Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Kollig op bekroonde Foster-broers
Craig Foster.
Damon Foster.

Meer as 50 internasionale bekronings staan op die kaggelrakke van die Suid-Afrikaanse dokumentêre rolprentmakers, Craig en Damon Foster.

Sense Africa, ’n ­spesiale oorsig van 11 van die regisseurbroers se rolprente draai onder hierdie vaandel in die Labia-bioskoop van 16 tot 22 Februarie.

Die broers ondersoek al vir twee dekades die fragiele ­verhouding tussen die mensdom en die natuur en laat spesifiek die kollig val op Afrika se inheemse erfenis.

Die dierefluisteraar Anna Breytenbach, niggie van die digter Breyten Breytenbach, is die fokus van die Foster-broers se jongste dokumen­têre rolprent.

Hierdie prent The Animal Communicator open die rolprentfees Sondagaand in die Baxter-teater voordat die fees Maandag na die Labia-bioskope in Oranjestraat verskuif.

Belangstellendes kan na ­afloop van die vertoning in die Baxter regskuif vir ’n praatjie deur Breytenbach waarna sy ’n paneelbespreking met die Fosters sal ­aanbied.

Al die vollengte-dokkies van die broers word vertoon. Dit is The Great Dance (2000) en Cosmic ­Africa (2002) wat op kosmologie in Afrika fokus, asook prente wat nog nie voorheen in Kaapstad gedraai het nie soos Iceman oor die ysswemmer Lewis Pugh en Sharkman, oor Michael ­Rutzen van Gansbaai wat saam met die withaaie swem.

Benewens hierdie prente draai My Hunter’s Heart oor die Khomani San van die ­Kalahari; Into the Dragon’s Lair (2010) oor die krokodille in die Okavango-delta; Touching the Dragon (2012) oor ’n sjamaan van Costa Rica se vriendskap met Poncho, ’n reusekrokodil; Africa Un­bottled (2001) fokus op die kwynende wildlewe in nege Afrika-lande; Nature of Life (2009) handel oor volhou­baarheid en Antarctica (2008) ­fokus op die wit woestyn en die Suid-Afrikaanse wetenskaplikes wat daar werk. Die vertonings word met ’n ­bespre­king en vraetyd afgesluit.

Die Sense Africa-program word Sondag 22 Februarie afgesluit met die bekendstelling van die broers se jongste projek, The Sea-Change Project. Kykers sal seldsame beeld­materiaal onder water in Valsbaai kan besigtig.

Sense Africa is ’n gesamentlike projek deur Exploring Consciousness, While You Were Sleeping en die Labia.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.