Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Wêreldbekende kunstenaars eersdaags saam in Kaap

Liefhebbers van kuns en kultuur gaan in Februarie ’n droom beleef. Melvyn Minnaar skryf daar was nog nooit soveel beroemde kunstenaars in Kaapstad soos wat daar gaan wees wanneer die Rolex-kunsnaweek in die Baxter-teater plaasvind nie.

MORRISON, CO - AUGUST 01: Internationally renowned
Yo-Yo Ma. Foto: Getty Images

Vroeg in Februarie sal die grootste sameloop van kultuurbedrywighede nog in die Kaap plaasvind.

Met Stellenbosch se eerste triënnale wat met woekerende Afrika-dinamika begin, die Kaapstadse Internasionale Kunsmark, en talle museums en lokale bestem vir kunsbesoekers, is daar as hoogtepunt die unieke saamtrek van die wêreld se groot geeste en leidende skeppers tydens die Rolex-kunsnaweek in die Baxter-teater.

Die wêreldberoemde kunstenaars Anish Kapoor, Wole Soyinka en William Kentridge; die skrywers Colm Tóibín, Tracy K. Smith en Stephen Frears; die teatermeesters Julie Taymor en Robert Wilson, die argitek sir David Adjaye en die maestro Yo-Yo Ma is net ’n paar name wat op 8 en 9 Februarie aan gesprekke tydens dié kunsnaweek gaan deelneem.

Daar was lanklaas soveel kunspersoonlikhede saam in die Kaap.

Die Rolex-viering in die Baxter bestaan uit groepsgesprekke, uitvoerings en ’n uitstalling wat die resultaat is van die Switserse maatskappy se buitengewone internasionale mentorskap-inisiatief vir kunstenaars.

Sedert 2002 skep die horlosiemaker met sy Rolex Arts Initiative geleenthede vir jong kunstenaars om as protégés saam met beroemde mentors in die wêreld van dans, flieks, letterkunde, musiek, teater, visuele kuns en argitektuur aan hul talente te skaaf.

Ná afloop daarvan word vieringe soos hierdie in die Baxter aangebied – een wat ook ’n oog het op die stand van eietydse kuns en skepping.

Sir David Adjaye en sy protégé, Mariam Kamara. Foto: Rolex / Tina Ruisinger
Colm Tóibín (regs) en sy protégé, Colin Barrett. Foto: Rolex / Bart Michiels
Khanyisile Mbongwa (links), kurator van die Stellenbosse c, en die kunstenaar Helen Nabukenya.

Lara Foot, die Baxter se direkteur, was in 2004 ’n protégé van die teaterskepper Peter Hall. Kentridge was die eerste Suid-Afrikaanse mentor in 2012 met die Colombiaanse kunstenaar Mateo López as protégé.

Só het die romansier Tóibín, byvoorbeeld, die Ierse skrywer Colin Barrett bygestaan. Laasgenoemde se eerste roman, The English Brothers, is ten tyde van hierdie mentorskap gepubliseer. Dele hiervan sal die naweek in die Baxter opgevoer word. Die twee skrywers gesels dan ook saam in What Can be Said: Home and Voice.

Die kunsnaweek is die hoogtepunt van die onlangse Rolex Arts Initiative-mentors Adjaye, Zakir Hussain, Crystal Pite en Tóibín om saam met hul protégés hul samewerking te vier. Twee wêreldpremières is ook op die program. Saterdag val die klem op dans en argitektuur; Sondag op letterkunde en musiek.

Twee gespreksgroepe oor kultuur in die gemeenskap word gelei deur Homi Bhabha van die Harvard-Universiteit.

In Who is Unrepresented in the Arts Today? The Arts in Times of Polarization sal Foot, Annemarie Jacir, Kapoor, Ma en Soyinka Saterdag gesels. Sondag se tema is Other Muses: Inspirations from Elsewhere met Kentridge, Smith, Taymor, Frears en Wilson.

Van die Rolex-protégés: Agter sit Mariam Kamara (links) en Koudia Toure. Voor sit Colin Barrett (links) en Marcus Gilmore. Foto: Rolex / Audoin Desforges

Die eerste aanbieding van When the Night Comes deur die Senegalees Khoudia Touré, (met die Kanadese choreograaf Pite as mentor) is Saterdagmiddag. Die Amerikaner Marcus Gilmore (met Hussain as mentor) se eerste komposisie, Pulse, sal Sondag uitgevoer word.

Saterdagmiddag sal Mariam Kamara en haar mentor, Adjaye, hul ontwerpe vir ’n kultuursentrum in Niamey, Niger se hoofstad, bekend stel.

Die Ghanees-Britse Adjaye – wat groot lof ingeoes het vir sy ontwerp van die eerste Ghanese paviljoen op verlede jaar se biënnale in Venesië – word vandag as een van die voorste argitekte in die wêreld gereken.

Die legendariese tjellis Ma speel die Saterdagaand in die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin Johann Sebastian Bach se aangrypende “Ses Suites vir Onbegeleide Tjello”. Dis deel van sy wêreldreis met dié betowerende musiek om al ses vastelande te besoek.

Die Stellenbosse Triënnale open op 11 Februarie, die Kaapstadse Internasionale Kunsmark op 14 Februarie en die groot Design Indaba-konferensie op 26 Februarie.

  • Kaartjies vir die Rolex-aanbiedinge, Ma se konsert en die Kunsmark is by Webtickets beskikbaar. Toegang tot die tentoonstelling van die Stellenbosse Triënnale is gratis.
Meer oor:  Musiek  |  Wole Soyinka  |  William Kentridge  |  Teater  |  Kuns  |  Yo-Yo Ma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.