Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
KYKNET SE SILWERSKERM-ROLPRENTFEES
Nuwe diepte in Afrikaanse films geopenbaar
Anna (Charlene Brouwer) in die bekroonde speelfilm Dis ek, Anna.Foto: Verskaf
Shoki Mokgapa in Sink het ­uitstekende spel gelewer.

 Die Afrikaanse rolprent reageer oplaas met gesag op die gewigtige pro­blematiek van die Suid-Afrikaanse samelewing.

As daar een gevolgtrekking is wat vanjaar uit baie monde op die vyfde Silwerskermfees in Kampsbaai gehoor is, is dit juis dit. Die kleinhuisie, opgooi­grappe, rugbyversotheid, kalwerliefde of die ­opwarm van Hollywood se ­romantiese komedie-resep was nêrens in sig nie.

Onder die sewe speelfilms en 15 kortprente was gewig­tige ­dramas, skalkse komedies en bittersoet romanse met ­draaiboeke wat spelers en ­gehore uitdaag.

Vier uit die sewe nuwe speelfilms is gegrond op ­bestaande romans en is ­uitstekend verwerk en aan­gepas vir die silwerdoek.

Die prente verantwoordelik vir die meeste gons was Sara Blecher se Dis ek, Anna, Brett Michael Innes se Sink en ­Sean Else se ’n Man soos my Pa. Anna, wat handel oor kindermolestering teen die aktualiteit van kinderverkragting in Suid-Afrika, is as beste speelfilm vereer. Volgens die vervaardiger Niel van Deventer is die prent tot einde ­vanjaar uitgeboek op inter­na­sionale feeste. Weer ’n ­bewys dat as ’n rolprent spreek tot die mense in sy ­vaderland, dit kán reis – en ver.

Sink, ’n donker drama oor vergifnis en verlossing, met uitstekende toneelspel gaan dieselfde pad oorsee loop.

Benewens dié temas word manlikheid in krisistye ook ondersoek met Anna, ’n Man soos My Pa, Sweisbril en Verskietende Ster, die rol van ­sosiale media in mense­verhoudinge in die kortprente ­Konneksies en Van Lyn af en die mite van die reënboog­nasie in Skewe Reënboog.

André Velts se tienerprent Die Pro beweeg uit die ­ge­wone vaarwater vir tieners en hanteer verlies en die rou­proses met ontsag en deernis.

Die rolprent is ook gebruik as preekstoel soos in Regardt van den Bergh se Uitvlucht en Darrell James Roodt se Verskietende Ster.

Kortprente wat uitstaan, is Marcel van Heerden se Vryslag, ’n perfekte klein prent oor ’n enkelpa se stryd om sy kind se skoolgeld te betaal, Gérard Rudolf se Sweisbril, na ’n kortverhaal van Jaco Botha oor ’n gebroke man wat nie die verlies van sy vrou en kind kan verwerk ná ’n egskeiding nie.

Opvallend is die vaardigheid in alle fasette van die kuns van rolprentmaak van redigering tot kinematografie.

Treffend opnuut was die ­gehalte van die toneelspel waar die populêre gedagte dat SA akteurs nie fiks is vir ­gewigtige rolle nie, weerlê is in die geskakeerde spel van Neels van Jaarsveld, Shoki Mokgapa, Antoinette Louw, Roeline Daneel, Chanelle de Jager, Albert Maritz, Anel Alexander, Charlene Brouwer, Jana Strydom, Edwin van der Walt en Rudolf. Baie van hulle het in meer as een rol beïndruk. Die sterker ­rolle vir vroue was ook op­vallend en mans in ander gedaantes as die stereotiep ook.

Die ensemble spelers van ’n Pawpaw vir my Darling ­verdien ’n goue papaja vir hul werk aan die komedie wat nooit hondsdol raak nie, danksy hul trefspel.

Uitreikdatums: Die Pro (18 September); Abraham (16 Oktober); Dis ek, Anna (23 Oktober), ’n Man soos my Pa (20 November), ’n Pawpaw vir my Darling (8 Januarie), Sink (18 Maart) en Verskietende Ster (27 April).

■  Al 15 kortprente draai in Januarie op kykNET.

‘Rolprente word met entoesiasme ontvang’

Ludwig Binge en Roeline Daneel in ’n toneel in Foto.
Linsen Loots

Die 29-jarige Linsen Loots, ’n elektroniese ingenieur van Kaapstad, het vanjaar sy ­eerste kortprent as regisseur aangepak.

