Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
SA dokkiemaker in Amsterdam vereer
Die Suid-Afrikaan dokumentêre rolprentmaker Francois Verster. Foto: Argief

Francois Verster, ’n Suid-Afrikaanse vervaardiger van dokumentêre rolprente, se jongstefliek, The Dream of Shahrazad, is deel van die vooraanstaande meestersprogramop die internasionalefees van dokumentêre rolprente (IDFA) in Amsterdam.

Verster is die eerste plaaslike vervaardiger van dokumentêre rolprente om só vereer te word.

Sy dokumentêr, wat van 19 tot 30 November op die fees draai, belig die onlangse politieke woelinge in Egipte en Turkye aan die hand van die 1001 Nagte-verhale soos vertel deur Sjeherazade. Dié prinses het lewens gered deur die sultan met haar storievertellinge te begogel.

Die fliek is reeds hoog aangeskryf in Egipte. Dit is voor, gedurende en ná die sogenaamde Arabiese Lente daar verfilm en word as een van die beste prente oor dié land die afgelope paar jaar beskryf.

Die venster waarin Verster se fliek draai, word deur die fees self beskryf van “die room van die oes, nuwe prente deur vooraanstaande dokumentêre fliekmakers soos Frederick Wiseman, Victor Kossakovsky en Kim Longinotto”.

Verster is bekend vir Pavement Aristocrats, sy humoristiese, empatiese blik op Kaapstad se bergies, asook sy Emmy-bekroonde dokumentêr A Lion’s Trail waarin die oorsprong van die lied “Wimoweh/The Lion Sleeps Tonight” nagespeur word na die Zoeloe-komponis Solomon Linda.

Hoewel Linda arm gesterf het,maak Amerikaanse musikante baie geld uit die uitvoer van die lied. Die dokumentêr het die weg gebaan vir ’n hofsaak tussen Abilene Music en die Linda-familie,wat buite die hof geskik is.

Verster, wat sy rolprente ontwikkel uit regstreekse interaksie oor maande met mense, stel in sy jongste prent ’n Turkse dirigent bekend, asook ’n jong aktrise van Libanon, ’n ouer kunstenaar en ’n storieverteller van Alexandrië.

Hy ontwikkel die fliek al sedert 2006 met sy “karakters”. In sy regisseursnota skryf Verster dat daar van rolprentmakers van die ontwikkelende wêreld verwag word om rolprente oor hul regstreekse omgewing te maak.

“Met hierdie prent is ek opgewonde oor nuwe moontlikhede en die ondersoek van sosiale vraagstukke elders wat lig werp op my eie omgewing.”– Laetitia Pople

■ Kyk hier na 'n voorskou van The Dream of Shahrazad:

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.