Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Vroueskrywers se aanslag in spanningsverhale onder die loep
Só skryf ons ons spanningsromans . . . Van links is Ilse Salzwedel, gesprekleier, en die skrywers Madelein Rust, Irna van Zyl en Karin Brynard. Foto: Conrad Bornman

Het vroueskrywers werklik ’n unieke invalshoek wanneer dit by spanningsverhale en veral misdaadstories kom?

Hierdie was een van die vrae wat gister aan die bod gekom het in ’n gesprek met vroueskrywers van misdaadromans op die Literatuurfees op die Vrystaat Kuns­tefees.

Madelein Rust, skrywer van Bloedlyn, het gesê sy “wonder of ons (vroue) nie die gevoelselement bysit nie. Ons beleef moord en doodslag anders as mans.”

Karin Brynard, wat groot sukses gehad het met boeke soos Tuisland, verskil daarvan of vroue werklik uit ’n ander oogpunt na ’n storie kyk.

Volgens haar is die verskil waarskynlik dat vroueskrywers gewoonlik ander werke het, of ten minste huishoudings bedryf en aan die gang hou. Manlike skrywers, daarenteen, skryf. Dit is hulle werk en hulle doen niks anders nie.

Irna van Zyl, skrywer van Gifbeker, sê goeie karakters hou langer.

Ek weet dat ek dit baie moeilik vind om ’n goeie mens dood te maak.
Irna van Zyl

“Ek weet dat ek dit baie moeilik vind om ’n goeie mens dood te maak.”

Ilse Salzwedel, die gespreksleier, wys uit dat al drie skrywers sterk vroulike karakters in hul boeke het.

Volgens Brynard is dit waarskynlik nie doelbewus so gedoen bloot omdat sy ’n vrou is nie. Om die waarheid te sê, sy verkies dit om manlike hoofkarakters te hê. “Vroue is te kompleks. Mans is easy.”

Bowenal wil sy net ’n lekker misdaadstorie skryf “en dit het ménse in”. Die samelewing het mense in. Of dit nou mans of vroue is, maak nie saak nie.

Van Zyl sê op haar beurt dat sy beslis doelbewus vroulike karakters in haar boeke inspan om die hoofrolle te vervul. Trouens, haar uitgewer het in ’n stadium gevoel dat daar te veel vroulike karakters is. Sy wys ook uit dat vroue altyd in spanne saam met mans werk.

Rust meen ook dat sy doelbewus vroulike karakters skep, wat sy op regte mense grond.

Hoewel al drie skrywers sterk voel oor hul vroulikheid en die verteenwoordiging daarvan in hul boeke, het hulle niks teen mans nie.

Van Zyl vertel met heimwee van die dae toe sy as ’n subredakteur in ’n nagkantoor gewerk het saam met mans wat “hard gewerk en hard gedrink het. Dit was seker dertig of veertig jaar gelede, so dit was ouskool-mans.”

Rust erken ook dat sy lekkerder saam met mans werk omdat vroue “partykeer vreeslike dierasies” kan wees.

Brynard is bekommerd oor manlikheid in sy geheel omdat daar nie meer sterk rolmodelle is nie. “Ons is besig om weg te swaai van patriargie. Eers was daar die John Wayne-tipe mans. Toe was daar die manne met die hoedjies in die PW-era. Dit was ’n baie militêre manlikheid. Wat het ons vandag?”

Soos in haar boeke vra sy vir mans wat ’n “balans handhaaf tussen die macho-held-tipe man en ’n man wat in voeling is met homself en sy omgewing”.

Meer oor:  Karin Brynard
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.