Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
3 uiteenlopende flieks vir fliekvlooie
Yifei Liu vertolk die hoofrol in die skouspelagtige Disney-aksiedrama ‘Mulan’.

Vandeesweek se groot uitreiking is Disney se langverwagte aksieprent en loketbreker Mulan.

Dit is ’n verwerking van die animasieprent van 1998, wat op ’n eeue oue Chinese legende gegrond is, dié van Hua Mulan. Die jong Chinese vrou het haarself as ’n man vermom om as soldaat in die keiserlike leër te veg. Sy het die aanvoerder van die leër geword en haar manskappe in talle veldslae aangevuur. Mulan het genoodsaak gevoel om in die plek van haar siek pa te gaan veg om haar familie se eer te bewaar, tog kon sy nooit haar ware identiteit bekend maak en so haar familie in oneer bring nie.

Die regisseur Niki Caro, bekend om die flieks Whale Rider en The Zookeeper’s Wife, meen die boodskap van Mulan is veral gepas in die tyd van die koronaviruspandemie.

“Mulan herinner ons aan die waarde van lojaliteit, dapperheid, asook die soeke na die waarheid en wat dit beteken in ons lewe,” het sy in ’n onderhoud gesê.

Yifei Liu vertolk die hoofrol en Yoson An vertolk die rol van Mulan se geliefde.

Caro se rolprentspan is gelei deur vroue, dit is verfilm met ’n begroting van $200 miljoen, die meeste geld wat tot nog toe aan ’n vroueregisseur toevertrou is, sê Caro.

Dit is in Caro se vaderland, Nieu-Seeland, asook in China, verfilm. Die kyker kan verstommende oorlogstonele, asemrowende landskappe en akrobatiese gatskop-aksie, wat sterk steun op Oosterse vegkuns, verwag. Tog beloof Caro dat kykers midde-in die verbysterende epiese verhaal ’n hart sal vind wat warm klop.

Fliekvlooie kan dit ook op die Imax-skerms beleef.

Die Amerikaanse ‘Saturday Night Live’-ster Pete Davidson se lewe is die inspirasie vir die rolprent ‘The King of Staten Island’.

• The King of Staten Island is ’n semi-outobiografiese komediedrama met die Amerikaanse komediant en ster van Saturday Night Live Pete Davidson in die hoofrol.

Die fliek volg Scott (Davidson), ’n verlore man van Staten Island, New York, wat rondval, dwelms gebruik, heeldag rondkuier saam met sy vriende en droom om ’n tatoe-kroeg oop te maak. Soortgelyk aan Scott was Davidson se pa ook ’n brandweerman. Hy is as ’n held dood in die 9/11-terreuraanval op New York, iets wat Davidson nog nie kon verwerk nie. Davidson beskryf die fliek as ’n liefdesbrief aan sy ma, wat hom en sy suster alleen grootgemaak het en sê dat hy met die fliek die dood van sy pa finaal wil probeer verwerk. Die prent is opgedra aan sy pa, Scott Davidson. Davidson se oupa is ook in die fliek te sien, so ook die regisseur Judd Apatow se dogter Maude. Dit is dus ’n “familiebesigheid”. Davidson het op 16 as ’n komediant begin optree. Apatow is bekend om sy mengsel van ernstige sake met absurde komedie wat dikwels aanstoot gee. Dink aan flieks soos This is 40, Knocked Up en The 40-year-old Virgin en die Netflix-reeks Love.

Die resensent Adam Holz van Plugged In beskryf die fliek as snaaks, outentiek, pynlik, problematies en dat dit aanstoot kan gee. Johnny Oleksinski van die New York Post skryf dat hy net vir Davidson ’n drukkie wou gee nadat hy die fliek gesien het. Ander spelers is Marisa Tomei en Steve Buscemi.

• Padwoede, enigeen wat dit al ervaar het, of ’n getuie daarvan was, weet dat dit ’n uitbeelding van die menslike aard op sy lelikste is.

In die sielkundige riller Unhinged ontspoor ’n ma en haar jong seun se dag as hulle die teiken word van ’n maniak op ’n tog van vergelding. Dit is asof iets in die man losgeskeur het toe Rachel (Caren Pistorius) haar toeter vir hom blaas in spitsverkeer. Alle hel bars los. Die fliek volg volgens resensente ’n hoogspanningsdraad wat eers aan die einde ’n bietjie skiet gee. Tog sal niemand se lewe dieselfde wees nadat die man hul pad gekruis het nie. Die Oscar-bekroonde akteur Russell Crowe, wat die hoofrol vertolk, het in ’n nota aan die media gesê die fliek beeld alles wat verkeerd is met die Westerse samelewing uit en dat dit ’n les in die noodsaaklikheid van woedebeheer is. Die regisseur is Derrick Borte, wat ook die regie van The Joneses behartig het.

Russell Crowe in ’n toneel uit die riller ‘Unhinged’ waarvan die storielyn handel oor ’n padwoede-voorval.

Terloops, die 29-jarige Pistorius is in Suid-Afrika gebore en het op 12-jarige ouderdom na Nieu-Seeland verhuis.

Die tydsduur van die fliek is 91 minute en die ouderdomsbeperking is 16 vir geweld.

Meer oor:  Unhinged  |  Mulan  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.