Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Ses dae van feestelike uitsendings
RSG-kunstefees: liefde en lag vanjaar se tema
RSG hou weer kunstefees

So ’n onmisbare hoogtepunt het RSG se kunstefees vir luisteraars geword dat hulle verlof neem om daardie ses dae ongestoord radio te kan luister.

Kobus Burger, uitvoerende vervaardiger van drama by RSG, is die stigter van die RSG-kunstefees wat met die Fleur du Cap- en Basa-prys vir vernuwing in teater bekroon is.

Die RSG-dramahoof, Kobus Burger, sê hulle is die afgelope weke oorval met e-pos van mense wat wil weet wanneer vanjaar se fees is sodat hulle betyds verlof kan insit. 

En hier is dit nou: 13 tot 18 November.

Wat vanjaar se fees ’n groter treffer as die afgelope drie gaan maak, is liefde en lag. Burger sê dit was nie ’n beplande tema nie, maar nadat die lywige program saamgestel is, het dié twee elemente uitgetroon en loop soos ’n goue draad deur die programme.

Onder die humoristiese uitsendings is verwerkings van Jan Spies se essays, ’n nuwe komiese produksie met Emo Adams, Schalk Bezuidenhout en Lindie Stander getiteld vryLAG, ’n dokumentêr oor die Luxurama-teater in die Kaap waar die Adams-broers en tydgenote hul vernuf geslyp het, Afrikaanse humorliedjies in die internasionaal bekende operasanger Michelle Breedt se uitvoering en die Shakespeare-komedie Twelfth Night.

Ander aanbiedings wat luisteraars sal laat glimlag omdat hulle die kans kry om dit te hoor, en nogal gratis, is Amanda Strydom se eerste kabaret, State of the Heart, waarmee die fees open, en ’n Oulap se rooi oor die geliefde skrywer Audrey Blignault wat vanjaar 100 sou word. 

Jana Cilliers

Van die liefde kry die mens nooit genoeg nie en vanjaar kan luisteraars hul kruike vul met Boegoe vannieliefde waarin Lize Beekman toonsettings van Hans du Plessis se transponerings van Hooglied sing, en Die liefde, bittersoet met getoonsette verse van die Griekse digter Sappho, ’n vrou wat Plato as “die tiende muse” beskryf het.

Lief-lief deur Afrikaans, die “oudste en stoutste verse van 28 digters wat hartstog, passie en patos blootlê”, en die bekendstelling van Lina Spies se digbundel Sulamiet, waarin die liefde, asook die religieuse, natuurskoon en die kunste besing word, is nog “liefdes”-programme. 

Debuutproduksies met gravitas waaroor luisteraars se gedagtes nog lank sal draal, is Engel met ’n hamer en Sarah.

Engel met ’n hamer deur Joey van Niekerk is ’n drama oor die teoloog Beyers Naudé, wat in 1993 vir die Nobelprys vir vrede benoem is en 14 eredoktorsgrade in sy leeftyd ontvang het. 

Vervleg met die onstuimige gebeure in sy lewe as anti-apartheidsaktivis is ’n aangrypende liefdesverhaal, asook onverbiddelike geloof en hoop.

Schalk Joubert

Sarah is volgens die skrywer ­Karien Polley die ware verhaal van die Oos-Kaapse Sarah Baartman wat in die 19de eeu as ’n frats in Europa geparadeer is. Die uitbeelding van dié onreg strek verby die grense van drama en dokumentêr. 

Musiekhoogtepunte sluit die samekoms van twee Suid-Afrikaanse Grammy-wenners in, die fluitspeler Wouter Kellerman en die Soweto Gospel Choir, ’n konsert met Anton Goosen en sy Bushrockband en ’n opwindende aweregse verwerking van Vivaldi se Vier seisoene.

Goosen het vriende soos David Kramer, Churchil Naudé, Zolani Mahola van Freshlyground en ­Tribal Echo genooi om saam met hom en sy band liedjies van sy 25 jaar oue album Danzer te sing. 

Verse wat saam met Vier seisoene geskryf is, vermoedelik deur Vivaldi self, is uit Italiaans vertaal en sal voorgedra word saam met die uitvoering deur ’n ongewone trio – ’n violis, trekklavier- en baskitaarspeler.

Verskeie projekte soos visuele kuns, bewegingskuns, opdrag-eksperimente asook die skedule sal ­later bekend gemaak word.

Cintaine Schutte
Deon Lotz
Richard van der Westhuizen
Joanie Combrink

Meer oor:  David Kramer  |  Rsg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.