Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Voorkamerfees in Darling spog met Janet Suzman
Janet Suzman

’n Optrede deur die gevierde aktrise Janet Suzman en ’n huldiging vir Johnny Clegg is volgende maand hoofnuus op die hoofprogram van die 14de Voorkamerfees in Darling in die Wes-Kaap.

Wat die optredes behels en waar of wanneer dit is, word nie bekend gemaak nie.

Vir dié wat nie weet nie: Dié fees gebruik ’n slim stelsel, nie net om besoekers te lok nie, maar ook om ’n interessante kinkel aan hul ervaring te gee en dit van ander feeste te onderskei.

Een kaartjie gee jou toegang tot ’n verrassingspakkie van drie aanbiedings. Jy koop ’n kaartjie vir ’n sekere roete, waarvan daar sewe is wat in verskillende kleure aangedui word. Jy weet nie watter aanbiedings jy gaan sien nie en ook nie wie daarin optree nie.

Wat jy wel weet, is dat een van die drie produksies op die hoofprogram is. Suzman en Clegg se huldiging kan dus deel van jou verrassingspakkie wees, of nie.

’n Opwindende kunste-ervaring is nietemin gewaarborg, ongeag of jy ’n produksie in die woonvertrek van ’n deftige Kaaps-Hollandse huis bywoon, of in ’n Hophuis sit.

Die aanbod van “talentvolle Suid-Afrikaanse en internasionale kunstenaars, party opkomend en ander gevestig (soos Suzman)”, gee die versekering dat elke roete jou op ’n pad van tevredenheid sal neem.

Johnny Clegg

’n Wye spektrum van produksies in velerlei genres is te sien – drama, dans, kooroptredes, goëlkuns, fisieke teater, komedie en storievertellings.

Suid-Afrikaanse kunstenaars op vanjaar se Voorkamerfees is onder andere Wendy Oldfield, die digter Sindiwe Magona, die goëlkunstenaar Mawonga Gayiya, die rapgroep Heal the Hood, Lungiswa Plaatjies en die vokale ensemble Ancient Voices, asook die musikante Keegan Steenkamp, Jitsvinger en die ARCO-jeugmusiekgroep.

Aangesien Darling die tuiste van die akteur Pieter-Dirk Uys is, sal geen Voorkamerfees volledig wees sonder ’n optrede deur hom nie.

Evita se perron is die feeskern waar plaaslike handgemaakte produkte en verversings gekoop kan word en van waar minibustaxi’s besoekers op die verskillende roetes vervoer. Altesaam 60 kunstenaars sal van 6 tot 8 September in 21 vertonings optree.

Die ritte op die roetes is op 6 September om 17:00, 7 September om 12:00 en 17:00, en op 8 September om 12:00.

Besprekings kan reeds aanlyn gemaak word by Quicket. Die Vrydag kos ’n roete met drie aanbiedings R210 en Saterdag en Sondag R270.

Wie is Janet Suzman?

Janet Suzman, wat in 1939 in Johannesburg gebore is, het haar in 1959 ná haar taalstudies aan die Universiteit van die Witwatersrand in Londen gevestig, waar sy steeds woon en groot opgang as aktrise gemaak het.

Haar teaterloopbaan het vroeg al geskitter met hoofrolle in klassieke produksies soos The War of the Roses, Antony and Cleopatra, Titus Andronicus, Three Sisters en Hedda Gabler.

In die 1970’s het sy ook rolprent- en televisierolle losgeslaan en ’n Oscar-benoeming vir haar vertolking van die Russiese keiserin Alexandra in die fliek Nicholas and Alexandraontvang. Priest of Love en Nijinsky is van haar vroeëre flieks.

Sy was ook in die apartheidsfliek A Dry White Season en in die klug Nuns on the Run.

In die 1980’s het Suzman haar hand aan regie gewaag en in Suid-Afrika onder meer die verhoogproduksies Death of a Salesman en The Free State, ’n verwerking van Tsjechof se Cherry Orchard, geregisseer.

Die voormalige parlementariër Helen Suzman was Janet Suzman se tante.

Meer oor:  Musiek  |  Darling  |  Teater  |  Voorkamerfees  |  Johnny Clegg  |  Janet Suzman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.