maak dat die bywoning van klassieke musiek dikwels in die slag bly,” sê Britz.

“Eenvoudig gestel, musici en gehore se belangstelling in ernstige musiek op die kunstefees het afgeneem.”

Hoewel klassieke musiek steeds op die Vrystaat-Kunstefees se program ingesluit sal word, bied die VKK nou ’n bykomende en nuwe platform vir die liefhebbers van hierdie musiek.

“Klank en Klassique gee vir die beoefenaars van Westerse kunsmusiek die geleentheid om aan die liefhebbers van dié musiek te bied wat hulle graag wil hoor,” sê sy. “Aanpassing hoef nie gemaak te word ter wille van die breë feespubliek nie.”

Die fees, wat volgens Britz “beslis elke jaar” aangebied sal word, sluit vanjaar vyf konserte in.

Die Odeion-strykkwartet bestaan uit, van links, Samson Diamond (eerste viool), Jeanne-Louise Moolman (altviool), Anmari van der Westhuizen (tjello) en Sharon de Kock (tweede viool).
Die sopraan Magdalene Minnaar.
Die Lavrova-Primakov-klavierduo bestaan uit die Russe Natalia Lavrova en Vassily Primakov.

Dit begin op 1 Mei met die Dean’s Gala Concert, waartydens die Odeion Skool vir Musiek (OSM) se dosente, topstudente en die OSM Camerata gaan optree.

Op 2 Mei span die gevierde Odeion-strykkwartet en die tjellis Susan Mouton saam vir Schubert se grootse Strykkwintet in C majeur D. 956.

Die sopraan Magdalene Minnaar en die pianis Maryke Johnson bied die middag Van Schubert tot Schönberg aan, ’n uitvoering van liedere wat ook Schumann, Strauss, Sjostakowitsj en die Suid-Afrikaner Antoni Schonken insluit.

Benewens die beeldsending van die Metropolitan-operahuis se produksie van Pagliacci, met Luciano Pavarotti in die hoofrol, gaan die Russiese klavierduo Lavrova-Primakov die fees se tweede dag met werke deur Mozart, Saint-Saëns, Anderson en Tsjaikofski afsluit.

Die fees eindig op 3 Mei met ’n gratis simfoniekonsert in die Anglikaanse katedraal. Die Vrystaatse Simfonieorkes voer Buxtehude se Jesu Membra Nostri en Pergolesi se “Stabat Mater” onder leiding van Alexander Fokkens uit. Die mezzosopraan Teresa de Wit en die sopraan Magdalene Minnaar is die soliste.

Ricardo Peach, die Vrystaat-Kunstefees se feesdirekteur, het in 'n verklaring gesê die voordeel van die VKK is dat geen konserte sal oorvleuel nie. Die hele program word boonop in samewerking met die OSM in die Odeion-teater met sy puik akoestiek aangebied, sê hy.

Spyseniering, wat kos en wyn insluit, sal op 1 en 2 Mei beskikbaar wees.

  • Die eerste Vrystaat Klank en Klassique vind van 1 tot 3 Mei in die Odeion-teater en in die Anglikaanse katedraal in Bloemfontein plaas. Naweekpakkette kos R550 (R400 vir pensioenarisse). Kaartjies vir afsonderlike konserte beloop R140 (volwassenes), R70 (pensioenarisse) en R50 (studente, skoliere en groepe). Dit is buiten Lavrova-Primakov se konsert wat R160 (volwassenes), R80 (pensioenarisse) en R60 (student, skoliere en groepe) kos. ’n Skenking van R40 word gevra om die Pagliacci-vertoning by te woon. Bespreek by Computicket.
  • Elretha Britz is ’n gereelde medewerker van Netwerk24 en Volksblad.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.