Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
3 SA rolprente haal ‘Guardian’ se top-20 vir Afrika

Die akteur Deon Lotz sê hy is “trots, baie bly en opgewonde” om te verneem dat die 2011-rolprent Skoonheid, waarin hy die hoofrol vertolk het, deur The Guardian uitgesonder is as een van die beste rolprente tot nog toe vanuit Afrika.

Die skrywer-regisseur Oliver Hermanus se meesterstuk oor ’n rassistiese en homofobiese man (vertolk deur Lotz) wat obsessief verlief raak op ’n familievriend se volwasse seun (vertolk deur Charlie Keegan) beklee die 15de plek op Peter Bradshaw se lys van die 20 beste Afrika-rolprente wat tot nog toe vervaardig is.

Bradshaw, reeds langer as 20 jaar die Britse dagblad se hoofrolprentresensent, het nog twee Suid-Afrikaanse rolprente in sy top-20 ingesluit: Neill Blomkamp se District 9 (sewende) en Jahmil XT Qubeka se Of Good Report (14de).

Bradshaw skryf Lotz se “oorrompelend kragtige, dog subtiele en genuanseerde, vertolking” is die spilpunt van Hermanus se “kompromislose en skokkende” eindproduk.

“Die krag en intensiteit van die rolprent, en die manier hoe Hermanus die rolprent se emosionele skommelinge beheer, is indrukwekkend. Lotz gee die storie ’n tragiese dimensie.”

Dit is dié raak beskrywing van sy karakter in Skoonheid, Francois van Heerden, wat Lotz aan Netwerk24 sê ’n riem onder die hart is.

“Ek is regtig trots daarop. Ek dink Oliver Hermanus as regisseur verdien ook ’n pluimpie,” sê hy.

“Die nice dinge wat hy (Bradshaw) gesê het, die pragtige beskrywing van die karakter – ek is baie trots, opgewonde en verheug dat die rolprent dié erkenning kry.

“Ek dink dit het meer erkenning oorsee as in Suid-Afrika gekry, so dalk sal dit ook hier plaaslike bewustheid skep vir die wonderlike rolprent wat Skoonheid is.

“Dit is ’n baie intense storie, en ek dink te min mense in Suid-Afrika het dit al gesien. Dit is tog ’n rolprent wat by Cannes was, wat tien jaar later steeds relevant is en steeds gekyk word, veral internasionaal.”

Skoonheid het wêreldwyd lof verdien en het in 2011 die Queer Palm-prys by die rolprentfees in Cannes gewen. Dit was ook Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die Oscars in 2012 in die kategorie beste buitelandse rolprent.

Benewens Lotz en Keegan sluit die rolverdeling Michelle Scott, Albert Maritz, Sue Diepeveen, Roeline Daneel, Drikus Volschenk en Morné Visser in.

The Guardian se top-20 Afrika-rolprente

Hier is Peter Bradshaw, die Britse koerant The Guardian se hoofrolprentresensent, se top-20-lys van Afrika-rolprente:

  1. 1. Abouna (Tsjad, 2002)
  2. 2. Touki Bouki (Senegal, 1973)
  3. 3. La Noire de . . . (Senegal, 1966)
  4. 4. Cairo Station (Egipte, 1958)
  5. 5. I Am Not a Witch (Zambië, 2017)
  6. 6. Atlantique (Senegal, 2019)
  7. 7. District 9 (Suid-Afrika, 2009)
  8. 8. Waiting for Happiness (Mauritanië, 2002)
  9. 9. The Battle of Algiers (Algerië, 1966)
  10. 10. The Season of Men (Tunisië, 2000)
  11. 11. Yeelen (Mali, 1987)
  12. 12. Yaaba (Burkina Faso, 1989)
  13. 13. Chronicle of the Years of Fire (Algerië, 1975)
  14. 14. Of Good Report (Suid-Afrika, 2013)
  15. 15. Skoonheid (Suid-Afrika, 2011)
  16. 16. The Wedding Party (Nigerië, 2016)
  17. 17. Letter From My Village (Senegal, 1976)
  18. 18. Divine Carcasse (Benin, 1988)
  19. 19. The Nightingale’s Prayer (Egipte, 1959)
  20. 20. Borders (Burkina Faso, 2017)


Meer oor:  Deon Lotz  |  Fliek  |  The Guardian  |  Oliver Hermanus  |  Neill Blomkamp  |  Flieks  |  Skoonheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.