Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Swyg is ’n universele taal
Charl Henning (links) en Erick Strydom in die vernuwende produksie Tok Tok.

Hoe oorbrug jy die taalkwessie as jy ’n universele verhaal vir kinders in Suid-Afrika wil skep? Jy swyg. En jy gebruik net gebare en bewegings. Dit is die oplossing waarmee die regisseur Dion van Niekerk en die akteurs Erick Strydom en Charl Henning vir die produksie Tok Tok vorendag gekom het.

Dié teaterstuk was verlede jaar die debuutwenner op die Vrynge van die Vrystaat Kunstefees en het daarmee ’n gleuf op die hooffees van dié fees (7 tot 14 Julie in Bloemfontein) verdien.

Van Niekerk vertel uit Oostenryk, waar hulle aan ’n internasionale somerskool oor fisieke teater en biomeganika deelneem, die ontwikkeling van Tok Tok was so problematies dat die verhaal en uitbeelding eers drie dae voor verlede jaar se fees gefinaliseer is.

Die verhaal gaan oor twee sielsgenote wat mekaar toevallig ontmoet. Die een is ’n skrywer wie se skryfwerk belemmer word deur sy hartseer oor sy hond se dood.

Die ander is ’n vrolike reisiger op pad na sy geliefde.

Van Niekerk sê omdat hulle nie ’n teks gehad het waarop hulle kon vertrou nie, moes hulle mekaar en die proses vertrou.

“ ’n Teks gee jou ’n mate van sekerheid omdat dit gewoonlik reeds ’n toets van aanvaarding deurstaan het. Ons het niks gehad om op te steun nie. Daarom was die gehoor se reaksie ’n verrassing terwyl ons uit die veld geslaan was oor die prys.”

Naòmi Morgan het in ’n resensie oor Tok Tok geskryf “die uitbeelding van die karakters en gebeure is pure poësie”.

Op ’n gestroopte verhoog word ’n eenvoudige voorwerp soos ’n verestoffer getransformeer tot ’n sokkerbal, kitaar, trompet, mikrofoon, gholfstok, swaard en vele meer.

Sy noem ook dat die akteurs se “omtowering van die alledaagse wonderbaarlike teater bied” en hulle is waardige opvolgers van die Franse mimiekmeester Marcel Marceau.

*

11 Julie om 10:00, 13 Julie om 20:00, 14 Julie om 10:00, 50 minute, Albert Wessels-ouditorium. R100 by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.