Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Small as skrywer en aktivis gedenk

Regstelling:

Die Burger het klagtes ontvang oor die artikel “Adam Small as skrywer en aktivis gedenk” (DB 01.03) waarin die letterkundige Etienne Britz na die beeldhouer Willie Bester as “halfbruin, halfswart” verwys. 

Britz reageer as volg: “Willie Bester, die beeldhouer en skilder na wie ek by die Pniël-fees ter huldiging van Adam Small kon luister, maak beswaar teen die gebruik van die woorde ‘halfbruin, halfswart’ wat ek in 'n artikel oor die Pniël-fees gebruik het om sy herkoms te beskryf. In sy toespraak het hy oor sy herkoms en jeugjare gepraat en die woorde ‘uit 'n gemengde huwelik’ gebruik. In 'n poging om sy verhaal by die fees weer te gee, het ek my eie uitdrukking gekies, sonder om te besef wat ek aanvang. 

Volgens Bester besef skrywers nie hoe seer uitdrukkings soos ‘halfbruin, halfswart’ iemand kan maak nie. Hy is 'n mens, nie iemand wat in terme van ras beskryf wil of moet word nie. Dit is 'n groot les vir my. Ek verstaan volkome wat Willie Bester bedoel. En ek is bitter jammer hieroor. Hiermee vra ek Willie Bester nederig om verskoning. Ons moet al ons medeburgers met sensitiwiteit en respek behandel, sekerlik 'n belangrike kunstenaar soos hy. Dit is belangrik dat Willie Bester my hieroor gesensitiseer het. Ek dank hom van ganser harte daarvoor.”

Die Burger vra ook om verskoning vir die publikasie van ‘n formulering wat as kwetsend ervaar is. 


Pniël was vroeër ’n sendingpos, tien kilometer vanaf Stellenbosch geleë. Die afgelope naweek is die onlangs ontslape digter Adam Small in hierdie skilderagtige dorpie gedenk. Die Pniël-fees van 2017.

Albie Sachs op die fees.

Die voorlaaste sprekers Sondagmiddag was regter Albie Sachs en die digter Breyten Breytenbach. Hulle het die twee hoedens verteenwoordig wat Small in sy lewe gedra het: dié van filosoof en skrywer, veral digter, en dié van politieke aktivis.

Regter Sachs het begin met ’n loflied vir ons land se sendingdorpies, “eilande van vryheid en selfstandigheid; pragtige plekke”. Ek was self onder die indruk van Pniël, en bly dat die goed versorgde dorpie die aktivistiese regter se “profound hope” vir Suid-Afrika kon versterk. Maar het hy dalk agtergekom dat eiendomsontwikkelaars op die gebied toesak, met die nuutgeboude Johannesdal-ontwikkeling wat in die agtergrond van die feesterrein opdoem?

Dat Sachs en Breytenbach, twee reuse in hul onderskeie velde, van ver af na die dorpie Pniël gereis het om die beskeie, gevoelige, fyn beskaafde Small te vereer, spreek boekdele oor die respek en liefde wat mense vir dié bruin digter voel.

Die premier van die Wes-Kaap, Helen Zille, was ook daar. Wat ’n reguit, eerlike, lewenswyse en vreeslose vrou. Sy het voor Sachs en Breytenbach se optredes ’n vraaggesprek met die organiseerder van die fees, Darryl David, gevoer oor haar outobiografie Not without a fight.

Nie een van die drie sprekers het veel oor Adam Small gesê nie. Maar ’n mens moes telkens aan Small dink.

Breyten is soos Sachs ’n politieke idealis. ’n Idealis egter met ’n korter lont van ongeduld as die hoopvolle, aktivistiese regter.

Regter Sachs het gesê die Suid-Afrika van apartheid het sy bevolking nie as mense met gelyke regte behandel nie. Die Handves van Menseregte wat hy help opstel het, beskerm egter nou die vryheid en waardigheid van elke individu in ons land. Dit is ook ’n maatreël teen die misbruik van mag waarmee ons self ander mense kan knou.

Ek moes onmiddellik dink aan Small se poging om die menslikheid van die bruin gemeenskap, en die aantasting van hul menslikheid onder apartheid, in sy werk aan die orde te stel.

Breyten Breytenbach lees van sy gedigte voor.

Premier Zille het verwys na ’n kultuur van persoonlike verantwoordelikheid wat haar party graag by burgers wil vestig. Small se kuns was ’n daad van persoonlike betrokkenheid by die vraag na die menswaardigheid van die bruin gemeenskap onder apartheid. Hy was by uitnemendheid ’n skrywer wat medeverantwoordelikheid vir die lot van sy medemens aanvaar het.

