Die jaarlikse Spier Light Art skop die naweek op dié Stellenbosse wynlandgoed af.
Vanjaar bestaan dit uit 21 uiteenlopende kunswerke wat lig- en klankinstallasies insluit en wat deur van Suid-Afrika se voorste kunstenaars en ontwerpers geskep is.

‘Crystal Wings’ op die Spier-liggiefees.
Die kunswerke is oor die Spier-landgoed versprei en besoekers sal in die aand rustig kan wandel en na die kunswerke kyk.
Twee openingseremonies vind ook Vrydag en Saterdag plaas.
“Op die openingsaande beweeg die vertoning. Die mense gaan saamstap met die vertoning van een punt tot ’n ander punt,” sê die Spier-woordvoerder Louise de Kock.
Die vertonings sluit in die choreograaf Jay Pather se stuk From Before, wat 22 Shembe-, klassieke ballet- en Bharatnatyam-dansers insluit, almal geklee in beligte kostuums; ’n optrede deur die Indoni-dansgeselskap en ’n produksie met groot poppe deur Janni Younge. Die vertonings begin om 18:00 en kaartjies moet hiervoor bespreek word.
Sondag is toegang tot die Spier Light Art gratis en die ligte sal elke aand teen sonsondergang aangeskakel word. De Kock meen ook besoekers moet teen sonsondergang daar wees, want “dan is dit op die mooiste”.
“Enkele werke is al voorheen op ander plekke vertoon, maar die meeste van die werke is spesiaal vir Spier Light Art gemaak,” sê De Kock. “David Brits, byvoorbeeld, het ’n reusagtige slangfiguur gemaak wat hoog uit een van die oudste eikebome op die Spier-werf hang.”
Sommige van die werke is ook speels en interaktief. Goldendean se Breathe Goldendean is ’n interaktiewe, opblaasbare beeldhouwerk waarop mens kan lê terwyl dit stilweg rondom jou gloei en “asemhaal”.
“Baie van die aktiwiteite op die plaas is ook aangepas om by die fees aan te pas,” sê De Kock. Pieknieks sal nou aangebied word tot 19:00 en die wynproe-tye is ook verleng.
“Die weer is heel aangenaam, maar mense wat vinnig koud kry moet net onthou om warm goed saam te bring,” sê De Kock.
* Spier Light Art duur van Vrydag tot 19 Januarie. Kaartjies kos R75 tot R650. Bespreek by Webtickets.