Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Tulbagh-kunstefees herdenk 1969-aardbewing
Neels Venter en MJ Lourens is die 8ste Tulbagh-kunstefees se feeskunstenaars. Foto: Verskaf

Meer as 130 kunstenaars van die Noord-Kaap tot George in die Suid-Kaap gaan vanjaar saamtrek vir die 8ste Tulbagh-kunstefees wat van 27 tot 29 September aangebied word.

Die fees val saam met die 50ste herdenking van die aardbewing wat Tulbagh op 29 September 1969 getref en dit feitlik in puin gelê het.

“Dit is juis om dié rede dat die tema van vanjaar se fees ‘ArtBEWING’ is,” sê Susan Smuts, ’n feeskomiteelid.

“Die Tulbagh-kunstefees sluit by heelwat ander feeste en gebeurtenisse op die dorp aan ter herinnering aan die verwoesting wat die aardbewing gesaai het.”

Benewens heelwat musiek- en boeke-aanbiedinge, is dit veral die visuele kunste wat op die fees gaan pronk.

“Die hoofdoel van die fees is om Tulbagh in ’n kunsdorp te ontwikkel,” sê Smuts.

“Elke jaar nooi ons een plaaslike kunstenaar en een kunstenaar van buite wat as ons feeskunstenaars kan dien – vanjaar onderskeidelik Neels Venter en MJ Lourens, wat so vriendelik en entoesiasties is en spesiaal ’n werk vir vanjaar se fees geskep het.”

Die naamlose kunswerk wat MJ Lourens spesiaal vir die 8ste Tulbagh-kunstefees en die 50ste herdenking van die 1969-aardbewing geskep het.
Een van Neels Venter se werke, ook naamloos, wat op die 8ste Tulbagh-kunstefees te sien sal wees.

Die bekroonde digter Johan Myburg gaan die fees amptelik op 27 September open by ’n uitstalling van Venter en Lourens se werk in die EC Fine-galery.

Ander kunshoogtepunte sluit in ’n uitstalling met die werk van Christo Coetzee, Michele Nigrini, Theo Paul Vorster, Lientjie Wessels, Cobus van Bosch, Jo Roets en Clare Menck. Werke van onder andere Paul Birchall en Victor Harley sal ook in die stadsaal uitgestal word.

Die fees sal ook bygewoon word deur Yasushi Naito, die Japanse konsul in Kaapstad, wat deur die Tulbagh-rieldansers verwelkom sal word en ’n origami-demonstrasie deur Anna Turner en Kyoko Kimura Morgan gaan open.

As deel van die naweek se herdenking sal werke deur Pierneef, Christo Coetzee, Rochelle Beresford, George Pilkington, Brian Bradshaw, Don Benzien en Annelie Janse van Rensburg teen halfprys te koop aangebied word.

As deel van die naweek se herdenking sal werke deur Pierneef, Christo Coetzee, Rochelle Beresford, George Pilkington, Brian Bradshaw, Don Benzien en Annelie Janse van Rensburg teen halfprys te koop aangebied word.

Musiekliefhebbers gaan ook ’n besige naweek hê. Die fees begin met ’n herdenkingskonsert waarvoor die Suid-Afrikaanse komponis Peter Klatzow ’n nuwe werk gekomponeer het. Die Liedmakersgilde sal ook die storielyn van Johann Strauss se operette Die Fledermaus met kunsliedere deur sy naamgenoot Richard Strauss, Brahms, Wolf en Rossini vertel.

Op 28 September gaan Tulbagh van 14:00 tot 22:00 rock by die EarthShakes-musiekfees, waar Theron & Canfield gaan optree, en op dieselfde dag gaan die Eclectic-strykkwartet werke deur Puccini, Borodin en Dvorak uitvoer.

Op 29 September om 12:00 gaan Fauré se grootse Requiemin die NG kerk Tulbagh opklink.

Boekvrate het ook heelwat aanbiedinge om in hul dagboek aan te teken: Benewens ’n boek oor die aardbewing wat bekend gestel word, gaan die digter Diana Ferrus haar digbundel Die vrede kom later in die stadsaal bekendstel, en Jonathan Amid gaan met Marilyn Martin gesels oor haar jongste boek, A History of the South African National Gallery 1871-2017.

Feesgangers kan ook uitsien na ’n reeks praatjies oor die aardbewing – insluitende “stoepstories” deur mense wat die aardbewing eerstehands ervaar het – ’n spesiale aardbewing-dans, en ’n 1960’s- geïnspireerde pretdraf.

  • Kaartjies vir die fees se aanbiedinge kan by die deur gekoop word. Die fees se volledige program is op die Facebook-blad “Tulbagh Arts Festival” beskikbaar. Vir meer inligting kan die Tulbagh-toerismekantoor by 023 230 1348 gebel word.
Meer oor:  Musiek  |  Aardbewing Tulbagh-Kunstefees  |  Boeke  |  Kuns  |  Tulbagh  |  Tulbagh-Aardbewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.