Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
1 dapper vrou maak verskil, sê Hood oor nuwe fliek
Die aktrise Keira Knightley en die Suid-Afrikaanse regisseur Gavin Hood by die vertoning van Official Secrets in Londen by die Britse Rolprentinstituut. Foto: GETTY IMAGES

Hy het glad nie geweet wie Katharine Gun was nie. Sy vervaardiger van sy vorige prent, Eye in the Sky, het gevra dat hy ’n bietjie oplees oor haar, want haar verhaal is moontlik sy volgende rolprent.

Ná ’n vinnige internetsoektog het die regisseur Gavin Hood geweet hy sou graag die dapper Brit se storie op die silwerdoek vertel.

Gun was ’n vertaler in diens van die Britse regering se kommunikasiehoofkwartier, ’n agent vir Britse intelligensie. In 2003, kort voor die inval in Irak, het sy ’n hoogs geheime e-pos aan die koerant The Observer uitgelek. In die e-pos vra Amerika inligting van Brittanje oor sekere diplomate aan.

Die diplomate was lede van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies wat sou stem oor ’n resolusie vir Amerika se inval in Irak. Hulle sou afgepers word om vir die oorlog te stem. Daar was ’n sameswering tussen Amerika en Brittanje oor die oorlog, wat Gun oopgevlek het. Die oorlog het wel voortgegaan met die lokaas van wapens van massavernietiging.

Die plakkaat van Official Secrets deur die regisseur Gavin Hood.

In die fliek word die persoonlike en professionele invloed van Gun se dapperheid uitgebeeld.

Official Secrets, Hood se pakkende prent oor die verloop van dié gebeure, begin eerskomende Vrydag landwyd wys. Hy het vroegoggend op ’n Donderdag uit Los Angeles gebel om met Netwerk24 oor sy rolprent te gesels.

“Ons almal weet nou vir seker die Irak-oorlog moes nooit gebeur het nie. Dit het ’n groot gemors veroorsaak en ook gesorg vir die opkoms van Isis. Die wêreld het nog nie herstel van die skade van die oorlog nie.”

Dit was veral belangrik om te wys hoe ’n gewone mens Katharine Gun was en wat haar dapperheid teweeggebring het, meen hy. “Sy het elke dag gaan werk soos ons almal, sy was nie ’n politikus nie, maar ’n doodgewone mens. Sy het op iets verrots in haar organisasie afgekom en opgestaan en gepraat. Sy het die fluitjie geblaas waar ander net sou doen wat van hulle verwag word, kop onderstebo voortgaan sonder om ’n herrie te veroorsaak. Sy het nie eens daaraan gedink dat haar inkomste en haar huwelik op die spel is nie.”

“Sy was nie lojaal aan die regering, die eerste minister, Tony Blair, haar land, haar werkplek of selfs haar huwelik toe sy die besluit geneem het nie, maar aan haar gewete. Sy het als in die weegskaal geplaas.”

Hood het Gun en haar dogter ontmoet en vyf uur lank gesels en notas gemaak. “Ek wou die storie uit haar mond hoor. Dit was nie die eerste probeerslag dat iemand met haar wou werk aan ’n projek oor haar lewe nie. Sy was skepties. Dan was daar die joernalis Martin Bright van The Observer. Ek het hom ook ontmoet, asook die menseregteadvokaat wat haar verdedig het. Almal leef nog. Ek moes versigtig trap om almal aan boord te kry.”

Sy weergawe moes feitelik waar wees. Gelukkig kon hy hulle gedurig raadpleeg. “Ons lewe in ’n wêreld waar die waarheid soek is – dink maar aan hoe Donald Trump lieg, asof die man geen skaamte het nie. Ek wou die gebeure en die aanloop daartoe heeltemal korrek uitbeeld.”

Vir hom is die sleutel tot die storie Gun se lojaliteit wat vas staan. “Sy was nie lojaal aan die regering, die eerste minister, Tony Blair, haar land, haar werkplek of selfs haar huwelik toe sy die besluit geneem het nie, maar aan haar gewete. Sy het als in die weegskaal geplaas.”

Die invloed van haar besluit ook op Yasar, haar man, ’n Turkse immigrant, was verreikend. In die prent hang die swaard van deportasie oor sy kop.

Hood het Suid-Afrika in die negentigs verlaat en hom in Los Angeles gevestig. Sy prent Tsotsi, gegrond op Athol Fugard se novelle, het in 2005 die Oscar as beste buitelandse rolprent gewen. Sy pa was Gordon Hood, eertydse direkteur van OK Bazaars en voorsitter van Operation Hunger. Sy ervaringe in sy vaderland speel steeds in op sy werk.

“In Suid-Afrika het ons die dure les keer op keer geleer dat ons ons politici nie kan of moet vertrou nie. Ons moet getrou wees aan beginsels en idees – ons moet terugveg en opstaan.”

“In Suid-Afrika het ons die dure les keer op keer geleer dat ons ons politici nie kan of moet vertrou nie. Ons moet getrou wees aan beginsels en idees – ons moet terugveg en opstaan.”

Derjare in Suid-Afrika het hy ’n regsgraad behaal – sy pa het hom aangeraai om dit te doen, hoewel sy kop teater toe gestaan het. Die inslag daarvan en die gesprekke wat hy daardie jare (tagtigers) in lesingsale gehad het, het ’n groot invloed op hom gehad. “Ek wil nie op ’n seepkissie staan nie. Ek geniet wel om rolprente aan te pak wat nie maklike antwoorde bied nie. As dit ’n gesprek ontlok, is ek in my noppies.”

Sy prente ontlok inderdaad debat. Eye in the Sky handel oor die moraliteit van oorlogvoering met robotvliegtuie, A Reasonable Man oor die regsbeginsel van ’n regverdige man en handel oor ’n seun wat ’n baba doodgemaak het, oortuig dat dit die tokkelossie was en Rendition vertel die verhaal ná ’n selfmoordbomaanval waarin ’n Amerikaanse agent gesterf het. In sy woorde verkies hy om prente te maak oor mense “wat hul morele kompas vind of getrou daaraan probeer wees”.

Die Britse aktrise Keira Knightley was sy eerste keuse vir die rol van Gun. “Sy is so ’n geronde aktrise en speel altyd die sterk vrou in periodedramas, nou wou ek haar sterkte hê as ’n gewone vrou in jeans en ’n sweetpaktop.” Die ander spelers is Matt Smith, Ralph Fiennes, Rhys Ifans en Tamsin Greig. Dit is gegrond op die boek The Spy Who Tried to Stop a War.

Sy aanslag met die prent is eenvoudig en op die mens af. “Ek wou hê dat die storie veral in Knightley se oë lê – hoe die vrou geworstel het met haar gewete en hoe sy die besluit geneem het, die gevaar waarin sy verkeer het. Sy kon van hoogverraad aangekla word.”

Hy verkies kleiner soorte prente om te verfilm as Hollywood-prente soos X-Men Origins: Wolverine en Ender’s Game wat hy geregisseer het. “ ’n Mens leer so baie op die groot prente. Dit is egter prente wat deur ’n komitee verfilm word; hulle beslis oor als.

“Niemand meng in as die begroting klein is nie. Dan kan jy werklik jou eie stem laat deurskemer.”

* Official Secrets word op 13 Desember in Suid-Afrika uitgereik.

Meer oor:  Gavin Hood  |  Irak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.