Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
12 gedigte in animasie op Aardklop
Detail uit Wessel en Jac Hamman se animasiefliek wat geskoei is op NP Van Wyk Louw se gedig “Vroegherfs”. Die fliek is deel van die projek Filmverse.

Twaalf animasieprente wat geskoei is op Afrikaanse gedigte is deel van die uitstalling Filmverse wat op vanjaar se Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom te sien sal wees. Dié fees vind plaas van 7 tot 11 Oktober.

Die gekose 12 gedigte – van sowel klassieke as eietydse digters – word gebruik om ’n “visuele bloemlesing” saam te stel waarin dialoog tussen woord en beeld geskep word. Elke animasiefliek het sy eie klankbaan waarop onder meer die gedig voorgelees word.

’n DVD van sowat 30 minute sal vertoon en te koop aangebied word. Plakkate van die animasiewerk sal ook uitgestal word.

Filmverse is ’n gesamentlike projek van die ATKV en Fopspeen Moving Films met Diek Grobler as die artistieke direkteur.

Dit was Grobler se jare lange droom om ’n forum te skep vir animasiekunstenaars om prente te maak waarin die fokus op dié kunsvorm val. “Ek wou animasieprente maak in Afrikaans om animasie as medium uit te lig bó die populêre opvatting dat dit maar net kindervermaak is. Ek wou poësie meer sigbaar maak en die diversiteit van die medium uitwys. Ek dink ons het dit hier reggekry.”

Vir elk van die 12 gedigte is ’n animasiekunstenaar, in sommige gevalle meer as een, aangewys nadat Grobler onder meer op sosiale media animeerders genooi het om by die projek betrokke te raak

Detail uit Katty Vandenberghe, Anni Snyman en Eugenie Grobler se animasiefliek wat geskoei is op Danie Marais se gedig “Jy vra my hoe my eerste soen was?”.

Die 12 gedigte met die animeerders in hakies is “Vroegherfs” van NP Van Wyk Louw (Wessel en Jac Hamman); “Bitterbessie dagbreek” van Ingrid Jonker (Roger en Dewald van der Merwe); “Finis” van Lina Spies (Michele Nigrini); “Jy vra my hoe my eerste soen was” van Danie Marais (Katty Vandenberghe, Anni Snyman en Eugenie Grobler); “Belydenis van ’n studentedigter” van Loftus Marais (Rudolph Boonzaaier); “Visioen van ’n lessenaar” van Antjie Krog (Sunieda Kelber en Fabian Wargau); “Die skedel lag al huil die gesig” van Wilma Stockenström (Crowther Lindeque); “What abou’ de lô” van Adam Small (Charles Badenhorst); “Last Grave at Dimbaza” van Fanie Olivier (Stefanie de Beer); “ ’n Gewone blou Maandagoggend” van Ronelda Kamfer (Naomi van Niekerk en Arnaud van Vliet); “Timotei Sjampoo” van Gert Vlok Nel (Janhendrik Burger en Berdene du Toit); en “Ek sal sterf en na my vader gaan” van Breyten Breytenbach (Diek Grobler).

Filmverse is te sien in die Alumni-saal.

● Die Filmverse-DVD kos R100 en kan bestel word by Hannelie van Schalkwyk by 011 919 9012 of hanneliev@atkv.org.za.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.