Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
230 resensente: Dít is 2020 se beste flieks

Meer as 230 rolprentresensente van Afrika, Asië, Europa en Noord- en Suid-Amerika het koppe bymekaargesit om te bepaal wat die top-50-rolprente van die jaar is.

Hul toutrekkery is saamgevat in die IndieWire Critics Poll, wat jaarliks sedert 2006 deur die Amerikaanse rolprentwebwerf IndieWire uitgereik word.

Luidens die peiling is die drama Nomadland, wat deur Chloé Zhao geregisseer is, die beste rolprent van 2020. Dit is die eerste keer in die peiling se geskiedenis dat ’n vroueregisseur se rolprent die boonste plek op die ranglys behaal.

Die rolprent, gegrond op Jessica Bruder se niefiksieboek Nomadland: Surviving America in the Twenty-First Century, handel oor ’n vrou wat weens die groot resessie haar werk kwyt is en dan in die pad val om die Amerikaanse Weste te verken.

Dit is op dié verkenningstog dat haar pad met dié van talle nomade kruis – mense wat ook in die werklike lewe van plek tot plek swerf – en waar sy eerstehands armoede en ongelykheid beleef.

Benewens Zhao se regie word die rolprent wyd geloof vir Frances McDormand, wat al twee Oscars ingepalm het, se spel in die hoofrol. McDormand, wat ook die fliek vervaardig het, kan later vanjaar in April die eerste vrou word wat twee Oscar-benoemings vir dieselfde rolprent kry – meer spesifiek een vir beste rolprent en ’n tweede vir beste aktrise.

As sy boonop die prys vir beste aktrise wen, kan sy naas Ingrid Bergman, Katharine Hepburn en Meryl Streep net die vierde aktrise in Oscar-geskiedenis word wat drie Oscars vir akteurspel kon verower. Hepburn het ’n totaal van vier gewen.

Nomadland word volgens die jongste inligting op 5 Maart in Suid-Afrika uitgereik.

Zhao is nie die enigste vroueregisseur op die podium in vanjaar se peiling nie: Die tweede en derde gewildste rolprent van 2020 is onderskeidelik Eliza Hittman se drama Never Rarely Sometimes Always, wat tans in Suid-Afrika op BoxOffice en Vodacom Video Play te sien is, en Kelly Reichardt se drama First Cow, wat nog nie ’n plaaslike uitreikdatum het nie.

Ander rolprente in die top-50 sluit in Da 5 Bloods (8ste), Mank (10de), Dick Johnson Is Dead (11de), Minari (13de), Promising Young Woman (14de), The Trial of the Chicago 7 (21ste), Soul (24ste), The Invisible Man (25ste), Ammonite (27ste), Palm Springs (31ste), Wolfwalkers (32ste), Borat Subsequent Moviefilm (36ste), Ma Rainey’s Black Bottom (44ste), Tenet (48ste) en His House (49ste).

Klik hier vir die volledige ranglys.

  • Saamgestel deur Christiaan Boonzaier met bykomende bronne: indiewire.com, variety.com, imdb.com, justwatch.com/za
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.