Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Hollywood in My Huis ’n ‘intens persoonlike verhaal’, sê regisseur
Christia Visser en Edwin van der Walt vertolk die hoofrolle in Hollywood in My Huis. Foto: Jesse Kramer

Die Afrikaanse romantiese komedie Hollywood in My Huis tref op 26 Junie die silwerdoek landwyd, maar die lokprent is reeds Vrydag uitgereik.

Die rolprent vertel die storie van ’n doodgewone matriekmeisie, Jana van Tonder (Christia Visser), en haar ouers, Beatrice en Tos van Tonder (Nicola Hanekom en Louw Venter), asook haar beste vriend, Frikkie (Edwin van der Walt), wat saam met sy ouma aan die verkeerde kant van die spoorlyn woon.

Jana se pa is werkloos en haar ma bedryf ’n skoonheidsalon in ’n karavaan in die voortuin. Die volwassenes se drome is verpletter, tog styg Jana se drome ver bo haar beskeie omstandighede uit.

Dit is 2004 en haar matriekafskeid is om die draai. Wanneer sy op televisie sien hoe Charlize Theron die Oscar wen, besluit sy daar en dan om haar matriekafskeid in haar eie Hollywood-glansgeleentheid te omskep, kompleet met ’n rooitapyt.

Dit is ’n besluit wat haar voor moeilike keuses te staan bring en dwing om met die werklikheid van die lewe kennis te maak. Sy is heimlik verlief op Brandon (Viljé Martiz) – die skool se hartebreker en tenniskampioen – en is vasbeslote om hom te vra om saam met haar matriekafskeid toe te gaan, selfs al het hy pas met die skool se gewildste meisie, Angelique (Leandie du Randt), uitgemaak.

Jana ontsien geen moeite nie en kom in die proses nie eens agter dat Frikkie sy ware gevoelens vir haar probeer wys nie.

Dit het nege jaar geduur voor die regisseur, Corne van Rooyen, sy kortprent Hollywood in My Huis, wat hy as student aan die rolprentskool Afda gemaak het, in ’n vollengtefliek kon omskep.

Die inspirasie vir die rolprent oor ’n jong tienermeisie wat groot drome koester en besef sy moet net dapper genoeg wees om haarself te wees, put van Rooyen uit sy eie kinderjare in Silverton, Pretoria.

Hy sê baie van die gegewe en die karakters is op daardie jare geskoei. Aspekte van sy familie en vriende is te vind in Hollywood in My Huis.

“Dit is eintlik ’n hoogs persoonlike verhaal,” erken hy.

Dit het bykans twee en ’n half jaar geduur om die regte akteurs vir die hoofrolle te vind. Oor Christia Visser, wat ook tans in Ballade vir ’n Enkeling as Lena Aucamp jr. te sien is, sê Van Rooyen: “Ek het geweet ek gaan nie maklik ’n beter Jana as sy kry nie. Sy werk vanuit haar onderbewuste, sy gee nie voor nie. Daar is ’n eerlikheid en varsheid aan haar vertolking.”

Dit het net so lank geneem om die ongekunstelde Frikkie te vind. Van Rooyen het by universiteite, skole, agentskappe en selfs op Facebook na die gepaste kandidaat gesoek. Toe sien hy vir Edwin van der Walt (ook nou in Ballade vir ’n Enkeling as Jacques Rynhard jr.) in ’n kortfliek raak.

Hy het tydens ’n oudisie hom teenoor Visser laat speel. “Elke oomblik daarin was hy eg, asof hy die rol sonder moeite speel,” sê Van Rooyen.

Ander sterre wat in die rolprent te sien is, is Elana Afrika-Bredenkamp, Lida Botha en Marga van Rooy.

Die rolprent is hoofsaaklik in die voorstad Vasco in Kaapstad en by die Hoërskool Brackenfell geskiet. Tonele is ook by Fisantekraal en Observatory verfilm.

Hollywood in My Huis word op 26 Junie landwyd uitgereik.

Vir meer inligting, besoek die ​Facebook-blad of ​amptelike webtuiste.

■ Kyk hier na die lokprent:

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.