SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Feeste
Voorkamerfees kry hulp van Fugard-teater

Die Voorkamerfees word vanjaar vir die eerste keer in samewerking met die Fugard-teater in Kaapstad aangebied. Die teater borg die kunstenaars wat optree.

Die fees het twee jaar lank nie plaasgevind nie, maar word vanjaar van 31 Augustus tot 2 September gehou. Die genres wat op die fees te sien is, sluit in komedie, kabaret, kletsrym, opera, drama, fisieke teater, dans, kulkuns en verskillende genres musiek.

Emile Minnie

Die kunstenaars wat optree sluit in Angel Campey, Emile Minnie, Irit Noble, Blaq Pearl, Lara Kirsten, Jitsvinger, Xolani Marman, Graham Weir, Jazzart, Dance for All, Nylon Dance Company en Stuart Lightbody.

Op musiekgebied is daar blues, folk, jazz, marimba, punk, klavier, fluit, slaginstrumente, ensembles en groepe. Buckfever Underground, Jeremiah Brimstone Band, David Wickham Steelband, Magda de Vries, Owen Britz en Tertia Visser tree op.

Een van die interessante items wat op die program is, is die akteur Graham Weir en die musikant Jono Tait wat Shakespeare gaan sing. Dis Weir se eerste sangoptrede in sewe jaar.

Weir het in 1999 musiek komponeer vir Keith Grenville se Shakespeare-produksie As You Like It in die Maynardville-opelugteater. Die liedjies het lank in onbruik gelê daarna.

Jeremiah Brimstone Band

“Toe die Voorkamerfees my nooi om op te tree het ek besluit om hulle op te diep. Ek het toe sommer ook gekyk na watter ander musiek en sonnette nog in so ’n program sal werk. Ons gaan ’n program aanbied met die musiek, humoristiese staaltjies oor wat ek in Shakespeare-stukke beleef het en sommer ook meer van die Maynardville,” vertel hy.

“Van die musiek is lig en vrolik, soos Ariel se lied “Where the Bee Sucks” uit The Tempest en ander is ernstiger soos “Fear No More The Heat O’ Th’ Sun” uit Cymbeline.”

Tait is van die groep Hatchetman en hy sal Weir op kitaar begelei en ook sing.

Ongelukkig sal mense nie vir hierdie produksie spesifiek kan bespreek nie. Besoekers koop ’n kaartjie en weet nie vooraf watter produksies hulle gaan sien nie. Hulle besoek inwoners van Darling in hul voorkamers waar hulle verras word.

Blaq Pearl (Janine van Rooy-Overmeyer).

Minibussies neem almal van Evita se perron na die bestemmings. Oor die naweek is daar saam 21 produksies met 60 kunstenaars wat betrokke is. Die roetes is geskeduleer vir Vrydag 17:00, Saterdag 12:00 en 17:00 en Sondag om 12:00. Bespreek by Quicket – voorkamerfest-darling.co.za of bookings@voorkamerfest-darling.co.za en 079 190 3218. Van elke kaartjie wat verkoop word, sal R5 aan die Darling-trust geskenk word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.