Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
‘Ooms’ van Innibos kuier eersdaags in Bloemfontein

As hy só kan “aangaan” wanneer hy in sy sestigs is – soos wat Tobie Cronjé en Gerben Kamper nog kan doen – sal hy “f***en bly wees”.

Chris Vorster (46), regisseur, skrywer en dosent aan Kovies, skud sy kop wanneer hy dit oor dié twee gesoute akteurs sê.

Dit is nie ’n gewone ouetehuis nie, dis eerder ... vir skatryk oues wat lastig geword het'.

Ooms, ’n verhoogstuk uit Vorster se pen, het dié week sy debuut op die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Nelspruit gemaak.

Omdat dit vars op die planke is, was dit nie sonder tegniese probleme nie. Dit het natuurlik niks te doen met hoe goed voorbereid ’n mens vir ’n verhoogstuk is nie, sê Vorster.

Hy het Vrydag heen en weer gedraf om tegniese probleme, soos met die klank, te help oplos.

“Om met ’n stuk op ’n fees te debuteer is altyd woes. Daar is soveel dinge wat verkeerd kan loop. Uiteindelik kan jy op ’n kunstefees net dankbaar wees as jy deur die opening van ’n stuk kom sonder ’n groot disaster. En daar was nie ’n groot disaster nie,” sê hy verlig.

In ’n stadium moes die kragopwekker in die saal van die Laerskool Nelspruit, waar die stuk opgevoer word, ingespan word.

Omdat Oom sy debuut op Innibos maak, moet die toneelstuk nog “ingemessel raak”. Die akteurs en die gehoor moet mekaar nog behoorlik vind, sê hy.

Vorster is ’n dosent in rolprentgeskiedenis en rolprent-narratief by die Universiteit van die Vrystaat.

Hy skryf die afgelope 20 jaar minstens twee verhoogstukke per jaar, “met gemengde sukses”, sê hy.

Ooms is terugsitteater; dit haal die erns uit oudword.
Tobie Cronjé

Toe hy nog ’n akteur by 7de Laan was, het hy min tyd vir skryf gehad, want hy het laat saans by die huis gekom.

Vandat hy Gauteng vir Bloemfontein verruil het – “die beste besluit in my lewe” – bestee hy sy tyd eerder aan skryfwerk as om in die verkeer te sit. Deurdat hy tot drie ure per dag wen (wat hy in die Gautengse verkeer sou deurbring), kan hy agter die rekenaar inskuif.

Die vars Vrystaatse lug voel lekkerder as die dik, Gautengse “pasta-lug”, vertel hy.

Op 46 is daar “nog baie jare oor” om te oefen om beter te skryf. Vanjaar sal hy drie of vier verhoogstukke skryf.

“Elke keer nadat ek ’n verhoogstuk geskryf het, voel ek dis horrible. Dan wil ek wéér skryf om te verbeter.”

Vorster sê hy het baie respek vir Cronjé en Kamper wat soveel uithouvermoë het. “Dit verg ’n baie spesifieke, gedissiplineerde persoon om in jou 60’s só toneel te kan speel. Hulle sit soveel harde werk in. Tobie en Gerben is onder die oudste akteurs met wie ek al gewerk het. Dis vir my ’n wonderlike voorbode van my eie werktempo wanneer ek eendag in my sestigs gaan wees.”

Oor die gehoor se geskater vandag, sê hy: “ ’n Mens is altyd dankbaar vir reaksie, dat mense die storie volg en vir hul laughs.”

Al manier hoe jy 'vrywillig' hier uitkom, is in ’n doodskis.

Cronjé en Kamper speel twee ooms – Pierre en Frans – in Huis Phoenix, ’n ouetehuis. Hulle dra groen sweetpakke. Drie kombuistafels en ’n paar stoele word as hul hulpmiddels op die verhoog ingespan.

Matrone “Daisy de Melker” gee hulle al hul hel.

’n Groot skerm agter op die verhoog, waarop beelde uit flieks soos One Flew Over the Cuckoo’s Nest vertoon word, het ten doel om die gehoor se verbeelding te verbreed. Dit is juis nie om die gehoor se verbeelding in te perk nie, sê Vorster.

Die ooms gebruik die internet om ’n wraakvideo van Frans se seun op YouTube af te laai.

Ooms gaan ná Innibos opgevoer word op die Vrystaat-kunstefees wat eersdaags begin.

Cronjé het vroeër in ’n onderhoud gesê: “Ooms is terugsitteater; dit haal die erns uit oudword.”

Dit is nie ’n gewone ouetehuis nie, dis eerder ’n soort “verbeteringskool vir skatryk oues wat lastig geword het”.

Die tehuis is op ’n luukse landgoed iewers in die Kaap langs die see. Dit is omhein soos ’n tronk met wagte en honde. Al manier hoe jy “vrywillig” hier uitkom, is in ’n doodskis.

Frans (Kamper) is al ’n hele ruk daar en het ’n paar keer probeer ontsnap. Pierre (Cronjé), glo geskors uit huis Silwerkruin oor sy onhebbelike gedrag, het pas daar aangekom.

Die ooms stamp aanvanklik koppe, maar besef gou dit is nie “ons teen mekaar nie”, dit is eerder “ons teen die kinders”, vir wie hulle op hul oudag net “ ’n erfporsie werd is”.

Chris Vorster sê hy het baie meer tyd vir sy skryfwerk sedert hy Gauteng vir die Vrystaat verruil het. Hy is ’n dosent aan die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Nico Gous
Tobie Cronjé en Gerben Kamper in ’n toneel uit Ooms. Foto: Nico Gous
Chris Vorster gesels oor sy nuutste teaterstuk, Ooms, wat op Innibos gedebuteer het. Foto: Nico Gous

Meer oor:  Innibos  |  Bloemfontein  |  Nelspruit  |  Drama  |  Toneelspel  |  Toneelstuk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.