Foto, ’n moderne riller wat afspeel in ’n boaardse mooi, dog kil Kaapstad het sommer ook daar en dan vir hom ’n benoeming as beste regisseur losgeslaan.

Niks vergelyk met die ­ongelooflike geleentheid wat die Silwerskermfees aan ’n jong rolprentmaker bied nie, vertel hy. “ ’n Mens kan met niks meer nie as ’n idee in die kop inskryf, en deur die proses gelei word om self ’n rolprent te voltooi en dit dan te wys op ’n platform waar omtrent die hele bedryf dit kan sien.” Loots het veral die ondersteuning wat die fees bied, geniet.

“Rolprente word met en­toe­siasme ontvang. Dit gee ’n mens ’n nuwe idee van wat moontlik is, en die dryfveer om groter projekte aan te pak.”

Loots meen die Afrikaanse filmbedryf doen ongelooflik goed, nie net wat die produksiegehalte van die prente ­be­tref nie, maar ook die ­stories en onderwerpe wat aangespreek word. “Dit voel asof ons uiteindelik weg­beweeg van ’n reeks romantiese komedies en begin om flieks te maak wat werklik iets kan sê oor wat dit ­beteken om in Suid-Afrika te bly, en dalk selfs vir ons help om die kom­pleksiteite daarvan beter te verstaan.” Hy hoop om in die volgende jaar ’n vollengteprent te skiet.

Loots het ook redigering as agtergrond, en het pas sy eerste vollengtefilm, die brander­plankryprent Die Pro, geredigeer. Dit is egter regie wat hom trek. “Dit is die kans om alle ­aspekte van ’n film te kan saamtrek en in ’n enkele rigting te stuur. Om die een te wees wat sorg dat al die ­verskeie afdelings saamwerk om ’n wonderlike ervaring vir die kyker te bied.”

Foto speel in ’n fantasiewêreld af. “Al is die wêreld baie ­bekend wou ek sorg dat die visuele voorstelling ­daarvan dit ondersteun.

“Die ­gevoel wat ek wou skep, is dié van ys in die winter – skoon, glad, met baie weerkaatsings en ’n groen en blou palet. Met dit in gedagte het ons gesoek vir omgewings, klere en dekor wat dit ondersteun. Dit was baie belangrik om dieselfde gevoel deur die hele fliek te trek om op ’n subtiele manier vir die kyker van die fantasie bewus te hou.”

Prente wat buite die groewe lê

Tina Kruger

 Die Silwerskermfees bied die geleentheid om stories te ­vertel wat nie “in die groewe van die tradisionele Afrikaanse rolprent inpas nie”.

“Ons kan dit hier doen sonder die druk om baie geld by die loket te maak of ­beleggers tevrede te hou.”

Só sê Tina Kruger, eersteling-regisseur van die verhoudingsdrama Beurtkrag.

Die reëls van die fees eis dat ’n mens nie twee jaar ná mekaar in dieselfde hoe­danigheid mag inskryf nie.

“Verlede jaar het my draaiboek Stom by die fees as kortfilm gespeel, en daarom moes ek vanjaar ’n ander hoed opsit om in ag geneem te word.”

Stiaan Smith het haar ­gevra of sy die kortprent wou regisseer. “Al die ­vlinders in my maag het ­bollemakiesie geslaan: Ek was nog altyd te bang.”

Met ’n “droomspan” agter haar is sy nou baie bly oor die sprong. Die kortprent is vereer vir die draaiboek ­geskryf deur Smith.

Vanjaar se fees was ’n ­bewys dat die Afrikaanse prent met rasse skrede vooruitgaan, sê Kruger.

“Stories word met integriteit en ’n verwerfde outoriteit vertel.

“Boonop ‘kruisbestuif’ ons lieflik met die res van die plaaslike filmbedryf.”

Sy meen dit is wonderlik dat meesters soos Brett Michael Innes, Sara Blecher, Shoki Mokgapa en Trevor Calverley by ’n oorspronklik Afrikaanse filmfees vereer word. Kruger werk tans as vervaardiger saam met Bouwer Bosch Films aan ’n speelfilm waarvoor Smith die draaiboek geskryf het.

“Stiaan speel hierdie keer die hoofrol teenoor Amalia Uys, en Corné van Rooyen [Hollywood in my huis] is die regisseur.”

Sy is ook aan die skryf aan die draaiboek van Die Storie van Irma en Sampie. Dié verhaal, bekend aan Huisgenoot-lesers, gaan volgende jaar as speelfilm ter viering van Huisgenoot se 100ste verjaardag uitgereik word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.