Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Schreiner gehuldig op skrywersfees
Olive Schreiner

Elke jaar in die hartjie van die winter word die skrywer, filosoof en politieke aktivis Olive Schreiner (1855-1920) gehuldig met die  Schreiner Karoo-skrywersfees op Cradock in die Oos-Kaap.

Werksessies, voorlesings, praatjies, musiekuitvoerings en die bekendstelling van Dorothy Driver se boek Olive Schreiner’s Poetics of Plants maak onder veel meer deel uit van die negende skrywersfees wat dié merkwaardige skrywer – veral bekend om die roman The Story of an African Farm – huldig.

Die fees word van 6 tot 9 Junie op Cradock, haar tuisdorp, aangebied.

Driver se boek word op Donderdagaand 6 Junie om 17:30 bekend gestel. Dit word gevolg deur ’n skyfievertoning.

Die boekwinkel Clarke’s het ook ’n opwipwinkeltjie by die geleentheid. Daarna kan mense in die Victoria-herehuis aansit vir aandete gevolg deur ’n musiekuitvoering van die Ginger’s Fault­orkes.

Op 7 Junie om 09:00 in die Schreinerhuis lees die digter Jonty Driver uit sy jongste digbundel voor en gesels hy ook oor die digkuns.

Ná teetyd word Will Schreiner, broer van Olive, gehuldig op die 100ste herdenking van sy afsterwe.

Dan volg ’n voorlesing uit My Darling Bessie, ’n boek wat die briewewisseling tussen Schreiner en haar niggie Bessie Reitz vervat, wat onlangs bekom is deur die Amazwi Suid-Afrikaanse Letterkundemuseum.

Ná middagete in die Schreinerhuis, berei deur kokke van die gemeenskap, volg ’n wandeling deur die ou Cradock. Dit word gelei deur Brian Wilmot en Sessie Sikunana. Dit sluit ook ’n besoek aan die Cradock-skrywersgalery in die Groot-Vis­riviermuseum in.

Ook op die oggendprogram is ’n reisskryf-slypskool deur Chris Marais en Julienne du Toit. Hulle bied ook later die dag ’n skyfievertoning aan.

En van 14:00 tot 17:00 word ’n slypskool in kreatiewe skryfkuns aangebied deur Jo-Ann Richards.

Om 16:00 volg ’n skemerdrankiegeselligheid op die oewer van die Groot-Visrivier met humoristiese vertellings.

Om 19:30 word die dag in die Victoria-herehuis afgesluit met ’n tipiese Groot-Karoo-aandete.

Die kosskrywers Tony Jackman en Gordon Wright gesels oor wyn en die kos wat voorgesit is.

Op Saterdag 8 Junie om 09:00 gesels die joernalis Toast Coetzer, ’n boorling van Cradock, oor sy liedjieboek The Last Days of Beautiful, om 10:00 gee die skrywers Fred de Vries en Richards hul indrukke van Cradock, en om 11:00 is die blogger Anje Rautenbach aan die beurt.

Die oggend word om 12:00 afgesluit met ’n voorlesing deur die skrywer en digter EKM Dido. Ook Clinton du Plessis sal uit sy jongste digbundel voorlees waarna stoepstories aangebied deur Jurie Taljaard volg.

Ná middagete in die skuur, waar die kunstenaar Annerie en kokke uit die gemeenskap optree, gesels die joernalis Martin Welz om 14:00 oor sy publikasie Noseweek en die nuus waarvan ons nie veronderstel is om te weet nie.

Daarna is daar ’n wandeling na Oukop en ’n soektog na Schreiner se gunstelingplante.

Om 16:30 vertrek ’n bus na die ou begraafplaas vir spookstories, en om 18:30 volg ’n musiekaand met Melina Smit en die Bontkloof-orkes in die Karoo Brew Art Café.

Die fees word die Sondag afgesluit met ’n besoek aan Schreiner se graf op Buffelskop. Die geselskap vertrek van Buffelshoek.

Kaartjies vir die fees kos R50 per praatjie, R150 vir ’n dag of R250 vir ’n feespas. Slypskole is nie ingesluit nie. Skakel 083 257 8601 met navrae.

Meer oor:  Cradock
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.