Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Nuwe inperking slaan Nasionale Kunstefees hard
Rob van Vuuren

Die Nasionale Kunstefees en kunstenaars wat daar sou optree, is swaar getref deur die nuwe aangepaste vlak 4-inperking wat Sondagaand afgekondig is.

Alle planne om opvoerings in Suid-Afrika voor ’n gehoor aan te bied is laat vaar. Dit ook geld vir Makhanda, die tuiste van die fees wat gedurende die wintermaande duisende kunspelgrims trek, maar ook vir die opvoerings wat as voorbrand van die fees op ander plekke beplan is.

Verlede week se aanbiedinge van die fees in Johannesburg is weens die toename in koronavirus-infeksies in Gauteng reeds vooraf deur die feesbestuur gekanselleer. Opvoerings in Gqeberha (Port Elizabeth) is pas gekanselleer, terwyl Kaapstad en Durban wel vroeër vandeesmaand met opvoerings kon voortgaan. Die fees sou van 8 tot 18 Julie in Makhanda aangebied word.

Dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aangekondig het dat Suid-Afrika na ’n aangepaste vlak 4 van die staat van inperking skuif. Dit beteken dat alle rolprent- en ander teaters, museums, galerye, argiewe en biblioteke, asook enige bymekaarkomplek wat met kultuur, vermaak en/of ontspanning verband hou, van 28 Junie tot minstens 11 Julie gesluit sal wees.

Zane Meas

Ramaphosa het ook enige reise vir ontspanning na of van Gauteng verbied. Dit het ’n groot invloed op die fees wat hoop om gehore te trek uit Gauteng na die kleiner, “lewende” fees wat op die Oos-Kaapse dorp Makhanda aangebied word.

Volgens die feeshoof, Monica Newton, is dit ’n groot terugslag, maar hulle gaan voort met hul plan B, wat binnekort bekend gemaak sal word. Sy sê sy sal meer inligting daaroor kan verskaf nadat behoorlike samesprekings met al die betrokke partye oor die verandering van die feesprogram gehou is.

“Dit is ’n terugslag vir die fees, die span, kunstenaars, tegniese spanne en die dorp Makhanda wat die ekonomiese inspuiting (van die fees) bitter nodig het. Daar was baie ure se beplanning. As Nasionale Kunstefees is dit ons hoofdoel om ruimtes te skep vir kunstenaars om hul werk aan te bied en geleenthede te gee vir gehore om geïnspireer, besiel en getransformeer te word. Ons is steeds 100% daartoe verbind om die mandaat uit te voer, al is dit in hoogs uitdagende omstandighede.”

Dit is vanjaar die eerste keer dat die fees ’n hibriede model – met vertoonvensters in groot stede vóór die eintlike fees, ’n veel kleiner fees as gebruiklik op Makhanda, asook ’n virtuele fees – sou volg. Verlede jaar se fees was net aanlyn.

Sandra Prinsloo Foto: Theana Calitz

Onder die produksies wat in die dorp aangebied sou word, is Kamphoer: Die verhaal van Susan Nell onder regie van Lara Foot, Covid Moons, geskryf en onder regie van Clare Stopford en Van Wyk: The Storyteller of Riverlea oor die Suid-Afrikaanse skrywer, digter en politieke aktivis Chris van Wyk met Zane Meas in die rol as Van Wyk. Hy is aan die woord en het ook die stuk geskryf. Dit sal nou aanlyn te sien wees.

Kamphoer kan weens kontraktuele verpligtinge teenoor ander feeste nie aanlyn vertoon word nie, het die vervaardiger, Johan van der Merwe, gesê. “Dit moet onder meer na die Kalfiefees (in Hermanus) gaan, wat intussen uitgestel is, asook die vrouefees in die Playhouse-teater in Durban, asook Innibos in Mbombela. As dit aanlyn is, kan enigiemand in die wêreld kyk, so ons moet ons verpligtinge nakom.”

Sibongile Mngoma, die operasangeres wat vanjaar die sitstaking in die Nasionale Kunsteraad se kantore in Johannesburg gelei het, sou in die konsert Opera Meets Jazz optree. Dan was daar ook die gewilde komedievertoning Very Big Comedy Show met Rob van Vuuren as gasheer. Daar word tans onderhandel met die partye om van die produksies aanlyn aan te bied. Die konserte wat in Johannesburg gekanselleer is, is wel opgeneem en kan later aanlyn gekyk word.

Meer oor:  Kunstefees  |  Aanlyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.