Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Prinsloo weer in lewende lywe op Nasionale Kunstefees

Sandra Prinsloo is een van die kunstenaars wat op vanjaar se Nasionale Kunstefees in Makhanda op die verhoog sal wees.

Sandra Prinsloo in ‘Kamphoer – die verhaal van Susan Nell’. Foto: Eye Poetry Photography

Die fees word van 8 tot 18 Julie aangebied.

Prinsloo is te sien in die reeds bekroonde eenpersoonstuk Kamphoer – die verhaal van Susan Nell onder regie van Lara Foot. Die medevervaardiger van die stuk, Johan van der Merwe van Theatrerocket, sê hy is verheug dat die stuk op die fees opgevoer gaan word.

Covid Moons, geskryf en onder regie van Clare Stopford, is ook op die planke. Celeste Loots en Thulani Nzonzo is in die rolverdeling. Dit speel af gedurende die eerste fase van die inperking. In hierdie tyd leer twee vreemdelinge mekaar deur die skeidsmuur tussen hul woonstelle ken.

Van Wyk, The Storyteller of Riverlea gee die Suid-Afrikaanse skrywer, digter en politieke aktivis Chris van Wyk se menings in sy eie woorde weer. Zane Meas is aan die woord en hy het ook die stuk geskryf.

Op groter skaal is Sibongile Mngoma se konsert Opera Meets Jazz. Sy tree op saam met jazz-musikante Lungelo Ngcobo, Tshepo Mngoma, Edwin Steyn en Kenny Williams. Hulle bied ’n program aan waarin opera en jazz naatloos by mekaar aansluit. Die konsert word op 16 Julie gehou.

Dan is daar die Very Big Comedy Show. Dis ’n grensverskuiwende weergawe van Rob van Vuuren en ander komediante se baie gewilde komedieprogram deur die jare. Van Vuuren en TaylorMade Productions bring 12 van ons land se beste komediante op dieselfde tyd in Makhanda, Kaapstad en Johannesburg op die verhoog en almal word deur die internet verbind. Al die name is nog nie bekend gemaak nie, maar Van Vuuren is die gasheer in Makhanda, Tumi Morake in Johannesburg en Alan Committie in Kaapstad.

Van die ander hoogtepunte op die program is:

  • Hedy! The Life and Inventions of Hedy Lamarr met Heather Massie, wat meer wys van die rolprent-ikoon se talent as uitvinder. Die produksie word direk van die Reykjavik-randfees gestroom.
  • The Ecstatic: ’n Dansproduksie waaraan die danser en choreograaf Jeremy Nedd en Impilo Mapantsula saamgewerk het om ’n pantsula-dansstuk te skep wat in kerklike verband uiting gee aan diep gevoelens deur dans, stem en musiek.
  • Another Kind: Dit is geskryf deur Amy Louise Wilson, die wenner van Distell se nasionale teksskryfkompetisie in 2020. Dit is ’n stuk geskryf vir ’n begrafnis en bestaan uit video- en klankgrepe. Dit is aangepas na die skrywer se oorspronklike teks Another Kind of Dying, wat weens die pandemie nie as drama opgevoer kon word nie.
  • Chaotic Pleasure: Hierdie uitstalling wys die werk van Blessing Ngobeni, 2020 se Standard Bank Jong Kunstenaar-wenner vir beeldende kuns. Hy verweef verskillende mediums soos collages op doek, vlekvrye staal, beeldhouwerk en geanimeerde video’s.
  • Nothing Here Does Not Hear You van James Webb is ’n plek-spesifieke klankinstallasie wat saamgestel is uit onderhoude en navorsing wat gedoen is oor die ruimte wat voorheen bekend gestaan het as die 1820-Setlaars-monument. Onderhoude wat opgeneem is, is ontwikkel tot ’n reeks tekste wat gebruik kan word as seëninge of smeekbede.
  • Nature is Louder: ’n Muurskildery word van 15 tot 22 Junie deur die kunstenaar Lisolomzi Pikoli en nog drie kunstenaars geskilder reg langs die taxistaanplek in Linkstraat. Die mens se verhouding en dikwels misbruik van die natuur kom onder die loep.
  • Purna Deb is in Kalkutta in Indië gebore. Haar etse beeld droombeelde uit en is in die Monument te sien. Sy sal ’n demonstrasie van haar werk gee.

Besprekings vir dié en al die ander aanbiedinge open op 21 Junie. Besoek nationalartsfestival.co.za vir meer besonderhede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.