Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Vrystaatfees se wêreldwye netwerk werp vrugte af

’n Uitgebreide netwerk van kunstepraktisyns in die buiteland is nodig om die voortbestaan van ’n Afrikaanse fees soos die Vrystaat Kunstefees (VK) te verseker en uit te bou.

Só glo Ricardo Peach, die VK se direkteur.

Corneli van den Berg

Hy glo ook wisselwerking met dié praktisyns sal nie net voordele vir die fees inhou nie, maar ook feeswerkers se horisonne verbreed.

Vier Vrystaatse feeswerkers is vanjaar na die buiteland genooi te danke aan geleenthede wat uit dié internasionale vennootskappe spruit.

Goretti Kyomuhendo, voorsitter van die African Writers Trust (AWT), het vanjaar die fees as sleutelspreker bygewoon. Sy was so beïndruk dat sy hierna Corneli van den Berg, die VK se literatuurfeeskoördineerder, genooi om in Mei die AWT se tweejaarlikse internasionale skrywerskongres in Kampala, Uganda, by te woon.

Van den Berg sal ook ’n lesing oor veeltaligheid lewer op grond van die VK wat Afrikaans, Engels en Sotho huisves en die toekomstige insluiting van gebaretaal.

Rea Mokone, die kreatiewe vervaardiger van openbare lewende kuns op die VK, is genooi om ’n toneelkompetisie vir tieners in Junie volgende jaar in Swaziland by te woon en te beoordeel. Die wenners van die toneelkompetisie sal volgende jaar by die Vrystaatfees optree. Dit bevorder ook Peach se mandaat om meer kinders by die fees te betrek.

Rea Mokone

Die verbintenis met Swazi-toneel spruit uit Peach se ontmoeting met Stanley Dlamini, die uitvoerende hoof van Swaziland se nasionale raad vir kuns en kultuur, op ’n konferensie in Namibië.

Thuthukani Ndlovu, die VK se literatuurfees-assistent in beheer van digkuns, was vanjaar die jongste afgevaardigde by Atelier, ’n Europese konferensie vir jong feesbestuurders wat die eerste keer in Johannesburg gehou is.

As wenner van die opdrag om ’n digitale stelsel vir die volhoubaarheid van ’n fees te ontwikkel, is hy na die volgende Atelier in Stockholm, Swede, afgevaardig.

Ndlovu sal binnekort ook ’n digkunsslypskool in Lesotho aanbied.

Die moeilikste uitnodiging het Michael Garbett te beurt geval. Dié vrynge-koördineerder van die VK gaan help om ’n rimpelfees in Lagos, Nigerië, op die been te bring.

Michael Garbett

Kenneth en Brenda Uphopho van Nigerië, direkteurs van hul komende rimpelfees, het vanjaar die Pan-Afrika-kultuuruitruilingsprogram op die Vrystaatfees bygewoon en was so beïndruk met die vrynge, dat hulle besluit het om ’n soortgelyke fees met Garbett se hulp in hul stad te vestig.

Garbett sal in Lagos hulp hê van afgevaardigdes van die Brighton-kunstefees in Engeland, met wie ’n ooreenkoms vir die uitruil van produksies met die VK bespreek sal word.

Mokone sê uitruiling soos dié stel jou bloot aan mense van ander lande se perspektiewe wat jou visie verbreed en tot voordeel van die Vrystaatfees aangewend kan word.

Van den Berg sê dit is belangrik om ’n lees- en skryfkultuur in Afrika uit te bou en ’n ontmoeting met Afrikaskrywers is die sleutel daartoe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.