Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Oorlogfliek vol rugby op pad
Die krygers in die Afrikaanse oorlogsrolprent Modder en Bloed is, van links, Stian Bam, Marno van der Merwe, Altus Theart, Jacques Bessenger en David Louw. Foto: Jacques Loots

KAAPSTAD. – Boer teen Brit op die rugbyveld. ’n Afrikaanse oorlogsdrama met ’n kinkel bereik Suid-Afrikaanse bioskope in April volgende jaar.

Modder en Bloed speel af op die eiland St. Helena gedurende die Anglo-Boereoorlog en handel oor die Boerekrygsgevangenes daar wat hul Britse bevelvoerder se kampioenrugbyspan die stryd aansê. Só probeer hulle om ’n jong Boerseun van teregstelling te red.

Lees ook:

■ ​Sprokie in Afrikaans gou op silwerdoek

■ ​Nuwe diepte in Afrikaanse films geopenbaar

■ ​Rolprent moet Afrikaners laat praat, gesond maak

Dit is die afgelope winter in die Worcester-omgewing verfilm. Aan die stuur is die regisseur Sean Else van Platteland en ’n Man soos my Pa-faam.

Die hoofkarakter is Willem Morkel (Stian Bam), ’n Boerekryger wie se vrou en enigste kind gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) deur Britse soldate vermoor is. Sy plaashuis in die Colesberg-omgewing is ook afgebrand. Hy en ander krygs­gevangenes word in ’n Britse konsentrasiekamp op St. Helena aangehou onder bevel van kolonel Swannell (Grant Swanby), ’n man met ’n onblusbare haat vir die Afrikaner.

Van die bekende plaaslike akteurs wat te sien sal wees, is Bok van Blerk, Albert Maritz, ­Michael Richards, Edwin van der Walt, Jacques Bessenger, Altus Theart, Albert Pretorius en Deon Lotz.

Die Britse rolverdeling sluit onder meer in Charlotte Salt ­(Beowulf en The Tudors) en Patrick Connolly (Inferno).

Volgens Else was dit werklik ’n uitdaging om ’n duur periode-drama sonder ’n “Hollywood-begroting” aan te pak en die afgelope Worcester-winter was besonder straf.

“Die wind, die sand, die reën, die mis en die koue gedurende die lang, stormagtige aande het ’n getrouheid en werklikheid aan die prent verleen wat geld nie sou kon koop nie.”

Hy het die Worcester-gemeenskap geprys vir hul ondersteuning. “Ek weet nie waar begin ’n mens om dankie te sê aan almal wat deurgedruk het tot met die laaste kameraskoot nie.”

Die prent is ook in dele van Kaapstad verfilm.

  Modder en Bloed (Blood and Glory) word uitgereik in samewerking met kykNET Films en die departement van handel en nywerheid. Dit word op 1 April aanstaande jaar uitgereik.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.