Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
1ste Afrikaanse prent wat Netflix wêreldwyd vertoon
André Odendaal in ’n toneel uit ‘Gat in die muur’, wat tans op Netflix gestroom kan word.

Die rolprent Gat in die muur (Hole in the Wall) van die regisseur André Odendaal is die eerste Afrikaanse rolprent op Netflix wat nie uitsluitlik net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd gestroom kan word.

“Hulle het binne 48 uur na ons teruggekom en gesê dat hulle die prent wil hê. Dit is nou vir drie jaar by Netflix gelisensieer,” vertel Odendaal trots.

Die prent is onafhanklik vervaardig en het ook vroeër twee pryse op die internasionale rolprentfees in Southampton in Engeland losgeslaan. Ronelle Loots is vereer vir haar redigering en Odendaal vir sy regie.

Gat in die muur – te vinde op Netflix onder die Engelse titel – is ’n road movie oor Rian, ’n ware hedonis, wat sterwend is aan kolonkanker. Hy onderneem ’n laaste reis saam met Ben, sy seun van wie hy vervreemd is, en Ava, ’n vrou wat hom versorg en bystaan in sy laaste dae.

Rian het al sy brûe verbrand en laat net gebroke verhoudings agter hom. In die prent leer hy om vrede te maak en die vriendskappe wat hy wel het te vier. Sy eksvrou, gespeel deur Susan Coetzer, noem hom gepas ’n “sjarmante, pedigree-poephol”.

Bheki Mkhwane en André Odendaal in ’n toneel uit ‘Gat in die muur’.

Odendaal vertel dat hy graag ’n ander tipe prent wou maak en ook bitter graag ’n road movie. Hy is behalwe ’n gerekende akteur ook ’n raakvat-regisseur. Dink maar aan die prente Hey Boy, Skilpoppe, Lien se lankstaanskoene en As jy sing.

“Ek wou ’n kunsprent probeer maak. Ek was van die begin af betrokke en het vir my vriendin Susan (Coetzer) gevra om die draaiboek te skryf. Dit was haar eerste draaiboek.”

Daar was nie ’n reuse-begroting nie. “Ek speel en regisseer, en glo my, dit is iets wat ek nooit weer sal doen nie! Dit is te moeilik.”

Gat in die muur is in die omgewing van Koffiebaai in die Oos-Kaap en in dele van KwaZulu-Natal verfilm. Teenoor Odendaal in die hoofrol speel Tinarie van Wyk Loots,

Nicholas Campbell en Bheki Mkhwane.

Odendaal het sy vriend Guy de Lancey as kinematograaf aangestel, wat die natuurskoon sprekend aanwend. “Guy kon ook ’n behoorlike oog hou oor my toneelspel. Dit was belangrik.”

Om aan te sluit by die simboliek van die verhaal moes daar baie water wees en ook wisselende landskappe. “ ’n Road movie gaan vir my oor landskap en ek wou spesifiek KwaZulu-Natal en die (destydse) Transkei gebruik, omdat ons dit nog nie in Afrikaanse rolprente gesien het nie. Dit was ’n geleentheid om die natuur een van die karakters te maak.” Die izi Khaleni, die Xhosa-naam vir die ronde gat in die rotsformasie op die strand by Koffiebaai, dien hier as ’n band of deurgang na die voorvaders.

Die terugvoering op die prent is baie positief. “Ons kry goeie reaksie uit Suid-Amerika. Dalk het die klankbaan met sy effense Suid-Amerikaanse ritme iets daarmee te doen. Mense identifiseer met die verbrokkelde pa-en-seun-verhouding en die nugter blik op ’n terminale siekte.”

Hoewel die prent handel oor iemand wat doodgaan, inspireer dit baie kykers. “Ons kry ook terugvoering dat ons dit op ’n eerlike wyse uitbeeld, ons wys hoe siek Rian is. Tog is sy leuse ‘om te sterf is maklik, dit is om te leef wat moeilik is’.”

Campbell, ’n Engelse akteur, moes leer Afrikaans praat vir die rol van Ben.

Odendaal vertel dat Van Wyk Loots die perfekte keuse vir die versorger was. “Ek het haar as aktrise geken, nie persoonlik nie. Sy bel toe ná die oudisie en vertel dat sy baie kort tevore haar sterwende ma só moes versorg. Ek dink sy het ’n baie spesiale vertolking gelewer en bygedra tot die sukses van die prent.”

As Odendaal sy prent se boodskap moet opsom, glo hy dit gaan oor ’n liefde vir die lewe. “Moenie so bang en beheersd lewe nie. Lééf jou lewe. Gryp elke oomblik aan.”

• Die prent is vervaardig deur Odendaal en Johan Vorster in samewerking met Urban Brew Studios en Indigenous Film. Die klankbaan is geskep deur Andries Smit en Mapumba Cilombo.

Meer oor:  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.