Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
21 top-fliekfeeste bied aanlyn fees onder een sambreel

’n Propvol rolprentprogram met flieks van 21 top- internasionale rolprentfeeste, soos onder meer dié van Cannes, Berlyn, Toronto en Venisië, wag op fliekvlooie van Vrydag vir die volgende tien dae. Die meeste van dié feeste is afgestel weens die Covid-19-pandemie.

Die We Are One: A Global Film Festival geskied aanlyn en is ten bate van die Wêreldgesondheidsorganisasie en ander hulpverleningsorganisasies midde-in die pandemie. Kaartjies vir die publiek is gratis, maar skenkings kan aanlyn op elke fees se webblad gemaak word.

Meer as 100 prente is op die program, wat insluit 13 wêreldpremières en 31 aanlyn premières, sowel as virtuele gespreksessies met rolprentregisseurs soos Francis Ford Coppola, Steven Soderbergh, Song Kang Ho, Bong Joon Ho, Guillermo del Toro, Jane Campion en Claire Denis. ’n Seldsame onderhoud met die Amerikaanse kultusregisseur John Waters is ook op die program, so ook ’n gesprek tussen die regisseur Alejandro González Iñárritu en die kunstenaar Marina Abramovic. Daar is ook ’n meesterklas in toneelspel deur die Franse akteur Alain Delon.

Elke feesbestuur dien as kurator van die prente wat onder die betrokke fees se vaandel aangebied word – daar wag dus ’n wye verskeidenheid. Daar is ook juwele uit die onderskeie feeste se argiewe opgediep. Met meer as 35 lande verteenwoordig kry fliekgangers dus insae in verskeie kulture deur die lande se jongste prente.

Onder verskeie hoogtepunte tel:

*45 Days in Harvar, ’n dokkie oor die kunstenaar César Aréchiga se herskepping van sy sitkamer in een van Meksiko se maksimum-sekuriteitstronke. 15 gevangenes het hom bygestaan en in ’n japtrap geleer om met klei te werk, beelde te maak en te verf.

*’n Dokkie oor die Amerikaanse straatfotograaf Ricky Powell getiteld Ricky Powell: The Individualist.

*Die gevierde aktrise Joan Chen se sportdokkie oor die Chinese ster-vlugbalspeler Jenny Lang Ping getiteld Iron Hammer.

*Kort nuwe animasieprente van DreamWorks Animation:  Bilby, Marooned en Bird Karma. Liefhebbers van animasie kan ook uitsien na spesiaal saamgestelde animasie-programme deur die Annecy-animasiefees. Dit sluit spesiale aanbiedinge vir families in. Die weninskrywings vir die gesogte Rigo Mora-animasiepryse kan ook gesien word.

*’n Israeliese sielkundige riller Losing Alice met talle grillerige kinkels vir vreeslose kykers.

*Beyond the Mountain is ’n bekroonde Meksikaanse riller oor ’n jong man wat as ’n tikker werk en saans na sy sieklike moeder omsien. Een nag vind hy sy dooie moeder in haar bed met ’n brief van sy vervreemde vader in haar hand. ’n Verhaal van wraak en weerwraak.

*Die Ugandese regisseur Nabwana I.G.G. se aksieprent Crazy Worldhandel oor ’n bende wat kinders ontvoer omdat hulle glo kinderbloed het bonatuurlike magte. Hulle kom egter hul moses teë wanneer hulle koeng foe-meesters ontvoer. Dié kinders dreun hulle behoorlik op.

*Die Griekse kortprent The Distance Between the Sky and Us is ’n wenner van die Palme d’Or en handel oor twee vreemdelinge wat een nag by ’n petrolstasie ontmoet.

*The Epic of Everest dateer uit 1924 en is met sorg deur die Britse Filminstituut herstel. Dit handel oor kapt. John Noel se ekspedisie na die piek, wat met ’n handkamera vasgelê is.

*Ivory Burn is ’n kort dokkie waarin 100 ton olifanttande en renosterhorings verbrand word – ’n simboliese aanklag teen wildstropers en die onwettige handel in wilde diere. Die dokkie My Africa handel oor ’n skuiling vir olifante wat in Kenia begin is en die pogings om die diere veilig te hou van stropers.

Die fees duur tot 7 Junie en kan op YouTube gevolg word.

Meer oor:  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.