Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘A Quiet Place’ lok gehore weer na rolprentteaters

Die riller A Quiet Place Part II, wat Vrydag in onder meer Amerika en Suid-Afrika uitgereik is, is besig om wonderwerke by die internasionale en die plaaslike loket te verrig.

Reuters berig die rolprent het in sy openingsnaweek by die Amerikaanse loket meer as $48 miljoen laat inrol – net-net minder as die bedrag wat kenners voor die pandemie voorspel het die rolprent in sy openingsnaweek sal verdien.

Neem in ag dat dié verdienste – glo ’n “pandemie-rekord” – aangeteken is ondanks die Covid-19-pandemie se houvas op die loket wêreldwyd én die feit dat slegs 75% van rolprentteaters in Amerika tans oop is.

“Dit is ’n ongelooflike opening,” het David A. Gross, bestuurder van Franchise Entertainment Research, aan Reuters gesê.

“Dit is bo die gemiddelde (verdienste) vir ’n gruwel-opvolgprent.”

A Quiet Place én sy opvolg vertel die verhaal van die Abbott-gesin wat probeer oorleef in ’n postapokaliptiese wêreld waarin blinde monsters enigiets wat ’n geluid maak grusaam doodmaak. Dít dwing die gesin – vertolk deur John Krasinski, Emily Blunt, Millicent Simmonds en Noah Jupe – om slegs te fluister, met gebaretaal te kommunikeer, en in hul alledaagse lewe nie ’n enkele geluid te maak nie.

Albei rolprente laat gruwelaanhangers wêreldwyd regop sit. Krasinski is reeds wyd vir sy draaiboek én regie van albei rolprente geloof, en sy jongste eindproduk is beskryf as die rolprent wat fliekgangers in die pandemie-era weer in hul hordes na rolprentteaters sal lok.

Brenda Murphy, ’n bestuurder by die rolprentverspreider UIP in Suid-Afrika, het aan Netwerk24 bevestig dat die rolprent oor die naweek R1 242 497 in Suid-Afrika verdien het.

Leon van Nierop, skrywer en resensent, het onlangs aan Netwerk24 gesê rolprentteaters in Suid-Afrika sal nie “doodgaan” nie omdat fliekgangers vir “loketreuse” en “groot kanonne” soos A Quiet Place Part II, The Conjuring: The Devil Made Me Do It, Cruella, Fast & Furious 9, Tom Cruise se Top Gun: Maverick en Mission: Impossible 7, asook Scarlett Johansson se Black Widow weer na teaters sal stroom.

“Dit is gemaak vir die reuse-skerms van groot teaters en ‘verdwyn’ op plasmaskerms (op TV’s),” sê hy.

“Dit is ook die soort rolprente wat jy met ander mense wil deel – die sogenaamde ‘sosiale ervaring’ – en daardie uitreikings sal bewys of mense sal teruggaan teaters toe.

“My mening: O ja, hulle sal teruggaan, want honderdduisende het vir Godzilla vs. Kong teruggegaan.”

Van Nierop se vermoede blyk in die kol te wees: Volgens Filmfinity, ’n plaaslike rolprentverspreider wat ’n oog op die Suid-Afrikaanse loket hou, was A Quiet Place Part II die afgelope naweek ook die toprolprent by die plaaslike loket. 

Brenda Murphy, ’n bestuurder by die rolprentverspreider UIP in Suid-Afrika, het aan Netwerk24 bevestig dat die rolprent oor die naweek R1 242 497 in Suid-Afrika verdien het. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.