Breyten is soos Sachs ’n politieke idealis. ’n Idealis egter met ’n korter lont van ongeduld as die hoopvolle, aktivistiese regter. Op die fees het Breyten ’n verbeeldingryke, hiperboliese aanslag geloods op die huidige geslag van Suid-Afrikaanse leiers wat slegs in hul eie mag en geldmakery geïnteresseerd is.

Ek moes nogmaals aan Small dink. ’n Liefdevolle, diensbare, sagte mens van onkreukbare integriteit. Beskamend vir die apartheidstelsel. Maar beskamend ook vir sommige leiers van die huidige bewind.

Ek het die fees terdeë geniet weens die hoë gehalte van verskeie bydraes, waaronder Breytenbach se voordrag van sy eie verse. Betowerend mooi.

Hein Willemse het die geskiedenis van Small se Cape Flats Players deeglik nagevors. Mense soos ek wat die “betrokke” amateurtoneelopvoerings, die straattoneel en die protestoneel, bygewoon deur wit Nasionale gehore, meegemaak het, is aan dié vreemde tye herinner.

Die Pniël-fees was heerlik om by te woon, vanweë die eenvoud van die geleentheid, die betreklik klein publiek van wit en bruin mense uit die omgewing, die hartlikheid en vrygewigheid, en die absolute minimum aan geld maak uit enigiets. Uiters verfrissend was ook die gebrek aan ’n swaarwigtige gedweep met Adam Small.

Small se kuns was ’n daad van persoonlike betrokkenheid by die vraag na die menswaardigheid van die bruin gemeenskap onder apartheid.

Darryl David het in ’n stadium gesê honde is altyd op sy literêre feeste welkom. Iets wat my ook welkom en ekstra geïnteresseerd laat voel het. Daar was iets oop en bont en wyd aan hierdie huldigingsfees.

Die kunstenaar Willie Bester.

’n Boeiende bespreking van botaniese kuns, die kunstenaarstekeninge van skaars of nuut ontdekte veldplante, het byvoorbeeld nie veel met Adam Small te make gehad nie. Dalk was daar ’n vae verband met Small se moontlike Khoisan-voorouers, wie sal dit weet. Sy nuuskierige gees, indien dit die fees besoek het, sou dié bespreking definitief geniet het.

David self is nie ’n liefhebber van die Afrikaanse letterkunde van die gewone soort nie. Hy is ’n Indiër uit KwaZulu-Natal wat deur die skrywer Rita Gilfillan, destyds dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Durban-Westville, ’n liefde vir Afrikaans aangeleer het. Vandag is hy die doyen van Afrikaanse boekefeeste: stigter van die BookBedonnerd-fees op Richmond, die Schreiner-fees op Cradock, die Midlands Literary Festival in Howick, die JM Coetzee-fees op Richmond en die Breyten Breytenbach-boekfees op Montagu.

Ek bewonder David dat hy soveel van sy ingewings, belangstellings en geleenthede kon maak.

Entoesiasme en opdaag op geleenthede om deel te neem, kenmerk egter ook die talentvolle bruin skrywers, digters, akteurs en ander kunstenaars wat op die Small-fees hul opwagting gemaak het. Hulle is besig om nuwe skop aan Afrikaans te gee. Niks is vir die nagedagtenis van Adam Small so belangrik soos bruin mense wat hul eie hartstaal, Cape Flats-Kaaps, of enige ander variasie van Afrikaans, vandag geniet en hulle ekspressief en skeppend daarin uitleef nie.

Ek het die energie, vurigheid, snaaksigheid, spyker-op-die-kop slaan, warm gevoelvolheid of rou triestigheid van die bruin woordkunstenaar op die fees baie geniet. Gee die verskrikkinge en die verrukkinge gas in Afrikaans!

Dankie Jolyn Phillips, Diana Ferrus, Gaireyah Fredericks, Shirmoney Rhode, Natalia da Rocha, Peter Braaf. Spesiaal dankie aan die beeldhouer Willie Bester, halfswart, halfbruin, uiters begaaf, ’n man wat sy jeug in die verkeerde wêreld van apartheid met kreatiewe werk gewreek het.

Dít gesê, wil ek nogtans hulde bring aan Daniel Hugo, daardie sonore wit vakman van die Afrikaanse poësie, wat met twee afsonderlike bydraes die fees van Adam Small verryk het. Dit is belangriker om oor die struktuur van die Persiese kwatryn te praat as oor die politieke onstuimighede van die dag, of oor die bedreiging van Afrikaans. Wil die departement Afrikaans en Nederlands op Stellenbosch asseblief vir ons ’n fees reël waar dit verbode sal wees om oor Afrikaans as politieke of ander “issue” te praat. Dit is hoog tyd dat ons weer soos Hugo belang stel in taal en literatuur.

__________________

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.