Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Boere in Argentinië op silwerdoek
Jan Schlebusch op sy plaas in Patagonië. Schlebusch is ’n nasaat van een van die Boere wat hulle ná die Anglo-Boereoorlog in Patagonië in Argentinië gevestig het.

Die Suid-Afrikaners wat meer as ’n eeu gelede na die barre suide van Argentinië uitgewyk het, het gelei tot ’n dokumentêr en musiekspel wat binne die volgende maand te sien sal wees.

Die dokkie The Boers at the End of the World van die vervaardiger Kelly Scott word die eerste keer op die Silwerskermfees van 26 tot 29 Augustus in Kaapstad vertoon.

Op die Aardklop-kunstefees vroeg in Oktober in Potchedfstroom open die akteur Drikus Volschenk se musiekspel Die Grond van die Wind. Elize Cawood is die regisseur en Dawid Minnaar het Volschenk met die teks gehelp.

Die sowat 650 Boere wat hulle tussen 1902 en 1908 in Patagonië gevestig het, het hul geboorteland verlaat uit protes teen die Britse bewind en nadat hul plase in die Anglo-Boereoorlog afgebrand is.

In die hart van die afgeleë Patagonië het hulle ’n gebied gevind wat hulle aan die Karoo herinner het. Dit is ’n windverwaaide en ongenaakbare stuk wêreld waar kinders en kleinkinders van die Boere-pioniers steeds woon. Net enkele van die oudstes praat nog ’n argaïse Afrikaans, maar hulle sing steeds Sarie Marais en bak gereeld melktert.

Scott sê die moeilikste van die projek was die logistiek. Op vier reise om Patagonië in die verskillende seisoene te ervaar het hulle 40 vlugte geneem en sowat 6 000 km afgelê. Dit het hulle egter ’n goeie idee gegee van die toestande wat die Boere moes verduur – skroeiende hitte, huilende wind, stofstorms en sneeu.

“Baie trane is gestort toe dié afgesonderde mense hul storie vir ons in Afrikaans kon vertel. Dit was ook hartroerend om te hoor hoe graag hulle Suid-Afrika sou wou besoek,” het die regisseur Richard Finn Gregory gesê.

Afrikaanse vanne wat in Patagonië aangetref word, is Van der Merwe, Kruger, Visser, Botha, Myburgh, De Lange, Norval, Henning, Grimbeek, Venter en Schlebusch.

Die dokumentêr is moontlik gemaak deur die oorweldigende reaksie in ’n veldtog vir skarefinansiering. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.