Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Jonk, maar haar flieks gryp wêreld aan

Agter die welslae van twee Suid-Afrikaanse rolprente in die internasionale arena is ’n jong vrou met ’n besonderse talent. Cait Pansegrouw het aan Elretha Britz vertel wat dit van ’n vervaardiger vereis om sukses te behaal.

Die rolprentvervaardiger Cait Pansegrouw op stel. Foto: Verskaf

Watter gawe verg dit om op 32 jaar reeds verskeie flieks te kon vervaardig wat die belangrikste pryse op die mees gerekende internasionale filmfeeste opraap?

Dié vraag is voorop in jou gedagtes wanneer jy verneem This is not a Burial, it’s a Resurrection het vanjaar reeds 15 pryse gewen – almal in vername kategorieë, naamlik beste regie, beste rolprent en beste aktrise.

Die vervaardiger is die een wat die visie moet hê om moontlike sukses te kan bepaal lank voordat die kameras begin rol.

Cait Pansegrouw is ’n vervaardiger met ’n ingebore gawe. Nie net ryg Resurrection die pryse in nie, sy was ook die vervaardiger van Inxeba (The Wound) (2017) wat 28 pryse ontvang het, en die Afrikaanse fliek Stam (2020) wat vanjaar op die Durban Internasionale Filmfees die prys vir die beste Suid-Afrikaanse fliek ontvang het.

Pansegrouw vertel vandat sy kan onthou, kyk, lees en slaap sy rolprente. “Ek is obsessief oor rolprentkuns en het as kind soveel kere flieks gekyk dat die bande later gedisintegreer het.”

Die gawe wat haar op ’n jong ouderdom reeds internasionale sukses laat behaal, is om “die groter prentjie te kan sien”. Sy sê sy kan die potensiaal van ’n fliek insien al is dit nog net ’n idee, en dan kan sy ook vooruit bepaal hoe of waar so ’n prent ná voltooiing sowat drie jaar later in die internasionale mark sal pas.

Dit is van dié faktore wat tot die reusesukses van Inxeba (The Wound) en Resurrection bygedra het. Natuurlik is daar ’n menigte ander aspekte wat ook ’n rol speel, soos die draaiboek, regie, toneelspel, fotografie en die verhaal, waarby sy in sommige gevalle ook betrokke is.

Die regisseur Lemohang Jeremiah Mosese wat in Lesotho grootgeword het. Foto: Verskaf

Dit was Pansegrouw se besluit om Lemohang Jeremiah Mosese as regisseur te gebruik, ’n man wat nie ’n dag se opleiding in rolprentkuns het nie en voor Resurrection geen ervaring van ’n fiksieprent gehad het nie.

Benewens dat hy grootgeword het in Lesotho waar Resurrection afspeel, is hy volgens Pansegrouw “ ’n uitsonderlike, self-opgeleide kunstenaar. Toe ek op Jerry besluit het, het hy nog net kort tuisflieks geskiet wat hy self geskryf, verfilm en geredigeer het. Hy het nooit medewerkers gehad het nie; hy het altyd alles self gedoen en dit is hoe hy geleer het.”

Al het dié kunstenaar, wat die afgelope jare in Berlyn woon, tot in daardie stadium niks noemenswaardig in die filmbedryf gelewer nie, “het ons onmiddellik by mekaar aanklank gevind. Hy het ’n onblusbare geesdrif vir die rolprent en ’n unieke ‘stem’; ek het besef daar lê hope potensiaal in hom opgesluit,” sê Pansegrouw.

Haar keuse van akteurs speel ook ’n rol in die sukses. Pansegrouw het die hoofrol aan die fenomenale Mary Twala toegeken, wat nie sonder rede nie verskeie kere al bekroon is – vir Resurrection helaas postuum. Twala is in Julie vanjaar in die ouderdom van 80 jaar oorlede.

Mary Twala in “It’s not a Burial, it’s a Resurrection”. Foto: Verskaf

Ander spelers in Resurrection is die deurwinterde Jerry Mofokeng en enkele aansienlik minder ervare spelers. Die res is mense in die afgeleë plattelandse gehuggie hoog in die Lesotho-berge waar die fliek verfilm is.

Pansegrouw sê hulle het vyf weke lank in die wonderbaarlike mooi omgewing geskiet, maar nie sonder uitdagings nie. Daar is geen elektrisiteit nie en net puttoilette.

