Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
‘Suid-Afrikaners moet besef: Jy is óf in Afrika óf jy is uit’

“Hoe belaglik is dit nie om ’n paneel bymekaar te sit en dan te sê: Bespreek Afrika. ’n Mens sal dit tog nooit doen met Europa nie,” het Ruda Landman Donderdag die gesprek Die nuwe Gesig van Afrika op die Literatuurfees op die Vrystaat Kunstefees begin.

Haar paneel het bestaan uit die Kameroense akademikus Achille Mbembe en drie Suid-Afrikaners: die sakeman Victor Kgomoeswana, en die Daily Maverick-joernaliste en skrywers van die boek Continental Shift, Kevin Bloom en ­Richard Poplak.

“As iemand Afrika sien as net een ding, is dit ’n aggressiewe politieke daad,” het Kevin gesê.

Hy het ook die geval genoem waar die nuutaangekondigde Britse minister van buitelandse sake, Boris Johnson, eens aan die Britse koerant The Spectator in ’n gesprek oor Afrika gesê het: “The problem is not that the British­ were once in charge, but that we are not in charge any­more.”

Kevin het ook verwys na Binyavanga Wainaina wat die draak met Westerlinge gesteek het toe sy in ’n skrywe aan Europeërs verduidelik het hoe hulle oor Afrika moet skryf. Sy het dit gedoen om Westerse stereotipes uit te wys. Wainaina het gesê wanneer Europeërs boeke oor Afrika skryf, moet hulle woorde soos donker, safari, Zoeloe of son in hul titel gebruik. Hulle moet ook seker maak dat hulle die snotneus-kind met ’n boeppens en prominente ribbes beskryf. Praat van Afrika of dit een land is waar dit altyd warm en stowwerig is, met groot troppe wilde diere en lang skraal swart mense wat honger ly.

Achille het op gister se bespreking gesê: “Afrika is ’n massiewe kontinent. As jy dinge gaan soek wat verkeerd is, gaan jy dit natuurlik vind. Maar vir elke ding wat verkeerd gaan, is daar ’n klomp klein dinge wat reg gaan.”

Hy het beklemtoon dat Suid-Afrikaners moet besef, jy is óf in hierdie ding (Afrika) óf jy is uit.

“Ons moet onsself die vraag afvra: Wat is dit wat vir ons, wat besluit het om ons lot met die kontinent te verbind, saak maak?

“Nie so lank gelede nie wou hulle ons laat verstaan dat Afrika geen toekoms het nie. Tog, oor die laaste 15 jaar, het ons ’n massiewe skuif gesien. Baie glo dat wanneer ons oor die toekoms van die wêreld wil praat, ons na Afrika moet kyk.”

Suid-Afrikaners moet besef hulle is deel van Afrika, meen hy. “Ons moenie dink ons toekoms lê in China of in die Weste nie. Ons toekoms lê in Afrika.”

Richard stem saam.

“Ons sal die koloniale grense wat in die 19de eeu in Duitsland getrek is, moet herevalueer.”

Ruda het die gesprek afgesluit deur aan die paneel te vra of hulle hul kinders in Suid-Afrika wil grootmaak.

Achille, Kevin en Richard se kinders is almal nog jonger as 12 jaar en al drie van die pa’s het met ’n glimlag ja geantwoord.

Meer oor:  Ruda Landman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.