Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
90 minute van Alison se helder waagmoed

Alison

Hibriede rolprent: Dokumentêr met fantasie-elemente

****

Monsters kom in verskillende gedaantes. Helde ook. Meestal ontmoet hulle in ­feeverhale maar deesdae kruis hul paaie al hoe meer in die werklike lewe.

In 1994 was daar so ’n ontmoeting wat vandag nog helder voor die oog staan. Aan die een kant weens die verskriklike wreedheid waartoe ’n mens in staat is. Aan die ander kant vanweë die heldeverhaal wat daaruit gespruit het.

Noem die naam Alison en daar is min mense wat nie dadelik weet wie sy is nie. Die vrou wat verkrag is, wat meer as 30 keer met ’n mes gesteek is, wie se keel afgesny is en hoe sy teen alle verwagting in oorleef het.

Foto:

En nie net het sy oorleef nie, maar sy vertel haar verhaal aan soveel moontlik mense om hulle te inspireer, om hulle te begeester.

So min of meer in die tyd waarin jy na die rolprent kyk, word daar weergegee hoe 90 minute in haar lewe Alison Botha se lewe vir altyd verander het.

Die regisseur Uga Carlini en Alison het besluit dat hierdie ’n ­feeverhaal gaan wees. Fantasie-elemente, animasie en gedramatiseerde tonele maak een deel van die rolprent uit.

Aan die ander kant is daar mense wat deel van die hele ­ondervinding was wat uit die hart praat oor hoe die gebeure ook hul lewe beïnvloed en ­verander het.

In die rolprent word hulle genoem The Knight (Tiaan ­Eilerd), The Sandman (dr. ­David Comyn), The Maiden (vriendin Rashmi Raga), The Sage (regter Chris Jansen), The Protector (staatsaanklaer Hannelie Bakker), The Wizard (dr. Dimitri Angelov), The Bard (skrywer Marianne Thamm) en The Guardian (die speurder Melvin Humpel).

Hoekom elkeen hierdie titel gekry het, kom duidelik uit hul vertellings na vore. Dis ook van die aangrypendste dele in die rolprent. Die dokter wat Alison die aand in ongevalle die eerste keer gesien het se oë skiet ná twee dekades nog vol trane. Die speurder vertel dat hy nie die twee verkragters geboei het nie. Hy wat nog nooit iets doodgeskiet het nie, wou hê hulle moet probeer vlug om sy wraak te kon neem.

Dis maar twee mense wie se lewens onherroepelik verander het toe hul paaie met hare gekruis het.

’n Mens kom ook onder die indruk van Alison se eie lang en moeilike pad na herstel wanneer sy self aan die woord is. En ongelukkig is daar nie soos in die meeste sprokies vir haar ’n gelukkige einde nie. Sy erken haar swakhede, maar laat die blywende boodskap: wat met jou as mens gebeur, maak of breek jou nie. Alles hang af van die keuses wat jy maak.

Die keuse om die geweld en die gebeure self te onderspeel en die positiewe in die kollig te plaas maak van die rolprent meer as net ’n onvergeetlike ondervinding.

Dit voel asof jy jou eie klein deeltjie van Alison se moed en deursettingsvermoë saamvat huis toe.

Dis ’n rolprent oor ’n buitengewone vrou wat op ’n baie dapper manier aangepak en verfilm is. Wonderwerke is gelukkig nog deel van die lewe.

Regisseur: Uga Carlini. Met die akteurs Christia Visser, Zak Hendrikz, Francois Maree en De Klerk Oelofse. Asook werklike rolspelers in die gebeure. Tydsduur: 90 minute. Ouderdomsperk: 13(SG).

Meer oor:  Fliek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.