Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Woordfees: Ryk, die coolste Kiwi in die dorp
Ryk Hattingh Dinsdagmiddag in die ATKV Boektent. Foto: Le Roux Schoeman

Daar staan hy toe net ’n bietjie verleë, maar sonder skroom: Die outsider kaplaks in die kollig.

In Nieu-Seeland ken mense hom dalk net as die skoenmaker wat hou van bome, tuinmaak en boeke, maar Ryk Hattingh was nie Dinsdag om 17:00 doer in die land waar hy hom 19 jaar ­gelede gaan vestig het nie.

Hy was in die hartjie van die Woordfees in die hartjie van die Boland.

En hier, in die AKTV Boektent in Ryneveldstraat, Stellenbosch, ken die meeste mense hom ’n bietjie dieper. Vir versetpolitiek, porno en doodeerlik skryf. Hy’t in die 1980’s naam gemaak by Vrye Weekblad, grense beproef by Loslyf en hoewel hy sy boeke (eers Die tonnel in 1984 en voorlaastens Witskrif in 1997) ewe beskeie as literêre “valbaan” eerder as loopbaan beskryf, het dit hom nietemin ’n uitgelese gevolg besorg.

Hy’s die randfiguur se rand­figuur.

Antjie Krog beskryf Huilboek se 'toonaard' as 'tight'.

Toe was daar publikasiestilte. Die maer man met die baard en die diep stem, wat begin skryf het nadat hy as student Albert Camus se Die buitestander gelees het, het deurgaans met potlood dagboek gehou en gebou aan ’n korpus dinge om te sê en temas om na terug te keer. Sy pa, pak slae, bome, ’n byna-verdrinking, middelmisbruik, outa Toon. “Merkers in ’n mens se lewe.”

En toe Hattingh byna twee dekades se dink en uitpluis tot 159 blaaie distilleer, was die resultaat Huilboek. ’n Woedende slapbandjie wat prof. Joan Hambidge “ingesluk” het.

Dis ’n boek wat afsluit met ’n suiwer eksistensiële siersprong wat Antjie Krog, as fynvaardige onderhoudvoerder in Dinsdag se Woordfeesonderhoud, so te sê in pop-up-teater omskep het deur Hattingh te kry om die slot voor te lees. Krog, onder wie Hattingh by Vrye Weekblad gewerk het, beskryf Huilboek se “toonaard” as “tight”.

Huilboek – genoem na ’n boekie waarin die huilerige jong Hattingh in sy kinderdae moes gaan merkies maak om aan te toon hoeveel keer per dag hy sou gehuil het – is inderdaad “tight”. Maar sonder om toevuistig te wees. 

Ryk Hattingh se jongste boek, Huilboek, is vandeesweek die Woordfees op Stellenbosch bespreek. Foto: Le Roux Schoeman
Die digter Antjie Krog, wat die skrywer Ryk Hattingh se werkgewer was by Vrye Weekblad in die 1980's het die onderhoud met hom gevoer.
Biografie

Ryk Hattingh is die skrywer van Die tonnel, Markus vermoed ’n verhaalIgnatius Brand, Witskrif en die toneelstukke  Mynhoop  – ’n nokturne en Sing jy van bomme.

Hy het in die jare tagtig en negentig as joernalis by Vaderland,  Vrye Weekblad en Die Suid-Afrikaan gewerk, en hy was die redakteur van Loslyf.

Hy en sy vrou, Marténe,  het drie kinders. - Murray La Vita

Hy maak oop waar ook al in die boek jy oopmaakbl. 16: “Neem my as voorbeeld. Jy sien my nou so mooi speel met my kinders, jy sien my in die kombuis besig om kumara te skil, knoffel en preie op ’n kauriplank fyn te kap . . . ’n Gewone mens is wat jy sien. Dit was nie altyd die geval nie. Ek was nie altyd so nugter en voorspelbaar nie. Ek was ’n plofbare vent. Verslaaf aan alles. Selfsugtig, egosentries.”

Hattingh se toneelstuk Sing jy van bomme herleef ook op vanjaar se Woordfees en dié skrywer was opvallend in sy noppies met die aandag en agting vir hom hier in sy gewese tuisland. “My kinders is, soos: ‘Dad, what the f***?’ ” het Hattingh aan Krog gesê toe sy vra hoe dit voel om buite die kring van literêre bekendheid te leef.

Kyk, Ryk is cool. Hy gebruik die woord “altoos” en Latynse name vir voëls, glo in boeke sonder plot en as iemand hom ’n bier aanbied, sy hy ja, “een van daai baie grotes”.

Selfs met die studentedorp wat reeds stampvol is en meer as 70 000 kaartjies wat boonop verkoop is vir die megaproduksie wat die Woordfees deesdae is, is dié buitestander sonder twyfel steeds die coolste Kiwi in die dorp.

Lees meer oor Huilboek: 

  • Huilboek is ’n bestekopname van ’n wêreld wat agtergelaat is en andersyds ’n besinning oor ’n nuwe wêreld en ’n nuwe begin, skryf Sonja Loots.
  • Ryk Hattingh gesels met Murray La Vita oor taal, bome, verlies en siklone. En oor sy geliefde Outa Toon, aan wie hy in sy jongste roman, Huilboek, ’n stem wou gee. 
  • Selde – indien ooit – het hierdie leser so ingesluk geraak deur ’n boek, skryf Joan Hambidge

Meer oor:  Gedigte  |  Boek  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.