Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Toneelproduksies op Vrystaat Kunstefees staan uit
Bianca Flanders en Kees Scholten in die toneelstuk Krotoa, Eva van die Kaap.

Die toneelproduksies wat op die hooffees van die Vrystaat Kunstefees debuteer, het volgens die feesdirekteur, Ricardo Peach, vanjaar ’n sterk gravitas.

Dit word verleen deur gerekende kunstenaars soos Sandra Prinsloo, Gerben Kamper, Chris Vorster, Nico Luwes en Jerry Mofokeng, ’n toneelstuk uit Amsterdam en vertalings van bekroonde werke.

Peach is veral in sy noppies met KamphoerDié toneelstuk met ’n onmiskenbare Vrystaatse etiket is geskoei op die gelyknamige roman deur die Bloemfonteiner Francois Smith terwyl dié ware verhaal sy oorsprong in Winburg het.

Sandra Prinsloo sal te sien wees in die bekroonde Kamphoer.

Susan Nell, gespeel deur Sandra Prinsloo, is hier in ’n konsentrasiekamp in die Anglo-Boereoorlog grusaam verkrag en vir dood agtergelaat.

Dit is egter net die begin van haar pad wat op ’n ander vasteland in ’n latere era deur toeval weer met dié van haar verkragter kruis. Die produksie gedenk ook 120 jaar ná die Anglo-Boereoorlog.

Nog ’n spesiale debuut is The Island, ’n toneelstuk wat John Kani, Athol Fugard en Winston Ntshona geskep het terwyl hulle op Robbeneiland in die tronk was. Die regisseur Jerry Mofokeng druk ’n eie stempel daarop af met vroue (Michelle Joubert en Jane Mamotse Mpholo) pleks van mans in die twee rolle. Dit is ’n verhaal van bevryding, al speel dit in die apartheidsjare af.

Krotoa, Eva van die Kaap kom van die Volksoperahuis in Amsterdam met Bianca Flanders as Krotoa en Kees Scholten as Jan van Riebeeck. Sylvia Vollenhoven is die dramaturg van die verhaal oor die Khoimeisie wat as bemiddelaar en tolk tussen die inkommers en haar mense optree. Die destydse miskenning en wrywing tussen die nasies breek mettertyd haar gees.

Rehane Abrahamsspeel drie vroue in Brandbaar.

Brandbaaris ’n vertaling van Womb of Fire wat drie WoordTROfees op die US Woordfees ontvang het – vir beste produksie, regie en aktrise – en twee Fleur du Cap-pryse. Dit volg die slaaf Grote Katrijn se reis van Indië na die Kaap waar die VOC die dienskneg Zara postuum vir selfmoord gestraf het. Rehane Abrahams speel drie rolle in die verhaal wat in die 1700’s heen en weer tussen Indië en die Kaap beweeg. Sara Matchett is die regisseur.

Die hart verklap, Chris Vorster se vertaling van The Tell-Tale Heart deur Edgar Allan Poe, is ’n solostuk met Vorster self as akteur. Obsessie, vervolgingswaan en moord herleef in dié meesterstuk oor ’n man wat alles in sy vermoë doen om sy onskuld ná ’n wreedaardige moord te bewys. Dion van Niekerk is die regisseur.

Chris Vorsteris die skrywer van en akteur in Die hart verklap.

Gerben Kamper en Isadora Verwey is in die hoofrolle van die klassieke absurde drama Die koning sterf. Magsbehepte staatsleiers, diktators, outokrate en koninklikes word deur nuwes vervang wat die vergrype en magsug van hul voorgangers voortsit. Bartho Smit het dié relevante drama, Le Roi se Meurt van Ionesco, vertaal. Nico Luwes is die regisseur.

Diegene wat Johny Klein se voorlesing van die wonderlikste stories oor die mense van die Sandveld op RSG geluister het, kan nou dié Pomp-orrelkonsert op die verhoog beleef. Ferdinand Deist het die kontreistories geskryf.

’n Smeltkroes van digkuns, dans, musiek en drama verbeeld vroue se stryd teen misbruik, depressie, identiteitskrisis, selfliefde en bemagtiging regoor die wêreld in For Coloured Girls Who Have Considered Suicide. Sewe vroue gaan onder verskillende probleme gebuk, maar besef dat hulle tog nie alleen is in hul stryd nie.

Van die spelers is Naledi Moalusi, Palesa Motsokobi en Jolene Swartz met Marijda Kamper as regisseur.

Fourie’s a Jolly Good Fellow! is ’n nuwe solostuk deur Ilne Fourie wat dit ook “troos vir troukoors” noem. In die komedie verweer sy haar teen ALMAL wat op Facebook verklaar hulle het op 23 die liefde van hul lewe gevind, of het verloof geraak of kinders wat in Sub A was toe sy in matriek was, met ’n kind op elke heup.

Nico Luwes (skrywer en regie) se klugJollie patrollie is nog ’n opsie vir lekker lag. Dit gaan oor ’n bedroë bankamptenaartjie wat sy baas en dié se preutse vrou met sy eggenoot wil beïndruk. Hy huur Jollie by ’n gesellinklub; maar Jollie daag op en die aand ontaard in chaos. Met onder andere Barend Kriel, Esmarie Booysen, Dion van Niekerk, Juani Smith, Nelien Smith en Alita de Waal.

Swan Song, waarvan ’n verkorte weergawe op die KKNK se Uitkampteater gespeel het, word nou as ’n volwaardige multidissiplinêre produksie aangebied. Dit volg die weë van ’n jong meisie met ’n gevleuelde bladbeen se stryd om in te pas terwyl sy worstel met verlies, identiteit en ’n soeke na liefde.

Die stuk is geskryf terwyl Buhle Ngaba vir die Royal Shakespeare-geselskap in Brittanje gespeel het. Ilana Cilliers (GodgOdgoD) is die regisseur.

In Bospark buurtwag neem drie hoërskoolleerlinge die beskerming van die buurt oor terwyl die volwasse lede hul dae omdobbel. Die kinders kry te doen met kleurvolle karakters, skreeusnaakse situasies en tragiese insidente, asook met dr. Vrees en sy handlanger.

Die skrywer en regisseur is Barend Kriel en die spelers is Nathan Fourie, Lara Venter, Luhard Potgieter, Casey Kommer en ander. * Die Vrystaat Kunstefees word van 1 tot 7 Julie op die Kovsie-kampus en elders in Bloemfontein aangebied. Raadpleeg die volledige program op die webwerf vrystaatkunstefees.com. Besprekings is by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.