Die Oppiwater-kunstefees is ’n tweede keer uitgestel, maar word in April in ’n bioborrel aangebied.
Almal aan boord van die MSC Orchestra moet vooraf vir Covid-19 getoets word, sê Frans Swart, bestuurshoof van Lefra Produksies, wat die fees in samewerking met RSG aanbied.

Die Oppiwater Kunstefees is weer uitgestel.
“Jy sal nie op die skip toegelaat word as jy positief getoets is nie. Dus sal daar ’n veilige borrel wees van ’n groep mense wat nie die virus het nie. Niemand kan dit oordra nie. Die veiligheidsmaatreëls is steeds in plek en daar is kajuite vir isolasie beskikbaar indien iemand sou siek word. Ek dink winkelsentrums is gevaarliker.”
Die fees is verlede jaar na Januarie uitgestel en die feesorganiseerders het besluit om die fees weens die tweede vlaag infeksies nog ’n keer uit te stel.
Die reis vanaf Kaapstad na Lüderitz en Walvisbaai in Namibië sal nou van 21 tot 26 April duur.
Dit word selfs later as vanjaar se Oppiwater-fees gehou omdat dit meer as een keer uitgestel is. Dié reis duur van 5 tot 9 April vanaf Durban na Mosambiek.
“As 2020 ons iets geleer het, hanteer jy enige curveball wat na jou kant toe kom,” sê Swart.
“In Maart het Januarie 2021 nog ver en veilig geklink. Ons het vir kunstenaars gesê is ons nie meer by magte om self besluite te neem nie.
“Gelukkig het die kunstenaars baie begrip hiermee,” sê Swart.

Frans Swart, feesbestuurder van Lefra Produksies.
“Dit is natuurlik nie ’n uitgemaakte saak dat ons wel daardie tyd reis nie. Ons moet maar sien wat gebeur. Dit is wat die moeilikste is: ons kan nie beplan nie.”
Die MSC Orchestra kan 2 550 passasiers akkommodeer en daar is nog kajuite beskikbaar.
Bel MSC Cruises by 087 630 0333 of epos aan info@msccruises.co.za of bel Lefra Produksies by 011 815 3000 of stuur ’n e-pos aan admin@lefra.com.