Die tema vir die fliek spruit uit gebeure in Mosese se kinderjare toe hul gesin uit hul huis gesit is.

“Dit was vir my so ’n gemis dat ek dikwels teruggegaan het en speelgoed gesteel het van die kinders wat toe daar gewoon het. My hart het nooit daardie plek verlaat nie en ek kan steeds elke groefie in ons eertydse mure onthou. Lank daarna het dit nog gevoel of iets van my weggeneem is.”

Resurrection handel oor Mantoa, ’n 80-jarige weduwee wat deur ontruiming in die gesig gestaar word. Ná die dood van haar seun in ’n myn in Suid-Afrika het sy voorbereidings vir haar dood begin tref, onder meer om in die plaaslike begraafplaas begrawe te word.

Sy was nog daarmee besig toe die nuus hulle bereik dat sy en die ander dorpenaars hervestig gaan word om plek te maak vir ’n dam. Dié dam sal ook die begraafplaas insluk.

Mantoa besluit om haar teen die projek te verset om sodoende haar mense en hul tradisies te red, ’n stryd wat haar opnuut rede gee om te leef.

Mosese sê hy is nie vir of teen vooruitgang nie. Hy “stel meer belang in die psigologiese, spirituele en maatskaplike elemente wat dit meebring en in die fliek uitspeel.”

Volgens Pansegrouw vind buitelanders sterk aanklank by die tema van ontheemding, wat in onder meer die beoordelaarsverslag op die Reikjavik Internasionale Rolprentfees weerklank gevind het.

Dit lui: “Die onderwerp (ontruiming) hou verband met huidige tye waarin plattelandse gebiede in die naam van vooruitgang verdwyn.” En voorts: “Die verstommende vertolking van Mary Twala, die wonderlike klankontwerp en die onvergeetlike beelde van die kinematograaf Pierre de Villiers ondersteun mekaar om hierdie epiese prent te lewer.”

Pansegrouw sê: “Amerikaners en ander buitelanders het al stories oor en in Lesotho verfilm; dit is egter die eerste keer dat ’n boorling van die land ’n vollengte fiksieprent gemaak het wat ten volle in die land afspeel.”

  • This is not a Burial, it’s a Resurrection word in 2021 op die kringloop bekend gestel.
Meer oor Cait

Cait Pansegrouw (32) het in KwaZulu-Natal se Middellande grootgeword en rolprentkuns aan Afda in Kaapstad studeer.

Sy is passievol oor die identifisering en ontwikkeling van talentvolle kunstenaars en het saam met haar sakevennoot, Elias Ribeiro van Brasilië, die Realness Institute gestig waar jong rolprentmakers leiding kry.

Inxeba (The Wound), met vervaardiging en rolverdeling deur haar, is op meer as 60 feeste vertoon en het 28 pryse gewen.

Inxeba is ook gekies as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir ’n Oscar as beste buitelandse rolprent en het die kortlys gehaal.

In 2018 het Pansegrouw op die Mail & Guardian se lys van 200 top- jong Suid-Afrikaners verskyn.

Sy en Elias Ribeiro besit die produksiemaatskappy Urucu.

Feeste en pryse

This is not a Burial, it’s a Resurrection is met pryse op die volgende internasionale filmfeeste bekroon:

  • Athene: beste rolprent, beste regisseur.
  • Guanajuato: spesiale jurieprys vir beste aktrise – Mary Twala.
  • Hongkong: beste regisseur, beste jong regisseur, beste aktrise – Mary Twala.
  • Portland, VSA: jurieprys, Lemohang Jeremiah Mosese.
  • Reikjavik: beste regisseur.
  • Sundance: jurieprys vir visionêre rolprentkuns, Lemohang Jeremiah Mosese.
  • Taipei: wenner, nuwe talent – Lemohang Jeremiah Mosese.
  • Durban: beste regisseur, beste aktrise, artistieke dapperheid.
  • België, Mooov: beste rolprent.
  • Santiago: beste regisseur.

Die fliek gaan op meer feeste vertoon word en staan dus ’n kans om nog pryse te wen.


Meer oor:  Mary Twala  |  Jerry Mofokeng  |  Lemohang Jeremiah Mosese  |  Inxeba  |  Fliek  |  The Wound  |  Stam  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.